Ma vertel oor seun (4) se ‘terugkeer uit die dood’

Klein Myburgh Roux het wonderbaarlik geen skade oorgehou van die beproewing wat hy deur is nie. (Foto: Verskaf)

Met sy ondeunde glimlag en sprankelende ogies lyk Myburgh Roux (4) soos enige ander kleuter.

ʼn Mens sou nie kon dink dit is minder as drie maande gelede dat sy ma sy lewelose lyfie uit ʼn swembad getrek het waar hy langer as vyf minute onder water was nie.

Met potblou lippe, hande en voete, ʼn geswelde gesiggie en geen teken van asemhaling nie, het dit gelyk asof die Roux-ouerpaar se ergste nagmerrie waar geword het. Maar toe kom die wonderwerke.

“Myburgh se storie is een van hoop, dit is een van geloof en dit is een wat vertel van God, die enigste waarmaker en wonderwerker,” sê Marzanne Roux, Myburgh se ma, aan Maroela Media. “Dit is hoekom ek vandag Myburgh se storie vertel, omdat ek hierdeur kan getuig hoe groot ons God is. Alle eer en lof kom net Hom toe.”

Marzanne onthou die gebeure op 13 Mei vanjaar so duidelik asof dit gister gebeur het. Sy het saam met haar twee kinders vanaf die plaas buite Witbank in Mpumalanga, waar haar man, Tielman, boer, gery om vir Lila (6) na haar balletklas op die dorp te neem. By die balletskool het Marzanne gou Lila se balletklere aangetrek, terwyl Myburgh en ʼn maatjie ʼn entjie verder weg gespeel het.

Die grasgroen swembad waarin Myburgh beland het. (Foto: Verskaf)

Sy vertel dit was tussen vyf en sewe minute nadat hulle by die balletskool aangekom het dat sy besef het Myburgh is nie meer naby haar nie. Sy het dadelik na hom begin soek en sy maatjie gesien wat by ʼn hekkie staan wat lei na ʼn ander erf. Dié erf is omring met ʼn hoë muur met doringdraad bo-op en die hekkie in die muur is gesluit.

“Ek het die maatjie gevra, ‘Waar is Myburgh?’, en hy het met sy vingertjie na ʼn swembad gewys aan die ander kant van die muur,” vertel Marzanne. Sy het onmiddellik besef wat gebeur het. Onder deur die muur loop ʼn reënwatersloot deur ʼn gat wat sowat drie bakstene hoog is. Myburgh het deur dié sloot en die gat in die muur gekruip om aan die ander kant uit te kom.

Die swembad was ongebruik en grasgroen – byna ononderskeibaar van die gras om die swembad. In die water het Marzanne Myburgh se rooi hempie gewaar. Hy het met sy gesig na onder in die water gedryf naby die kant van die swembad.

Myburgh is in die hospitaal gekoppel aan ʼn masjien wat sy liggaam se temperatuur op 34 °C gehou het. (Foto: Verskaf)

“Al wat ek kon dink, is ek moet my kind uit die water kry. Mense het my later gevra hoe het ek geweet ek moet deur die sloot kruip en ek kan nie verduidelik hoe ek geweet het nie. Dit was die Heilige Gees, want ek het net onmiddellik deur daardie gat in die muur gekruip, na die water gehardloop en my kind uitgetrek,” vertel sy.

“Sy wange was klaar erg geswel en sy voete, hande en lippe was potblou. Ek het nog nooit voorheen in my lewe KPR gedoen nie, maar het sy neusie toegedruk, by sy mond ingeblaas en twee keer op sy bors gedruk. Daar het onmiddellik water uitgekom. Toe het ek begin skree vir hulp.”

Op daardie oomblik het ʼn pa van een van die kinders by die balletskool stilgehou om sy dogter te kom aflaai. Hy het Marzanne se beangste gille gehoor, nader gehardloop en oor die hekkie gespring om by Myburgh te kom. Dié man het toevallig net ʼn paar dae vantevore by ʼn nuwe werk begin waar hy noodhulpopleiding moes ontvang. Hy het onmiddellik die mond-tot-mond-asemhaling by Marzanne oorgeneem en nie opgehou totdat die paramedici opgedaag het nie.

Paramedici van Legacy Emergency Specialists het opgedaag en onmiddellik aan die werk gespring om Myburgh te red. Teen daardie tyd het die seuntjie weer begin asemhaal, maar hy was steeds bewusteloos en sy asemhaling was baie swak. Paramedici het sy liggaam onmiddellik afgekoel om breinswelling te voorkom en hom geïntubeer voordat hy na ʼn hospitaal in Witbank gehaas is. Van daar is hy na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

‘Ek moes leer om op water te loop’

Daar in dié hospitaal se pediatriese waakeenheid het die emosionele stryd begin om Myburgh se lewe te red. Die seuntjie is in ʼn geïnduseerde koma geplaas en gekoppel aan ʼn masjien wat sy liggaam se temperatuur op 34 °C gehou het. Deur sy liggaamstemperatuur so laag te hou, is die kanse verminder dat die kleuter se brein sou swel.

“Die dokters kon glad nie vir ons sê of Myburgh enige breinskade opgedoen het nie. Dít sou ons eers kon weet wanneer hy wakker is,” sê Marzanne.

‘n Emosionele oomblik toe mamma Marzanne vir die eerste keer weer haar seuntjie kan vashou sedert hy in die hospitaal opgeneem is. (Foto: Verskaf)

Toe hulle op dag ses vir Myburgh onder sedasie uitgebring en hom van die ventilator afgehaal het, het sy longe platgeval en dokters moes hom noodgedwonge weer sedeer en terug op die ventilator plaas. Daar is toe vasgestel dat Myburgh ʼn virale longontsteking opgedoen het, moontlik weens die bakterie in die vuil swembadwater.

“Dit was ʼn baie traumatiese dag,” sê Marzanne. “Die dokters het vir ons gesê daar is niks méér wat hulle vir ons kind kan doen nie. Hy was aan masjiene gekoppel wat hom sistematies ondersteun het. Al wat ons kon doen, was bid en hoop dat sy longe weer werk.”

Sowat ʼn week later is daar weer gepoog om Myburgh van die ventilator af te haal en by te bring. “Hulle het hom daardie dag omstreeks 13:00 wakker gemaak en gewone suurstof toegedien. Die aand om 19:00 het ek en my man gou iets gaan kry om te eet toe die dokter bel. Hy het gesê ons kind cope nie. Hy hiperventileer en kry só erg onttrekking van die medikasie wat hy heeltyd ontvang het dat sy lyfie ruk en daar skuim by sy mond uitkom. Hulle moes hom weer sedeer en terug op die ventilator plaas,” sê Marzanne.

Donderdag 30 Mei – op Hemelvaartdag – was dit die 17de dag sedert Myburgh in die swembad beland het. Marzanne vertel dat ʼn vriendin op dié dag vir haar ʼn boodskap gestuur het om te sê dat die nommer 17 in die Bybel algehele oorwinning en oorwinning van die vyand simboliseer.

Die eerste keer toe ousus Lila weer vir Myburgh kon sien sedert hy in die hospitaal opgeneem is. (Foto: Verskaf)

“Ek het met nuwe hoop daardie oggend hospitaal toe gegaan en gehoor hulle gaan hom weer vandag probeer wakker maak. Hulle het hom onder sedasie uitgebring en van die ventilator afgehaal … en hy het self asemgehaal. Dít was die dag dat die Here hom vir ons teruggee het.”

Marzanne sê sy glo dat Myburgh 17 dae aan die Here se voete gekuier het. “Ek glo dat die Here in hierdie tyd geheimenisse met hom gedeel het, wat hy weer later met ons sal deel. En toe het die Here hom vir ons teruggegee.”

Myburgh was wakker, maar kon glad nie praat nie. Sy oë was glaserig, sy handjies was slap, hy het net in die verte gestaar en sy lyfie was stram. Dokters het nie geweet of hy breinskade het en of dit slegs die uitwerking van die medikasie is wat dit veroorsaak het nie.

“Ek moes daar leer om geestelik op water te loop. Ek moes net kies om te glo in iets wat nie bestaan nie, kies om te glo dat my kind 100% genees sal word, al was daar geen konkrete bewyse dat dit sou gebeur nie,” sê Marzanne.

Presies 21 dae ná die ongeluk is die ouerpaar huis toe met ʼn kleuterseuntjie wat steeds nie kon praat nie, slegs sagte kos kon eet en meestal net voor hom uitgestaar het.

Vier dae nadat hulle by die huis gekom het, het Marzanne wakker geword met Myburgh wat in ʼn hees stemmetjie vir haar fluister: “Mamma, kan ek bietjie pappies kry?”

Marzanne en Tielman by Myburgh in die hospitaal. (Foto: Verskaf)

“Die trane het geloop van dankbaarheid,” sê Marzanne. “Van daardie dag af was hy weer sy ou self. Sy lyfie was swak – hy was net vel en been toe hy uit die hospitaal kom – maar hy was weer die kind wat ons geken het. Hy het naderhand vaste kos begin eet, ál beter begin praat en weer soos altyd gespeel.”

Myburgh was sedertdien by ʼn spelterapeut, ʼn arbeidsterapeut en ʼn fisioterapeut, wat almal bevestig het hy het wonderbaarlik geen fisieke, emosionele of verstandelike skade van die voorval oorgehou nie.

“Hy het geen vrees of angs vir water nie, en hy verstaan die dood, maar is nie bang vir die dood nie,” sê sy. “Hy doen wel fisioterapie om sy lyfie net weer sterk te kry, maar daar is geen langtermynskade nie.”

En ja, Myburgh onthou die gebeure by die swembad baie goed. “Hy het later vir my vertel hy wou loop op die ‘uneven grass’ toe hy ‘geflip en geval’ het. As jy hom vra wat het toe gebeur, sê hy: ‘Mamma, ek het gestruggle.’ Hy onthou die plek van die ‘uneven grass’.”

Die Roux-gesin se harte loop vandag oor van dankbaarheid. (Foto: Janie Opperman Photography)

By Marzanne is daar geen twyfel dat Myburgh se wonderbaarlike herstel te danke aan die wonderwerke van die Here is nie. “My kind was dood. Hy was dood toe ek hom uit daardie swembad gehaal het. En vandag sal jy dit nooit eens weet nie,” sê sy.

“Elke dag as ek vir hom kyk, loop my hart oor van dankbaarheid. As ek sy gesiggie sien, sien ek God se goedheid en guns in ʼn mens se lewe. Ek staan verstom oor sy goedheid en genade.”

En dít is die boodskap wat die Roux-gesin nou met die wêreld wil deel.

“Nou die dag ry ek en Myburgh om vir pappa koffie te vat waar hy in die landerye werk, en ons ry verby ʼn spruit op die plaas. Myburgh vra my, ‘Mamma, daardie plek is mos water, nè?’ Ja, sê ek, dit is water. En hy sê vir my: ‘Het Mamma geweet Jesus bly in die water? Hy bly in ons harte, maar hy bly ook in die water.’”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

84 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos

Ek wil op dakke staan en skree “God is groot”!!!

CLIVE

Die Liewe Vader is darem maar Awsome !!!

Soltykat

Die Here is werklik goed en by Hom is niks onmoontlik nie

maryann

AMEN OP SO ‘N PRAGTIGE STORIE. ONS GOD IS GROOT

Alida X

Pragtige inspirerende verhaal.
Dankie ouers dat julle dit met ons deel en getuig.
As ons meer van Sy goedheid getuig sal ons dit meer glo en meer positief wees.