Ma vertel oor trauma van dogter se moord

Gabriela Kabrins se ma, Doris Weitz, en haar stiefpa, Alexander Williams. Foto: Courtney Africa/ANA

Die ma van die vermoorde Gabriela Kabrins Alban het Dinsdag in die Wes-Kaapse hooggeregshof beskryf hoe die dood van haar dogter haar gebreek het en hoe sy net self wou doodgaan nadat sy haar enigste kind verloor het.

Doris Weitz het aan die hof gesê Alban se dood was nie vinnig nie. “Dit was ʼn uitgerekte en opsetlike martelende proses. Dit was wreed.”

Weitz het getuig ter verswaring van vonnis in die verhoor van die Guatemalaanse man, Diego Dougherty Novella (45), wat skuldig bevind is aan die moord op Alban op 29 Julie 2015. Alban was ʼn Amerikaanse bemarkingsbeampte met wie Novella in ʼn romantiese verhouding was.

Alban is gewurg en aangerand in die hotelkamer in Kampsbaai waar die paartjie vakansie gehou het.

Weitz het gesê sy kan nie sin maak van wat gebeur het nie. “Dit was só ʼn wrede moord en ek kon haar nie vashou of haar troos terwyl sy gely en gesterf het nie. Sy is geslag. Ek kan nie eens praat oor die ander goed wat aan haar gedoen is nie. Ek kon haar nie groet nie.”

Die fyn vrou het aan die hof vertel toe Alban drie jaar oud was, is sy en Alban se pa, Howdy Kabrins, geskei, en het sy en haar dogter onafskeidbaar geword omdat dit net hulle twee was.

Sy het in die afgelope drie jaar ʼn halfmiljoen rand gespandeer om verskeie kere na Suid-Afrika te reis en was al 11 keer in Kaapstad om die hofverrigtinge by te woon.

Diego Novella in die Wes-Kaapse hooggeregshof. Foto: ANA/Cindy Waxa

Sy het getuig haar dogter was voorheen getroud met ʼn vooraanstaande pediater, maar die huwelik het ná agt jaar verbrokkel. Alban het in 2013 met Novella ʼn verhouding aangeknoop en in 2014 by hom ingetrek in Guatemala. Weitz het gesê Alban was desperaat om kinders te hê en het ʼn ooreenkoms met Novella aangegaan nadat ʼn poging om van haar eierselle te laat vries misluk het.

“Sy het met hom ooreengekom as hy haar swanger maak, sal sy met hom trou sodat hy ʼn groenkaart kan kry om in die VSA te kom woon. Hy het die ooreenkoms verbreek.” Novella het by tye sy kop geskud vir Weitz se getuienis en het aandagtig na elke woord gesit en luister.

“Hierdie moord het my nie net van my kind beroof nie, maar ook van die moontlikheid om kleinkinders te hê.”

Weitz het haar dogter beskryf as ʼn maklike kind om groot te maak en iemand wat vol lewenslus was en ʼn wonderlike sin vir humor gehad het. “Sy was my beste vriendin. Almal was mal oor Gaby, sy was dierbaar en lieflik. Ons sou mekaar se sinne voltooi.”

Sy het gesê Alban was ook ʼn slim sakevrou wat haar eie maatskappy gehad het waar minstens 12 mense gewerk het. “Ons het gereeld mekaar vir raad gevra en het net nog meer geheg aan mekaar geraak.”

Gabriela Alban. Foto: Facebook

Weitz het gesê in die drie jaar voor Alban se moord het sy (Weitz) twee keer borskanker opgedoen en het haar dogter haar na doktersafsprake vergesel en gehelp om haar te versorg. Sy het gesê dit is te danke aan Alban dat sy nou kankervry is.

Haar dogter was ʼn “leier” en “iemand wat dinge gedoen het”, maar dit het verander toe sy Lyme se siekte opgedoen het. Dié siekte word deur ʼn bosluis oorgedra en affekteer die lyer se immuunstelsel wat ʼn persoon moeg en sonder enige energie laat.

Weitz sê haar dogter kon soggens skaars uit die bed uit kom. Alban se toestand is vererger deur ʼn aanvanklike verkeerde diagnose en dit was vir haar aaklig om van ander afhanklik te wees. “Sy was swak tot die dag wat sy vermoor is.”

Weitz vertel die dag toe die Amerikaanse konsulaat haar gebel het om haar van Alban se dood in te lig, was die slegste dag van haar lewe. Sy het aan die hof gesê sy het heeltemal histeries geraak, maar kan nie veel verder van die dag onthou nie.

Sensasionele en valse nuusberigte oor ʼn beweerde seksorgie in die hotelkamer en die gebruik van ʼn groot hoeveelheid dwelms het haar nog verder ontstel.

Alban se liggaam is nie onmiddellik teruggeneem na die VSA nie wat verder tot Weitz se hartseer bygedra het. Sy het gesê volgens Joodse tradisie mag nadoodse ondersoeke nie gedoen word nie en moet ʼn liggaam met al sy dele begrawe word. Alban was ʼn orgaanskenker en is sonder haar brein begrawe. Sy is ook nie ooreenkomstig Joodse tradisie binne 24 uur begrawe nie.

Weitz het gesê die verhoor het sy tol geëis en Novella se arrogansie gedurende die verhoor het haar seergemaak. “Hy het gesê hy is lief vir Gaby, maar sy optrede spreek boekdele,” het sy gesê.

“Daar is geen twyfel dat hy jammer is oor die situasie waarin hy homself bevind nie, maar sy berou gaan net oor homself.” Sy het gesê om sy eie ma se pyn, wie se seun in ʼn motorongeluk dood is, met haar pyn te vergelyk, is “ʼn belediging”.

“Hy het dit op ʼn demoon blameer, hy het die dwelms blameer en met tye het hy skynbaar ook vir Gaby geblameer.”

Die pyn was duidelik sigbaar op die gesigte van Alban se pa en stiefma, Linda, wat ook in die hof was tydens Weitz se getuienis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.