Ma vertel van laaste oomblikke voor verkeersbeampte sterf

Die ongelukstoneel waar Willis Smith, ‘n jong verkeersbeampte, gesterf het.

ʼn Familie van Worcester in die Wes-Kaap is in rou gedompel nadat Willis Smith (27), ʼn provinsiale verkeersbeampte, Vrydag dood is in ʼn gru-ongeluk op die Nekkiespad wat ook die lewe van twee ander mense geëis het.

Shirley Smith (60), Willis se ma, sê sy het haar seun Vrydag kort voor 07:00 die laaste keer gesien toe hy geld vir haar geneem het.

“Ek het net ná 04:00 opgestaan om sy middagete, vrugte en goedjies reg te kry, gereed net voor hy kort voor 06:00 vir werk vertrek. Net voor 07:00 het hy by die huis aangekom, vir my geld vir die maand gegee en gery.

“Hy het ook vir my sy Truworths-kaart gegee nadat hy vroeër in die week vir my ʼn top en jeans gekoop het, maar ek die broek wou omruil. Hy het vir my gesê ‘mamma, gaan koop vir jou klere’ en dit was die laaste keer wat ek hom gesien het,” het Shirley vertel.

Dié ma van drie sê haar enigste seun was ook soos haar beste vriend en sy het alles met hom gedeel.

Shirley sê sy het heeldag lomerig gevoel en het reggemaak om haar dogter winkel toe te neem, toe daar ʼn harde klop aan die deur was.

“Willis se pa se oudste suster en nog ʼn familielid het hard aan die deur geklop. Hulle het gesê ek moet gou maak – Willis was in ʼn ongeluk.

Willis Smith (27).

“Ek was in skok. Ek het gevra of hy oukei is en wat gebeur het, maar hulle kon niks sê nie.”

Willis se pa, Willis sr., is ʼn kolonel verbonde aan die Worcester-polisiestasie. ʼn Insleepdiens het hom laat weet dat sy seun in ʼn ongeluk betrokke was en hy het dadelik na die toneel gejaag.

“Ek was die eerste polisiebeampte op die toneel. Daar was paramedici en verkeersbeamptes daar. Hy was op pad na ʼn ongelukstoneel toe hy verongeluk het,” het kol. Smith gesê.

“Daar is verskillende weergawes van getuies wat sê een van sy bande het gebars en ʼn ander [getuie] wat sê sy band het gebars nadat iets in die pad sy motorband deurboor het. Ek is net bly hy was nie roekeloos nie en was in sy baan waar hy moes wees.”

Hy sê hy kon reeds op die toneel, terwyl paramedici verbete probeer het om Willis by te bring, gesien het sy seun gaan nie die ongeluk oorleef nie. Heeltemal te veel bloed het uit die jong beampte se kop gestroom.

“Ek voel net so jammer vir die ander gesin wat ook geliefdes in die ongeluk verloor het. Albei gesinne is gebroke. Ek gaan ook die ander familie besoek om ons meegevoel te betuig,” het die kolonel gesê.

Talle boodskappe van medelye het ook reeds vir die jong Willis ingestroom. Hy word beskryf as ʼn eerbiedige, gehoorsame en liefdevolle man wat ander altyd voor homself gestel het. Hy het dit ook sy doelwit in die lewe gemaak om sy ouers te ondersteun.

Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder in die Wes-Kaap, het gesê die ongeluk het omstreeks 14:45 plaasgevind nadat Willis se voertuig met ʼn ander voertuig gebots het. Twee vroue in dié voertuig het ook gesterf. ʼn Derde insittende is beseer en is na ʼn hospitaal vir verdere behandeling geneem.

ʼn Saak van strafbare manslag word ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Sarel ·

Strafbare manslag ? Teen wie en wie is die ander slagoffers?

'n Simpelman ·

Standaard prosedure in enige ongeluk waar iemand oorlede is.

JohanR ·

Amper soos om ‘n boer wat ‘n deur inbreek van terrorisme te beskuldig. Skade aanrig, maar terrorisme! Die ANC is ‘n grap, die hofe is ‘n grap! My innige medelye aan die familie. Uit die foto en die uniform kan mens sien hy was ‘n jong man met trots.

Nico ·

My innige meëgevoel met familie met die afsterwe van Willis.

Mariaan ·

O liewe hemel..hoe moet n mens met n glimlag wakker word met soveel tragedie in n land…ongelukke…moord…verkragting..lys gaan aan..HOE? New Zeeland het nou onlangs hul EERSTE Lewenslange vonnis toegedien in die land se geskiedenis…ons hope ELKE….wens ek kan hier wegkom….vinnig! Maar hoe??

Jakes ·

Ons innige medelye met die jongman se afsterwe. Verskriklik om n kind af te staan. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.