Ma vertel van noue ontkoming tydens oorstromings

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Twitter)

Khanyisile Hlekwa het om hulp geskree toe vloedwater verlede week by die vensters van haar huis in Kamhlushwa in Mpumalanga ingestroom het. Die vloedwater het Hlekwa (33) en haar vier kinders in hul huis vasgekeer.

“Ek het gedink ek gaan dood,” vertel Hlekwa. “Die water was hoog en dit het gekolk.”

Hlekwa en haar vier kinders slaap al die afgelope week op dun sponsmatrasse by ’n verlate skool nadat swaar reën hulle en tientalle ander dakloos gelaat het.

Minstens 13 mense is reeds dood sedert swaar reën oor dele van Mpumalanga, die Oos-Kaap, Gauteng, KwaZulu-Natal, Limpopo, die Noord-Kaap en Noordwes begin uitsak het. Dit lyk ook nie of die reën binnekort gaan opklaar nie.

“Die vloedwater het om 04:00 sterk deur die vensters gekom,” onthou Hlekwa. “Ek het na die bure probeer roep om hulp, maar toe besef hulle is ook in hul huis vasgekeer.

“Dit is toe dat ek hard begin skree het.”

Hlekwa sê die watervlak het haar net bokant haar maag bereik voordat ’n buurman ’n tou gebruik het om haar en haar kinders deur ’n venster na buite te trek. Haar huis, ’n informele struktuur van modder en sement, het intussen ineengestort.

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Twitter)

Die regering het vandeesweek ’n nasionale ramptoestand verklaar om ’n kragtige en gekoördineerde reaksie moontlik te maak om die uitwerking van die oorstromings in sewe van die nege provinsies te hanteer.

In Mpumalanga het die vloede reeds vier lewens geëis. Dié provinsie is een van die wat die ergste deurloop, aldus Lungi Mtshali, woordvoerder van die departement van samewerkende regering en tradisionele aangeleenthede (Cogta).

Phindile Magagula, burgemeester van Nkomazi, sê vier mense word in dié stadium in die distrik vermis.

“Ons het byna 1 815 gesinne wat sonder skuiling is, sommige van hul huise is deur die reën weggespoel.”

Sowat 269 voetbrûe en 18 groot brûe in dié distrik is weens die swaar reën beskadig.

“Brûe is weggespoel, die huise is nat, ons TV’s is stukkend. Al wat ons oor het, is swaarkry,” vertel Mhlabane Mbuso, ’n inwoner van die Mekemeke-nedersetting in Mpumalanga.

Ondertussen word nóg swaar reën voorspel.

Maroela Media het Donderdag berig nóg waarskuwings vir erge reën is vir dele van Limpopo, Mpumalanga en veral die Oos-Kaap uitgereik.

Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens (SAWD) word ʼn tropiese lugmassa en vog oor die oostelike dele van die land verwag, “wat sal lei tot reënval in gebiede wat onlangs onder swaar reën en oorstromings deurgeloop het”.

ʼn Geel vlak 2-waarskuwing vir reën is in dele van Limpopo, veral oor die Waterberge en die Mopani-gebied, uitgereik, asook vir die Gert Sibande- en Ehlanzeni-distriksmunisipaliteit in Mpumalanga.

Dié weerstoestande sal na verwagting tot laat Vrydagaand voortduur.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Di ·

Bly hierdie gesin is darem veilig! Regering verklaar net ramptoestande en verder doen hulle absoluut NIKS vir hierdie mense nie. Kyk maar na KZN – Dis al hoe lank terug en meeste van hierdie mense sit nog steeds sonder blyplek. Alles in DIE land is ‘n RAMP weens ons onvoegde, korrupte Regering

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.