Ma vertel van stryd ná baba ‘by die dood omdraai’

Baba Brodie Snyman (Foto: Verskaf)

ʼn Ouerpaar van Roodepoort in Johannesburg het vandeesweek vertel van hul bittere stryd om die nodige versorging vir hul serebraal gestremde babaseuntjie te kry wat sedert sy geboorte voortdurend in en uit die hospitaal is.

Die 19 maande oue Brodie Snyman is serebraal gestremd nadat hy tydens geboorte ʼn ruk lank sonder suurstof was.

Sy ma, Louise Snyman, het Woensdagoggend aan Maroela Media gesê dat die klein seuntjie vir die eerste jaar van sy lewe elke maand in ’n hospitaal opgeneem is met van longontsteking tot ’n virus. Sy onlangse besoek aan die hospitaal in Junie vanjaar was “die ergste nog” en Snyman sê Brodie het in dié tyd by die dood omgedraai.

Snyman vertel dat haar swangerskap met Brodie normaal verloop het tot en met 36 weke toe haar plasenta gebars het. Snyman was ten tyde van dié komplikasie in die hospitaal en ’n noodkeiser is gedoen. Baba Brodie was egter ’n ruk lank sonder suurstof, terwyl Snyman se hart gedurende die noodkeiser gaan staan het.

Klein Brodie kan op 19 maande nie sluk of praat nie. Hy het ’n permanente suurstofpyp deur sy neus en voedingsbuis in sy maag, sê Snyman.

Sy brein het gekrimp weens die tekort aan suurstof en sy kop is kleiner in vergelyking met dié van ander babas op dieselfde ouderdom. Brodie sukkel baie met sy longe aangesien hy in die eerste jaar geaspireer het, verduidelik sy ma. Hy ly ook aan epilepsie as gevolg van die breinbesering wat hy opgedoen het.

Baba Brodie Snyman (Foto: Facebook)

Snyman vertel dat sy en haar man, Shaun, alles denkbaar doen om Brodie weg van enige kieme te hou aangesien die geringste blootstelling hieraan verreikende gevolge vir hom kan inhou. “Ek probeer hom van almal en alles weghou net om hom gesond te hou,” sê sy.

Sy en Shaun is ook die trotse ouers van ’n vyfjarige tweeling. Dit hou ook ’n uitdaging  in wanneer die tweeling selfs net ’n verkoue opdoen. “Dit is baie moeilik,”sê Snyman.

Die gesin sukkel om sake finansieel bymekaar te hou aangesien hul mediese fonds nie al Brodie se mediese onkoste dek nie. Die egpaar moet tans baie van die seuntjie se behandelings en chroniese medikasie uit hul sak betaal.

Brodie ondergaan ook terapie, onder andere neurofisio, spraakterapie en slukterapie.

Shaun het intussen sy werk bedank om na Brodie om te sien en Louise sit hand by in die aande en oor naweke wanneer sy nie werk nie. Snyman vertel dat Brodie se dokter aanbeveel het dat die gesin ’n verpleegster kry om na Brodie om te sien maar dat die mediese fonds ook nie dié diens dek nie.

“Dit is só stresvol en uitputtend,” sê sy.

Vir meer inligting oor Brodie se vordering asook hoe om finansieel tot Brodie se mediese koste by te dra, besoek die Facebookblad Brodie Snyman’s Journey.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Genieve ·

Alles is moontlik by die Here as ons net glo die Here is getrou ons tree in met gebed mammie en pappie.

Gert de Jager ·

Tans is daar nog Net EEN kommentaar op die tragedie!? Waar moontlik moet ons betrokke raak by ons medemens in hul nood en lyding. God se genade werk deur sy kinders – ons moet oor die algemeen minder praat en meer doen! (ek is self daaraan skuldig).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.