Ma verwelkom ʼn handvol babas

Die Buthelezi-vyfling (Foto: Clinix Health Group)

’n Egpaar van Vosloorus, suid van Boksburg in Gauteng, het verlede week ’n vyfling ryker geword.

Siyanda, Sibahle, Simesihle, Silindile en Sindisiwe Buthelezi is op 6 September in die Botshelong-Empilweni Hospitaal in Vosloorus gebore.

Hul ma, Jabulile Buthelezi (32), het haar vier dogtertjies en een seuntjie deur middel van ʼn keisersnee in die wêreld gebring.

Nandi Mayathula-Khoza, die Gautengse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het Donderdag die Buthelezi-familie gelukgewens met hul kroos. “Ons is baie bly vir die familie en wens die ma en babas goeie gesondheid toe. As ’n provinsie wat trots is om ons kinders eerste te plaas, is ons bly om dié kleingoed in Gauteng te verwelkom.”

Die Buthelezi-vyfling (Foto: Clinix Health Group)

Mayathula-Khoza sê verder dat ’n span maatskaplike werkers die gesin sal bystaan met enige psigososiale ondersteuning of enige ander behoeftes waarmee die regering die ouers en vyf babas moontlik kan help.

Die LUR beplan om binnekort die Buthelezi-babas in die hospitaal te besoek waar dié pienkvoete sal bly totdat hulle elkeen 2 kg weeg.

Clinix Health Group, wat mediese bystand met die geboorte gelewer het, het op hul amptelike Twitter-blad gesê die Buthelezi-vyfling is maar net die derde stel vyflinge wat sedert 1994 in Suid-Afrika gebore is. Hulle het die ouers net die beste vir die toekoms toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Mickey ·

Watse geslag is die pienkvoetjies? Ek sou uit nuuskierigheid ook wou weet wat die 5 kleintjies weeg.

Mary ·

4 dogtertjies en ‘n seuntjie.. gaan lees die artikel op Netwerk 24 ook.

Stuiwer ·

In die artikel word gesê dat die kleintjies eers huistoe kan gaan nadat hulle elk 2 kg weeg.

SoosDitIs ·

Onthou die mamma het net van 3 van die babas geweet. Die extra tweetjies was n verrassing.

M ·

baie geluk! wonderlike nuus!!

en verskoon asb al die negatiewe kommentaar …. skaam jul…

Hannelie ·

Baie geluk! Hulle lyk bitter klein, sal net graag wou weet wat elkeen geweeg het.

Wonder net ·

Ek wonder of hulle nog ander kinders ook het. Sjoe 5 is baie vir een slag maar baie geluk.

Jozi ·

Alles goed en wel…, maar hoe sorg enigiemand in ons huidige ekonomie vir soveel kinders?
Daar bla bla bla die uwe LUR vir Maatskaplike Ontwikkeling al klaar oor hoe spesiaal die kinders van Gauteng is, en hoe hulle die gesin gaan bystaan.
Op papier lyk alles heel indrukwekkend. In die praktyk werk dit ongelukkig glad nie so lekker nie.
Hul personeel (o.a. maatskaplike werkers wat veronderstel is om gesinne in nood by te staan) staak deesdae amper meer as wat hulle werk, en as daar wel ” gewerk ” word, is dit maar net nog ‘n geval van sit en wag vir teetyd, dan etenstyd, dan die baie belangrike koffie breek, en dan begin ons oppak want dis amper tyd vir die hoogtepunt van die dag – tjailatyd.!
Elke kind is ‘n geskenk van Bo en ek wens hulle alles van die beste vir die toekoms.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.