Ma voor kleuterskool aan die brand gesteek

’n Ma is Maandagoggend voor die Step Up Rynfield-kleuterskool in Benoni aan die brand gesteek. (Foto: Verskaf)

Die ma (27) van ʼn vyfjarige dogtertjie het Maandag ernstige brandwonde opgedoen toe sy deur haar lewensmaat (40) voor die Step Up Rynfield-kleuterskool in Benoni met petrol gegooi en aan die brand gesteek is.

Sy het pas haar kind by dié skool afgelaai.

Die vrou, sowel as ʼn vriendin wat saam met haar was, is tydens die voorval ernstig beseer en word tans in die hospitaal behandel.

Kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê ʼn saak van poging tot moord word tans ondersoek.

Die eienaar van die skool, wat nie haar naam wou noem nie, het aan Maroela Media gesê die man het in sy taxi voor die skool stilgehou en petrol op die vrou se wit Hyundai Getz uitgegooi.

“Die petrol het ook op haar lyf beland en toe hy die motor aan die brand steek, het sy ook aan die brand geslaan.

“Sy het na ʼn oop stuk veld naby die skool gehardloop en op die grond gaan rol. Die man het in sy taxi geklim en dit het gelyk of hy beplan om oor haar te ry.”

’n Ma is Maandagoggend voor die Step Up Rynfield-kleuterskool in Benoni aan die brand gesteek. (Foto: Verskaf)

Die man het ook ernstige brandwonde opgedoen toe hy volgens ooggetuies self in die brandende motor gespring het – vermoedelik om selfmoord te pleeg.

“Hy het daarna na sy taxi gehardloop en batterysuur gedrink. Nooddienswerkers was in dié stadium reeds op die toneel en het die man in bedwang gebring en hom behandel.”

Volgens Kweza is die man tans onder polisietoesig in die hospitaal.

Die eienaar sê die vrou se kind is al ʼn geruime tyd in die skool en dat die man die meisie gereeld sonder probleme af- en oplaai.

“Ek het egter verneem dat die paartjie Sondag al probleme gehad het.”

Volgens haar is die twee onderwysers wat eerste by die skool was, erg getraumatiseer.

“Ons is almal in skok, maar die hele storie het voor hulle oë afgespeel.

“Toe ek vanoggend omstreeks 06:20 ʼn oproep van een van die juffrouens ontvang, was al wat sy kon uitkry ‘brand, brand, brand’.”

Sy het aanvanklik gedink die skool is aan die brand en het die sekerheidsfirma gevra om die brandweer te ontbied.

’n Ma is Maandagoggend voor die Step Up Rynfield-kleuterskool in Benoni aan die brand gesteek. (Foto: Verskaf)

“Dis eers toe ek by die skool aankom wat ek besef het wat aangaan.”

Sy sê enkele kinders het ook die voorval gesien, asook ʼn ander ouer wat ten tyde van die voorval in die parkeerterrein was.

“Die slagoffer het ook ná die voorval erg gebrand by die kleuterskool ingehardloop waar die kinders haar gesien het. Dit was baie erg.”

ʼn Ander ooggetuie, Donovan du Preez, wat langs die skool woon, sê dit was ʼn bisarre toneel om te aanskou.

“Ek het ʼn ontploffing gehoor en dadelik met brandblussers uitgehardloop.”

Volgens hom het nog ʼn omstander gehelp om die brandende vrou te blus waar sy op die grond gerol het.

“Die man het heeltyd tussen die voertuig en die taxi beweeg. Ander mense het hom soort van ingeboks om te verseker dat hy nie wegkom nie.”

Kweza sê die vrou se voertuig is heeltemal uitgebrand en dat ʼn bykomende klag van opsetlike saakbeskadiging aanhangig gemaak sal word sodra die omvang van die skade bepaal is.

“Die motief agter die voorval is nie in dié stadium bekend nie en word tans ondersoek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Di ·

Vader wat gaan aan met die mense wat net wil moor! Dinge raak nou te erg en al wat die President doen is om hierdie enorme probleem op te haal is sy toesprake oor die lockdown. Indien strenger straf nie spoedig in plek gesit word nie, sal hierdie dade nooit stop nie.

Casper ·

Die probleem is dat die dood hulle nie afskrik nie. Daar is so baie mense wat nie weet van die Vader se Liefde nie. Tronk is: 3 etes ‘n dag, gimnasium, vrye medies, vrye studie, genoeg dwelms en ‘n president wat binnekort weer ‘n klomp sal vrylaat.

koos10 ·

Motief? Moor omdat hy nie gelukkig is nie!
Gelukkig het ons President gisteraand gevra dat ons mans nie vroue moet seer maak nie.

Boerkind ·

Ongelukkig kan ‘n mens nie ‘n woord glo wat “ons president” sê nie… Hy het Cele aangestel nadat dié onder verdagte omstandighede afgedank is tydens die vorige korrupte bestel… Ja, Cele van alle mense… en kyk hoe lyk misdaad onder sy bestuur!

Sarel ·

Te vra…..gasn nie hell nie want verkragters kry Borg & Parool en Register is ” nkn existent”

Misky ·

Die mensdom is besig om te verval!!! Sterkte aan almal betrokke en ons hou haar in ons gebede. Daai arme kind!!

LeanetteS ·

AI! Ons wereld raak net al meer sieker en vol boosheid!

E ·

Ek hoop die spermskenker kry nooit weer toegang tot sy kind nie, selfsugtig en definitief ‘n gevaar vir almal om hom. Ek hoop die arme ma en vriendin en omstanders kry almal die hulp wat hulle benodig.

Belinda ·

… en al wat ons President doen is praat…… hy is so jammer oor die en daai maar hy doen net mooi boggerall… ek wens ons mense kan net saamstaan en se genoeg is genoeg! hoeveel pyn en leiding moet mens nog in hierdie leeftyd beleef?

Chantel ·

Genade, wat ‘n traumatiese ding om te beleef. Sterkte aan die mamma en die kind

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.