Ma vra begrip vir outisme ná vulstasie-voorval

(Argieffoto: pixabay)

ʼn Ma van Newcastle pleit vir begrip vir outistiese kinders ná ʼn “onsmaaklike” voorval by ʼn sakeonderneming.

Adele Hand (32) sê haar 11-jarige outistiese seun – sy naam word op versoek weerhou – en sy fasiliteerder het vroeër vandeesmaand by ʼn vulstasie stilgehou omdat die kind die badkamer wou gebruik. Dit was die eerste keer in sowat ʼn jaar dat hy ʼn openbare ruimte besoek het.

“Hy ontvang sedert graad 3 tuisonderrig omdat hy nie in die skoolmilieu kon aanpas nie. Op sosiale vlak weet hy ook nie altyd wat aanvaarbare gedrag is nie. Hy weet ook nie altyd hoe om met ander mense sosiaal te verkeer nie,” sê Hand.

By die vulstasie wou die seun nie die badkamer gebruik nie omdat dit volgens hom sleg geruik het. Hand sê die seun is uiters gevoelig vir reuke en het gebraak net toe hy die vertrek binnegegaan het.

“Ek het besluit om in die vulstasie se winkel ʼn koeldrank te koop en dan ʼn sakkie te kry waarin hy kan urineer. Hy en die fasiliteerder het in die motor agtergebly terwyl ek die winkel binne is.

“Terwyl ek betaal het, het my seun skielik die winkel binnegestorm. Hy was poedelkaal. Hy het sy klere uitgetrek omdat hy al ʼn bietjie in sy broek geürineer het. Ek en die fasiliteerder het hom agternagesit en tot bedaring probeer bring, maar hy het histeries begin rondhardloop.”

Hand sê hulle kon die kind eindelik laat kalmeer en is badkamer toe. “Ons het skaars ingeloop toe begin hy braak. Hy het weer histeries geword en uitgehardloop. Almal het ons aangegaap. Dit was só vernederend.”

Hand sê hulle het die seun daarna in die parkeerterrein, langs haar motor, laat urineer.

“Hy kon nie meer knyp nie. Ons het rondom hom gestaan sodat dit nie so opsigtelik is nie. Ek weet ook dit wat ons gedoen het, is verkeerd – maar ons het nie ʼn ander keuse gehad nie.”

Volgens Hand het die vulstasiebestuurder hulle in hierdie stadium genader.

“Die bestuurder het vir my gevra of my kind reg in sy kop is. Dit was erg beledigend. Hy het beveel dat ons die plek skoonmaak waar hy geürineer het. Ons was van plan om dit skoon te maak.”

Hand sê haar seun was geweldig ontsteld en het deurlopend om verskoning gevra. Sy en die fasiliteerder het hom help kalmeer en in die motor laat sit.

“Ek het die plek waar hy geürineer het, skoongemaak en daarna teruggegaan na die bestuurder om ons situasie te probeer verduidelik. Ek het vir hom gesê ek is jammer oor die voorval en het probeer verduidelik dat my kind outisties is. Die bestuurder was baie arrogant.”

Hand sê die manier waarop die bestuurder die situasie gehanteer het, was heeltemal onvanpas.

“Ek verstaan my kind kan nie sommer enige plek urineer nie, maar die manier waarop ons benader, gekonfronteer, verkleineer en verneder is, is onaanvaarbaar. Die bestuurder het nie ons situasie verstaan nie.”

Hand sê elke keer dat sy haar seun aan die buitewêreld probeer blootstel, reageer mense uiters negatief. Hy word boonop deur harde geluide of skerp ligte oorweldig.

“Hy voel ook oorweldig deur mense en vreemde plekke, veral as hy van sy daaglikse roetine afwyk.”

Hand sê sy het reeds ʼn klagte oor die bestuurder se optrede ingedien.

Sy sê sy wil hiermee bewusmaking skep sodat mense in die toekoms meer bewus – en medelyend – is oor hoe om outistiese gedrag te hanteer.

“Die situasie was geweldig traumaties. Ek wil nie hê my kind moet dink hy is slegter as ander kinders nie.”

Hand sê haar seun was dae ná die voorval steeds erg getraumatiseer.

Sy sê omdat April outismebewusmakingsmaand is, wil sy veral die gebeure deel om groter begrip onder mense te kweek. Hand lewer ook gereeld praatjies by skole oor outisme.

“Ek probeer my ervaring as ma van ʼn outistiese kind deel. Ek probeer verduidelik dat kinders met outisme se brein heeltemal anders werk en kommunikeer. Hul sintuie praat ʼn ander taal met die brein.

“Ander mense kan nie altyd mense met outisme onderskei nie, juis omdat hulle normaal lyk. My seun sal as ʼn doodnormale ‘stout’ kind beskou word.”

Hand sê om ʼn outistiese kind groot te maak, is ʼn leefwyse.

“Soms het ʼn mens se eie familie nie eens begrip vir jou situasie nie. Daarom wil ek so graag groter bewustheid hieroor skep, sodat mense opnuut kan verstaan.”

Die betrokke vulstasie wou nie dat hul kommentaar oor die voorval gepubliseer word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Chris dupreez ·

Sê wat die vulstasie se naam is asook die bestuurder se naam, hoekom moet hy beskerm word vir so veragtelike daad

Mariana ·

Mense kan so ongevoelig wees. En buitendien daai toilette het heel waarskynlik gevrot. Deesdae maak mense broeklos oral waar hulle kom en gee nie om dat mense hulle sien nie, die man is onmenslik en ek dink almal behoort sy naam te ken en ook sy vulstasie. Mev, jammer dat jou seun dit moes oorkom, ons samelewing is wreed teenoor dit wat hulle nie van weet nie.

Wielspore ·

Outisme is nie soos ‘n fliek wat iemand skryf met ‘n gelukkige einde, daar moet ‘n uiterste intieme verhouding tussen die ouer en kind wees. Jy as ouer moet kan aanvoel wat jou kind se behoefte is weens die gebrek aan kommunikasie van die kind af. Die eienaar van die vulstasie kort opvoeding en sterkte aan die ma en kind wat verneder is.

Yvonne ·

Ai mamma ek kan net met deernis na jou luister…dit vra so baie van jouself…..baie sterkte

Misky ·

Dit is baie swak van die bestuurder om julle so te behandel. Kyk en ruik maar net waar word oral geurineer en sonder om eers weg te draai van publiek, nou wil hy kom moan oor n kind en moes kon sien hulle probeer ten minste.

My niggie het twee outistiese kinders en ek kry haar ongelooflik jammer. Hulle gaan amper nerens heen nie en probeer hou by roetine. Sy het my ook al vertel hoe ongevoelig mense in die publiek kan wees as een van die kinders soms n episode het. Sterkte

Antoinette ·

Adele Hand ek haal my hoed af vir n mamma soos jy. Nie almal verstaan n kind wat probleme het nie.
En dan kry jy gevoellose mense wat geen empatie vir enige persoon/kind het nie, en nog saam ander of kinders die persoon verder te verneder deur te lag of aanmerkings te maak.
Sterkte dame en mag God jou seen.

Danie ·

En so ry ek elke dag van my lewe verby mans wat openlik langs die paaie, teen grensmure, lamppale, bome ens staan en urineer.
Nie geweet dis “onwettig” nie want wetstoepassers laat dit ooglopend toe.

Pandora ·

Daar was nog nooit by my outisme gediagnoseer nie, maar ek is wel sensories sensitief, en ek kry soms paniekaanvalle as gevolg van massas mense (bv in ‘n Mall of selfs ‘n klein supermark) en al die geraas en voertuie wat trurat waarskuwings alarms het. Hoeveel te meer is hierdie ontstellendhede nie vir ‘n kind wat outisties is nie?
Die ongevoellose bestuurder moes besef het daar is fout en eerder die ouer om verskoning gevra het omdat sy fasiliteite van so ‘n aard is dat dit ongeskik is vir gebruik.
Outisme is ‘n realiteit en dis klaar ‘n uitdaging vir ‘n ouer om self te leer hoe om die beste vir hul kind te gee. Mens het nie nog die vernedering van ander nodig nie.

Sandra ·

Ek kan nie sien hoekom ‘n outistiese kind verhoed word om in die publiek te urineer nie. Ek sien elke dag hoe groot normale mense buite teen bome en geboue urineer. Hier waar ek werk kan mens nie gaan geld trek sonder om jou asem te moet ophou vir die ou urine reuk wat by die OTM rondhang nie. Ek dink die bestuurder se benadering met die situasie moet deur sy base ondersoek word, en hy moet vir ‘n kursus in die hantering van die tipe situasies gestuur word om hom behoorlik te orienteer as so iets weer moet gebeur. Ek se ook, name and shame.

Ria ·

Ai mamma, my hart breek vir jou en jou seuntjie. Mag jul bewusmaking ‘n groot sukses wees.

Nina ·

Ek is ‘n mamma met ‘n outistiese seuntjie, hy is . Niemand sal die klipperige padtjie verstaan as jy nie self die geloop het nie. Ja, as jy een outistiese kind ontmoet is dit nie dieselfde as ‘n ander outistiese kind. Meeste ouers kruip weg, bly weg uit restaurante, kerke, funksie, familie, vriende, want dit is moeilik om te verduidelik as jy nie weet nie. Hierdie insident is presies die probleem! Maroela Media help met die bewuswording van Autisme. Daar is groepies soos Parent Reality – Supporting Parents with Special Needs Kids, @Warriors Bediening, Oosterlig, maar dis nie genoeg om ‘n plekkie vir ons kinders te gee nie. Help asb dat ons meer hierdie ouers, ekke ook kan ondersteun. Byvoorbeeld die badkamers is nie gemaak vir kinders ouer as kleuter nie. Ek is ‘n “volunteer” by klomp instansies. Spesiale Ouers, kom staan saam, dis onaanvaarbaar! Maroela Media help en staan saam ons , hierdie kinders het ook ‘n reg op menswaardigheid.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.