Ma vra gebede vir dogter, toe sterf haar man

Cindy en Marc Benson. Hulle is die sangeres, Candy Benson, se ouers. (Foto: Facebook)

Covid-19 het Woensdag die lewe van Marc Benson, pa van die sangeres Candy Benson, geëis.

Marc en sy vrou, Cindy, het nog verlede maand gepleit om gebede vir Candy, hul “sonskynkind”, wat op Saterdag 11 Julie per ambulans na die Netcare Olivedale-hospitaal gehaas is. Candy (30) veg steeds om haar lewe teen Covid-19.

Sy is 24 dae lank in die hoësorgeenheid behandel voordat sy verlede Dinsdag na ʼn algemene saal oorgeplaas is. Sy sterk steeds in dié hospitaal aan.

Cindy het Woensdag in ʼn roerende Facebook-huldeblyk aan haar man gesê hy was haar eerste liefde.

“Ek gaan jou mis met elke klop van my hart. Jy was my beste vriend, my alles. Ek voel nog steeds asof ek binnekort gaan wakker word uit hierdie nagmerrie, waar jy tuis sal wees en ons dogter uit die hospitaal, en ons weer ʼn gesin sal wees.”

Cindy sê dat sy nie weet wat sy en Candy sonder hulle “Daddles” gaan doen nie. “Ons het nog soveel planne vir die toekoms gehad en ons wou nog soveel dinge saam doen. Totdat hierdie Covid-satansiekte sy greep op ons dogter gekry het en haar in die hospitaal laat beland het (dag 32) en jou binne twee dae gevat het [sic].

Marc Benson. (Foto: Facebook)

“God het nog ʼn engel nodig gehad; ʼn man met ʼn hart van goud wat altyd ander gehelp het. Jy was die liefde van my lewe.”

Cindy het verlede week gesê Candy ly nou aan ʼn steroïede psigose van die hoë volumes steroïede wat sy ontvang om haar longe te versterk. Cindy sê sy is juis oorgeplaas na ʼn algemene saal in ʼn poging om haar geestesgesondheid te verbeter.

“Candy is ongelooflik deurmekaar; dit is ʼn nagmerrie,” het Cindy gesê.

Woensdag is Candy se 32ste dag in die hospitaal. “Ek is so bang, maar ek weet ons Vader gaan haar gesond huis toe bring. Ons pleit steeds by mense om saam met ons vir ons kind te bid,” het Cindy verlede week gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cecilia ·

My gebede gaan uit na u gesin en familie alle sterkte vrou, mag GOD sy hand oor jul hou van geneesing.

Johanna ·

Die effek van COVID19 op mens se Geestes Gesondheid is skrikwekkend.
Maar by GOD GEBEUR STEEDS WONDERS . Raak net rustig by die Voete van Jesus.. “JUST BE” Ervaar die wonder van elke sonstraal en BLOM.

AmY ·

Baie sterkte aan daai mooi familie.
Covid het al ‘n paar keer ‘n draai gemaak in ons familie, maar genadiglik nog niemand weggevat nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.