Ma, vroeggebore baba na Covid-nagmerrie herenig

Nkantini en haar babaseuntjie (Foto: Verskaf)

ʼn Ma wie se babaseuntjie vroeggebore is terwyl sy bewusteloos aan ’n ventilator weens Covid-19 gekoppel was, was oorweldig deur emosies nadat sy haar baba drie weke ná sy geboorte vir die eerste keer gesien het.

Nosipho Nkantini, ’n verpleegster van Eersterivier, het op 4 Januarie die eerste keer haar seuntjie in die neonatale waakeenheid by Netcare se N1 City-hospitaal in Goodwood, Kaapstad, ontmoet. Hy is drie weke gelede op 25 weke gebore.

Netcare sê die emosionele ontmoeting het gevolg nadat die hospitaal Nkantini opgespoor het om haar te laat weet dat haar seuntjie nog lewe. Sy was onder die indruk dat hy nie oorleef het nie omdat hy so vroeg gebore is.

“Toe ek my baba vir die eerste keer sien, het trane oor my wange gestroom. Ek was oorstelp van vreugde, maar terselfdertyd was dit moeilik om hom nie te kon vashou nie,” het Nkantini vertel.

Die personeel by die waakeenheid het die klein vegtertjie as ʼn wonderbaba bestempel en beskryf sy oorlewing as ’n wonderwerk.

Nkantini het besluit om die baba Oyena te noem, wat beteken “die een wat deur God uitverkore is”.

“Ek hoop dat hy binnekort sterk genoeg sal wees om huis toe te gaan.”

Dié jong ma het vroeg verlede maand simptome van Covid-19 begin toon. Sy was in daardie stadium sowat halfpad deur haar swangerskap. Sy het haar huisdokter gekontak – wat aanvanklik nie vermoed het dat sy die virus onder lede het nie – en daar is vir haar antibiotika voorgeskryf.

“Ek was vir ʼn swangerskapsondersoek en het skielik kort van asem gevoel. Ek het ʼn vinnige Covid-19-toets gedoen en die uitslag was negatief. Tog het ek gesukkel om asem te kry en dit het my angstig gemaak. Ek kon nie vir x-strale of sekere behandelings gaan nie omdat ek swanger was. My tweede Covid-19-toets was positief.”

Nkantini is op 25 weke gebore (Foto: Verskaf)

Nkantini is na Netcare se N1 City-hospitaal geneem en het kort daarna haar bewussyn verloor. Sy is op ʼn ventilator geplaas in die sogenaamde rooi sone van die hospitaal wat toegewy is aan die versorging van Covid-19-pasiënte.

“Van daar kon ek niks onthou nie.”

Toe sy dae later wakker geword het, is sy meegedeel dat daar komplikasies met die swangerskap was en dat ʼn noodkeiser gedoen is.

“Die hospitaal het my in kennis gestel dat Oyena in die neonatale waakeenheid was, maar ek was so oorweldig. Afgesien van die feit dat ek steeds baie swak was, het ek al voorheen ʼn baba wat op 28 weke gebore was, verloor. Ek was dus uiters getraumatiseerd en het my verbeel dat dit weer sou gebeur.”

Volgens die hospitaal kon hulle Nkantini nie dadelik in die hande kry nadat sy ontslaan is nie.

Die hospitaal wou haar in kennis stel dat haar baba nog leef, maar steeds hoogs gespesialiseerde lewensondersteuning en versorging in die waakeenheid nodig het.

Met haar skielike opname in die hospitaal in Desember, het die hospitaal egter nie Nkantini  of haar naasbestaandes se korrekte kontakbesonderhede gehad nie.

Die hulp van ʼn maatskaplike werker, Ronel Grobler, is ingeroep om te help om Nkantini op te spoor.

“Nadat ek ontslaan is, was ek te bang om die hospitaal te kontak omdat ek myself oortuig het dat my baba dood is. Ek sou dit nie kon hanteer om te hoor hoe my grootste vrees waar word nie. Kersfees sonder my seuntjie was verskriklik.”

Die hospitaal het ook die plaaslike polisie gekontak om te help met die soektog na Nkantini en hulle het haar opgespoor.

“Toe die polisie by my huis stilhou, het ek gedink hulle gaan my inlig dat my baba dood is. Ek kon dit nie glo toe hulle vir my sê dat my seuntjie leef en vir my in die hospitaal wag nie. Dit was só ʼn groot verligting.”

Dr. Ricky Dippenaar, ʼn neonatoloog wat by die hospitaal praktiseer, sê dit gaan baie beter met Oyena en hy tel goed gewig op. Hy het ook na sy geboorte negatief vir Covid-19 getoets.

Dippenaar het aan Nkantini verduidelik dat baie ma’s wie se babas in ʼn neonatale waakeenheid is, ʼn sogenaamde dubbele skeiding ondervind. Dit gebeur wanneer ʼn ma nie haar baba na die kind se geboorte kan vashou nie, maar terselfdertyd ook nie meer die baba in haar baarmoeder kan voel nie.

Sielkundig is dit baie moeilik en in hierdie geval was die situasie selfs erger omdat Nkantini boonop trauma weens die opdoen van Covid-19 ook ervaar het.

Nkantini het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor die hospitaalpersoneel wat so mooi na haar en haar babaseuntjie omgesien het.

“Ek wil ook veral vir almal dankie sê wat gehelp het om my en my baba te herenig.

“As gesondheidswerker is ek veral dankbaar vir almal wat op die voorgrond is om mense met Covid-19 te versorg. Ek is my lewe aan hulle verskuldig.”

Nkantini doen ʼn beroep op die publiek om Covid-19 ernstig op te neem en alles moontlik te doen om die verspreiding daarvan te bekamp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Robert ·

Mag die Here hulle in sy arms hou sodat hulle kan herstel van die trauma en dankie dat Hy hulle genees het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.