Ma waarsku ná tienerseun hartaanval kry

Marko Hepburn. Foto: Facebook.

ʼn 18-jarige hoërskoolleerling sterk by die huis aan ná hy ‘n ligte hartaanval gehad het nadat hy geoefen het terwyl hy verkouesimptome gehad het.

Marissa Hepburn het aan Maroela Media gesê haar seun Marko en sy boetie is kranige rugbyspelers. “Marko en sy boetie is gekies vir die Oryx-sewesspan wat binnekort na Dallas vertrek en hy wou gaan oefen,” het Marissa gesê. Marko het verkouesimptome gehad, maar sy ma oortuig hy voel beter en Sondag gaan oefen.

Albei boeties speel ook vir Tukkies se o.18-span. “Toe ons huis toe ry ná oefening, het hy vir my gesê: ‘Ma, ek voel nie lekker nie.’ Hy sukkel maar altyd ’n bietjie met sinus en ons het gedink sy sinus het nou ’n verkoue geword,” het Marissa gesê.

Marko en sy boetie Armand. Foto: Facebook.

Die gesin is huis toe en Marissa het begin kos maak. “Toe ek hom in sy kamer gaan haal, het ek hom op die vloer sien lê. Hy het reeds sy bewussyn verloor. Ek is self ʼn rugbyparamedikus en het sy lewenstekens nagegaan en met hom na die Netcare Montana-hospitaal gejaag,” het Marissa verduidelik.

Daar is deur die loop van die aand drie EKG’s gedoen en toe vasgestel dat hy infeksie in die hartsak het en  ʼn ligte hartaanval gekry het. Hy is Maandagoggend 01:00 huis toe.

“Sy dokter het ook vir my gesê as Marko op sy bed bewusteloos geword het en ek gedink het hy slaap, hy dalk nie Maandagoggend sou wakker word nie. Hy is ʼn sterk kind. Ons vat dit dag vir dag,” het Marissa gesê.

Marko sal eers weer rugby speel sodra die infeksie in sy hartsak opgeklaar het en die kardioloog tevrede is met sy vordering. Hy is ʼn gr. 11-leerder aan die Hoërskool Wonderboom.

“Dis nou my missie in die lewe om ander ouers en kinders te waarsku oor wat kan gebeur as jy oefen terwyl jy nie lekker voel nie. Selfs al het jou kind ʼn loopneus of hoofpyn, iets is fout – daar sal altyd nog geleenthede wees.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Pamela Woest ·

Ek self is baie skuldig aan dit, gaan oefen met ‘n kop wat dik voel of sinus drup of so iets. Jammer mamma oor jou seun, so bly hy gaan gesond word. Dankie dat ons deur julle storie, ‘n les kan leer.

Erica Cornelius ·

Daar is ‘n paar onderwysers wat veral hierdie moet lees. Ek weier dat my kinders oefen as hulle op antibiotika is of verkoue simptome het. Al baie die geval gehad waar veral die LO onderwyser dit net ignoreer en die kind dwing om te oefen.

Jennifer ·

Net jammer sommige afrigters druk die kind om te speel, en die kind is so bang hy verloor span dat hy maar speel.

Kandas ·

Mens moet uiters versigtig wees en GLAD nie oefen, selfs al het jy net ‘n ligte verkoue! Ek het Miokarditis gehad na klierkoors en dit is baie beslis nie ‘n aangename ervaring nie! Baie gevaarlik. Wag liewer tot jy heeltemal herstel het en ignoreer ander wat jou vir ‘n sissie wil uitmaak. Dit het my byna ses maande geneem om ten volle te herstel.

andrea van vuren ·

Die seun het miokarditis gekry. Die verkoue-virus het sy hartspier aangetas. Die ouers kan dankbaar wees dat hy dit oorleef het. BAIE, BAIE gevaarlik!

al ·

Baie dankie dat jy ouers waarsku. Elke skool. In die land behoort kennis te neem van bogenoemde.
Die Here was jou genadig dat jy mediese kennis het en dat hy bewusteloos op vloer gelê het toe dit nog nie slapenstyd was nie.

Genoeg ·

My dogter het hokkie gespeel. Syt bronchitis gekry en ek het haar dokter toe gevat. Terwyl ons by die dokter is bel die hokkie juffrou haar en se sy beter sorg dat sy nou by oefening uitkom. Syt begin kla van pyn op die bors en die juffrou het op haar geskree. Syt hokkie gelos, n sport waaroor sy mal is. Want ek gaan nie dat my kind op die sport veld in mekaar sak agv n juffrou nie.
N mens dink n verkoue is niks, maar dit tas verseker jou hartspiere aan.
Sterkte aan die seun. Hoop jy is sommer vinnig weer op die been.

Marietjie ·

Mense julle moet regtig baie versigtig wees. Vriende van ons se 19 jarige seun het so 3 jaar gelede ook gaan rugby oefen en skaars`n halfuur nadat hulle by die huis weg is het die seun op die veld gesterf, sy hart het doodeenvoudig ophou klop. Nadoodse ondersoek het getoon dat hy het `n virus in sy hart gehad het as gevolg van `n verkoue wat hy gehad het. Dit is net verskriklik hartseer.

Daniell ·

Asseblief moet dit nie doen nie ek het laas jaar 6 nagte in ICU gele asgevolg van die (25 jaar oud)… en ek het net bietjie vinnig geloop by die werk. As jy siek is hou dit rustig.

Deon ·

Ek wonder wat het met daai seun gebeur wat in Nederland gaan rugby speel het en toe ook daar inmekaar gesak het van sy hart so paar jaar gelede?

Basson ·

Laat dit ook ‘n ernstige waarskuwing wees vir Comrades atlete wie 4 Jun gaan aantree met koors ens.

Aggenee ·

My seuns het ook al siek gaan rugby oefen, hulle wil nie altyd luister nie, maar afgesien daarvan die afrigters verstaan dit nie altyd nie ek dink hulle moet ingelig word oor die gevare. As my seuns op antibiotika is weier ek dat hulle speel.

Sterkte aan Marko. My seun ken hom en is baie ontsteld oor dit

Antoinette ·

Ons is deur dieselfde trauma…seun 27 jaar oud..vooraand van sy huwelik…
.ook gedink dit is net bronchits…toe longontsteking…was in hospitaal…drie dae voor sy huwelik is ontslaan..
Vrydagaand voor troue na n gesins ete en daarna net genoem hy voel sleg….en toe sê hyself mamma ek dink ek kry n harttaanval waarna ek gesê het maar jy is laf jynis te jonk..nietemin het ons mwt hom gejaag na die naaste hospitaal..hy was twee weke in hospitaal…permanente skade aan sy hart en longe …hy moet homself oppas…
en n jaar later na sy troue sterf sy Pa dood aan n hartaanval…sonder vooraf tekens van een

Justice ·

Chris Barnard het gese dat indien jy met `n verkoue oefen is die risiko dat jou hartspiere kan afsterf wat slegs deur `n hartoorplanting en niks anders herstel kan word.

Annemarie Lombard ·

So 5jr gelede het my superfikse seun op 21 n hartaanval gekry. Hy het vir varsity cup geoefen maar gelukkig het dit by die koshuis gebeur. Kardioloê het bevind dit was agv lae protein dieet (koshuisinwoners is geneig om vinnig pasta te maak), lae waterinname en hoë intensiteit oefening dat die skaars bloedverdikkingsfaktor getrigger is. Hy moes ophou rugby speel en is nou op warfarin vir bloedverdunning

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.