Ma waarsku oor warmwaterbottels ná kleuter brand

Klein Minke destyds in die hospitaal. (Foto: ER24) 

In die lig van die nasionale bewusmakingsweek oor brandwonde wat Vrydag afskop, het ’n ma van Kaapstad haar nagmerrie-ervaring gedeel van haar dogter wat weens derdegraadse brandwonde weke lank in ’n hospitaal moes deurbring toe ʼn warmwaterbottel gebars het.

Klein Minke Botha se verhaal is in ʼn verklaring gedeel wat deur ER24 uitgereik is in ʼn poging om ouers bewus te maak van die gevare van warmwaterbottels.

Marilize Botha vertel in die verklaring dat haar dogter, Minke (toe vyf jaar oud), een koue aand, sowat vyf jaar gelede, gevra het of sy haar warmwaterbottel, wat sy destyds as ʼn geskenk gekry het, kon volmaak om teen haar vas te hou.

Botha onthou dat sy op dié aand besig was om Minke se boetie, wat toe 13 maande oud was, te voer, toe sy ʼn gil uit Minke se kamer gehoor het. Minke het per ongeluk op die warmwaterbottel gaan sit waarna die bottel gebars en kookwater op haar been en boude gemors het.

Botha verduidelik dat sy en haar man inderhaas probeer het om ʼn skreeuende Minke se broek af te trek waarna die velle saam met die broek afgekom het. Minke se pa het met haar hospitaal toe gejaag waar die dokter by ongevalle aanvanklik vermoed het dat dié vyfjarige tweedegraadse brandwonde opgedoen het. Die twee is laat die aand terug huis toe nadat die dokter die brandwonde verbind het.

Minke en haar pa het die volgende oggend teruggegaan hospitaal toe waar die dokter aan diens aanbeveel het dat die dogtertjie eerder opgeneem word om haar wonde onder narkose skoon te maak.

Minke het op die ou end sowat drie weke in die hospitaal deurgebring waartydens sy ses keer in die teater gedraai het om veloorplantings te ondergaan aangesien sy toe wel derdegraadse brandwonde oor 10% van haar lyfie opgedoen het.

Die gebarsde warmwaterbottel. (Foto: ER24) 

Botha verduidelik dat derdegraadse brandwonde beteken dat al drie lae van die vel gebrand het. Die wonde is nié rooi of geswel nie maar is eerder wit-grys van kleur en lyk soos leer.

Minke moes nadat sy ontslaan is met behulp van ʼn fisioterapeut weer volle funksie in haar been herwin, aangesien die kookwater die vel asook die vetlaag bo-op die spier gebrand het. Sy moes ook elke maand ʼn wondkliniek besoek, spesiale klere dra en laserbehandelings by ʼn dermatoloog ondergaan.

“Die laserbehandelings was nodig om die keloïede (ʼn soort verhoogde litteken) wat op haar vel gevorm het, te versag. Hierdie sessies het ongeveer tien minute geduur en sowat R9 000 per sessie wat verdowing insluit, gekos. Sy het ook ʼn kindersielkundige gaan sien,” het Botha bygevoeg.

Botha het ʼn beroep op ander ouers gedoen om uit haar gesin se ervaring te leer. “Warmwaterbottels is nie altyd veilig nie. Jy weet nooit regtig hoe oud die rubber van só ʼn bottel is nie. Kinders kan veral maklik ʼn warmwaterbottel vir ʼn speelding misgis. Gebruik eerder ʼn boontjiesakkie in die winter en doen wat jy kan om onnodige hartseer te vermy,” het sy gesê.

Vandag is Minke tien jaar oud en ʼn gesonde kind. “Sy het ʼn baie sterk persoonlikheid en hanteer op dié stadium die letsels op haar lyf. Haar tienerjare lê egter voor en ons hoop sy bly so sterk soos nou,” het haar ma gesê.

Die nasionale bewusmakingsweek oor brandwonde duur vanaf 3 tot 9 Mei.

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, verduidelik dat brandwonde ernstige gevolge vir volwassenes en kinders inhou. Kinders is egter meer geneig om brandwonde op te doen aangesien hulle nie die gevaar van onder meer vuur en elektroniese toestelle verstaan nie, het hy gesê.

Volgens Meiring gebeur dié soort ongelukke meestal tuis, veral in die kombuis.

Meiring het in die lig van die bewusmakingsweek riglyne verskaf indien ʼn geliefde ernstige brandwonde opdoen:

  • Koel eerstens die brandwond af. Dit kan gedoen word deur die wond onder skoon, lopende koue water te hou.
  • Plaas ʼn steriele wondbedekking oor die brandwond.
  • Indien die brandwond oor ʼn groot deel van die liggaam strek of op ʼn sensitiewe area opgedoen is, moet dié wond liefs mediese aandag ontvang.
  • Boererate soos olies, botter of skoenpolitoer moet nié gebruik word nie aangesien dit die brandwonde kan vererger.
  • Indien jy onseker is, ontbied mediese hulp.
  • Moet nooit klere wat aan die vel vasgebrand het, uittrek nie. Dit is egter nie altyd opsigtelik dat ʼn kledingstuk wel aan die vel vaskleef nie. Indien jy twyfel, koel die area af sonder om die klere uit te trek en ontbied mediese hulp.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Francois le Cockon

‘n Mens gooi nie kookwater in ‘n warm water bottel nie, slegs warm water. Dit staan so op alle warm water bottels.

honoruable member

Sjoe sit nou self en wonder hoe vreeslik warm was daardie warm bottel nie om so vreeslike brandwond te maak nie. Mense moenie sulke kokende water daarin gooi nie .

luka

Kokende water in plastiek bottel!!!???

Wielspore

Daar is tot dusver kookwater kommentaar gelewer wat almal waar is, geen kookwater, moet die bottle nie te vol maak, druk al die lug uit.
Ons is ook geleer om die warm bottel voor die tyd in jou bed te sit om hom solank warm te maak, teen die tyd wat jy inklim is jou slaap plek snoesig en warm en die bottel nie meer so warm.
Sterkte aan die kind en die ouers.

Devill

Die boontjiesakkies, soos voorgestel, werk netso goed.
Ons het al een vir jare en jare. Hulle raak vinnig warm in die “nuker” en sal nooit sulke brandwonde kan veroorsaak nie.

Het ‘n stok ou ene oop gemaak en die boontjies sommer net buite gegooi. Glo dit of nie, ‘n hele klomp het opgekom!