Ma wakker ná kameelperd haar en seun trap

Dr. Katy Williams en haar seun, Finn (Foto: Verskaf)

Dr. Katy Williams (35), die vrou wat kritieke beserings opgedoen het nadat sy en haar driejarige seuntjie deur ʼn kameelperd in ʼn wildlandgoed buite Hoedspruit in Limpopo getrap is, is by haar bewussyn.

Luidens ʼn verklaring wat deur die familie uitgereik is, het Katy meer as ʼn week ná die voorval haar bewussyn herwin en kan sy kommunikeer deur woorde en sinne op ʼn papier te skryf. “Katy se herstel vorder goed en haar toestand verbeter daagliks. Sy verstaan dat dit tyd sal neem om ten volle te herstel, maar het ʼn positiewe ingesteldheid en verbaas dokters met haar vinnige vordering,” lui die verklaring.

Die driejarige Finn word nog verdoof, maar is volgens die familie ook besig om wakker te word. “Namate sy verdowing stelselmatig verminder word en hy sy bewussyn begin herwin, verwag sy mediese span om ʼn beter aanduiding van die omvang van sy beserings te kry. Ons kan bevestig dat hy onafhanklik asemhaal en hoop om binnekort meer inligting oor sy toestand te hê.”

Ma en seun word in die Busamed Modderfontein-hospitaal in Johannesburg behandel.

Die voorval het op 3 September in die Blyde Wildlife Estate sowat 15 km buite Hoedspruit gebeur waar die gesin woon. Katy se man, dr. Sam Williams (36), het gaan draf en toe hy omstreeks 18:00 terugkeer, het hy op die toneel, sowat 150 m van die gesin se huis, afgekom waar die kameelperd steeds besig was om sy vrou en seuntjie aan te val. Finn wag gewoonlik op dié plek vir sy pa om terug te keer wanneer hy gaan draf.

Sam kon die kameelperd verjaag. Katy en Finn is hierna na ʼn nabygeleë vliegveld gehaas waar die mediese span onverpoos gewerk het om hulle te stabiliseer. Finn is eerste met ʼn ER24-helikopter na die Busamed Modderfontein-hospitaal geneem, gevolg deur sy ma in ʼn tweede helikopter.

Dit het later aan die lig gekom dat die kameelperd onlangs gekalf het en dat die aanwesigheid van haar twee maande oue kalf waarskynlik haar gedrag beïnvloed het.

Katy en Finn. Foto: Verskaf

Volgens die familie het Riaan Celliers, die landgoedbestuurder, intussen bevestig dat hulle met die proses besig is om die kameelperdkoei en haar kalf na ʼn ander reservaat te skuif. Sodra die nodige vereistes gereed is, sal die kameelperde geskuif word.

“Mnr. Celliers het ook bevestig dat die landgoed slegs vlaktewild huisves. Gevaarlike wild soos leeus, olifante, buffels, renosters of luiperds kom nie in die gebied voor waar die Williams-gesin woon nie. Mnr. Celliers het gesê dieregedrag kan onvoorspelbaar wees en verander wanneer daar kleintjies in die omtrek is,” lui die verklaring.

Intussen het vriende van die familie ʼn skarefinansieringsinisiatief op die been gebring om Katy en Finn met hul mediese en rehabilitasiekoste te help. Teen Saterdagmiddag is meer as £10 200 (ongeveer R198 000) vir die gesin ingesamel.

Katy is in Baltimore in die VSA gebore en het as kind in Egipte, die VSA en België gewoon. Sam is oorspronklik van Bradford, West Yorkshire, in die Verenigde Koninkryk. Hy het sy vrou in 2003 ontmoet terwyl hulle navorsing in Indonesië gedoen het. Albei het hul PhD in biologiese antropologie behaal by Durham University in die Verenigde Koninkryk. Hulle spesialiseer in karnivoorbewaring.

Finn is in Engeland gebore, maar bly al sy hele lewe lank in Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.