Ma wat glo deur seun aangeval word, sterf

Ruan van Heerden (18) en een van sy medebeskuldigdes, Colin William Phelps (22) in die beskuldigdebank. ‘n 17-jarige meisie word saam met hulle aangekla. (Foto: Christel Cornelissen)

Magda van Heerden, ’n ma van Centurion wat byna twee jaar gelede glo deur haar seun en dié se vriend met ’n mes gesteek is, het gesterf.

Magda en haar man, Barnie, is op 10 Januarie 2020 in hul huis in Pierre van Ryneveld aangeval, glo deur hul seun, Ruan van Heerden, en sy vriend, Colson Phelps. Ruan was toe slegs 18 jaar oud en pas uit ’n rehabilitasiesentrum vir dwelmverslaafdes ontslaan.

Magda is glo 36 keer met ’n mes gesteek.

Ruan en Phelps staan tereg op aanklag van poging tot moord en roof met verswarende omstandighede. Hulle het op 14 Oktober laas in die streekhof in Pretoria verskyn. Nie een van die twee is tans in aanhouding nie.

Ruan is tans in die Clearview-rehabilitasiesentrum in Pretoria.

Volgens Stiaan Bekker, woordvoerder van die familie, is Magda Saterdagaand dood nadat sy omtrent agt weke lank in die hospitaal was. Hy kon nie die spesifieke oorsaak van haar dood aan Maroela Media bevestig nie.

“Magda het nooit volkome van haar beserings ná die aanval herstel nie. Sy was ná die aanval vir byna sewe maande in die hospitaal,” het Bekker gesê.

Magda was boonop ’n lupuslyer, wat haar gesondheidstoestand versleg het.

Volgens Bekker gaan daar ’n nadoodse ondersoek gedoen word om die oorsaak van Magda se dood te bevestig. Indien dit enigsins blyk asof haar dood uit haar beserings van die aanval spruit, is daar ’n moontlikheid dat die saak van poging tot moord na ’n saak van moord verander sal word.

Volgens Bekker is Barnie hartgebroke oor Magda se dood.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Frank ·

Hoe op dees aarde is dit MOONTLIK dat hulle nie in aanhouding is nie!!!!!!! Al is hulle nie vlugrisikos nie.

Tanniepetoors ·

Hoeveel hartseer en teleurstelling kan ouers verduur? Hoekom? Ons probeer ons kinders grootmaak na die beste van ons vermoë en iewers raak van hulle die spoor totaal byster. So tragies.

madels ·

Julle weet nie hoeveel hel en pyn die ander seun se ouers deur is nie. Onbeskryflik groot!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.