Ma wat eie lewe neem ‘leef voort in seuntjies’

Rochelle Drury is Maandag hartseer gegroet (Foto: Rochelle Drury, Facebook)

Rochelle Drury (24) se ouers, Pieter en Myrtle Drury, het in roerende briewe aan hul geliefde dogter beskryf hoe leeg hul harte sonder haar is en hoe baie haar twee seuns haar gaan mis. Dié briewe is Maandag tydens Drury se gedenkdiens in die Baptiste Kerk in Langenhovenpark, Bloemfontein, voorgelees.

In die briewe probeer die ouerpaar tussendeur al die hartseer sin maak van hul dogter se skielike heengaan.

Rochelle en haar kêrel, Jason Jonker (26), het verlede week ’n dag uitmekaar hul eie lewens geneem. Haar twee seuntjies, onderskeidelik 10 maande en vier jaar oud, word agtergelaat. Dit is nie duidelik wat die paartjie gedryf het om hul eie lewens te neem of hoe hulle dit gedoen het nie.

Rochelle se troosdiens is Maandag om 11:00 deur ds. Petri Spies van die Baptiste Kerk gelei.

Haar ouers se briewe is tydens die troosdiens namens hulle voorgelees.

Pieter het Rochelle in sy brief as ’n uitmuntende dogter, jong meisie, vrou en metgesel beskryf, wat die lewe met soveel mag aangepak het.

Volgens Pieter leef Rochelle nou voort in haar twee seuntjies.

“Jou seuntjies was jou lewe. Dad verstaan nie hoekom dit moes gebeur nie, en hulle gaan dit ook nie eendag verstaan nie. Ek wil hê dat jy jou seuntjies moes grootmaak en ’n goeie ma vir hulle wees soos jy reeds was. Hul gesiggies en wese het altyd opgehelder as jy die vertrek binnegekom het. Nou wag hulle vir hul mamma, maar sy kom nie meer nie. Hulle verstaan nie waar jy nou is nie. Hoe vertel ek vir jou seuntjies mamma is nou by Liewe Jesus en dat sy nie weer terugkom nie?

Jason Jonker en Rochelle Drury het hul eie lewens ’n dag uitmekaar geneem. (Foto: Verskaf)

“My hart is gebroke… Dit voel asof dit uit my borskas geruk is… Niemand sal ooit jou plek in my hart inneem nie. Niks maak meer sin nie (…)

“Ek is die Here ewig dankbaar dat Hy jou vir 24 jaar ons geleen het om na jou om te sien en die fantastiese vrou waarin jy ontwikkel het. Jy is nou by Jesus en Hy sal jou nou verder lei, behoed en bewaar.”

Myrtle skryf in haar brief haar lewe het in ʼn oogwink verander ná Drury se dood.

“Jy was die kosbaarste mens wat ek nog ooit vasgehou het. Jy was my baba. My prinses, vertroueling en beste vriendin. Mamma sukkel om in woorde te beskryf wat jy vir my beteken het. Dit is so moeilik. My sonskyn is weg,” skryf sy.

“Jy was die mooiste mens vir my – absoluut beeldskoon. My gedagtes fladder rond en my hart pyn so dat ek skaars kan asemhaal. Ek vat elke dag soos dit kom, maar ’n leemte het in my lewe gekom. Niks sal dit ooit kan verander nie. Ek mis jou my pop, my mooiste, mooiste babatjie. Ek wens ek het geweet dat dit die laaste dag was dat ek jou sou vashou, want dan sou ek jou nooit laat gaan, het nie. My arms is leeg sonder jou.”

Spies het familie en vriende tydens sy boodskap probeer vertroos.

“Die lewe maak snaakse draaie en soos een seisoen eindig begin ʼn ander een. Dit is nou die begin van ʼn nuwe seisoen – ʼn seisoen sonder Rochelle. Ek bid dat die Here julle in hierdie nuwe seisoen sal dra. God wil jou Herder wees wat daar is vir jou in die hartseer en deur al die vrae.

“Ons sê vandag totsiens vir ’n sussie, dogter, niggie, kleindogter, vriendin en ma. Iemand wat kunstig was, altyd mooi gelyk en mooi gekyk het na haar kinders. Ons sal haar aansteeklike lag onthou. Alhoewel sy ʼn klein hartjie gehad het, kon sy haar man staan.”

Jason se gedenkdiens word Saterdag om 10:50 gehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

12 Kommentare

jongste oudste gewildste
Papsak

Ja so hartseer bly jou kind baie sterkte vir seuntjies en ouers God sal vertroosting bring hou vas net aan hom

Pampoen

Baie tragies en hartseer. Dis ‘n mooi paartjie. Mens wens dit kon voorkom word. Baie sterkte aan die seuns en ander familie.

Pablo

Wat n hartseer storie.

Mariaan

Los dan net n briefie…vir jou ouers..net om hul harte te beskerm en dat hul kan VERSTAAN …en so berusting op n manier kan vind….al die vrae sal mens mal maak…spaar hul die selfverwyt..want ek as ouer sal heeltyd wonder..het ek iets gemis? Los net n briefie….vir die wat vir jou lief is…baie sterkte aan hierdie families…dis tragies

Swerwer

Innige simpatie en meegevoel aan Rochelle en Jason se ouers. Daar is nie woorde wat die pyn en hartseer kan verlig of beter maak nie. Weet net verseker dat jul in ons gebede bly.