Ma wat glo kinders vermoor moet in hospitaal bly

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: Facebook

Gary Clarence en sy tweelingseuns Foto: Facebook

ʼn Hof in Engeland het Vrydag bepaal dat Tania Clarence, ʼn vrou van Suid-Afrika wat van die moord op haar drie gestremde kinders beskuldig word, in die hospitaal moet aanbly.

Clarence (42) is aan die einde van April na ʼn hospitaal gestuur vir behandeling en die hof het Vrydag bepaal dat sy tot 20 Junie in die hospitaal moet bly, berig die Britse persvereniging. Haar situasie sal dan weer hersien word.

Sy word van die moord op haar driejarige tweelingseuns, Ben en Max, en vierjarige dogter Olivia, beskuldig.

Regter Brian Barker het verlede maand beslis dat sy uit aanhouding vrygelaat moet word en, kragtens die Wet op Verstandelike Gesondheid, onder veilige bewaring in die hospitaal aangehou moet word. “Daar is ʼn behoefte aan onmiddellike behandeling in ʼn veilige omgewing,” het Barker in daardie stadium gesê. Hy het ook die saak met mediese kenners bespreek. “Die omstandighede maak dit ʼn buitengewone saak en laat die hof toe om buitengewone besluite te maak.”

Al drie kinders het aan spinale spierdistrofie gely. Die siekte, wat ook as “floppy baby”-sindroom bekend staan, veroorsaak dat kinders nie beheer het oor hul bewegings nie en hul lewensverwagting word drasties beperk.

Die polisie is op 22 April om 21:30 na die gesin se vyfslaapkamerhuis in Thetfordweg, New Malden in Londen ontbied waar hulle op die kinders se liggame afgekom het. Die kinders is op die toneel dood verklaar.

Clarence is by die St George’s-hospitaal in Tooting vir snye behandel en op 24 April aangekla. ʼn Pleit- en saakbestuurverhoor sal op 15 Julie plaasvind. -SAPA

Lees ook:
Ma wat glo kinders vermoor in hospitaal aangehou
Ma wat glo kinders moor, hoor dalk oor borg
Ma in hof vir moord op kinders
SA vrou in hof na moord op kinders
SA’ner ma vas vir moord op kinders

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.