Ma wat kinders glo vergiftig in hof

Argieffoto

ʼn Vrou van Pretoria wat na bewering haar kinders vermoor het deur rotgif in hul kos te sit, het Maandag in die Moretele-landdroshof verskyn.

Kgomotso Josephine Makena (27) het byna ʼn week lank van die polisie gevlug voordat sy haarself Saterdag aan die polisie oorgegee het.

Maroela Media het vroeër berig die twee kinders se pa het hulle op 21 Mei in hul ma se huis in Stinkwater, in die noorde van Pretoria, dood in die bed aangetref. Die dogtertjie was sewe en haar boetie twee.

Konst. Herman Moremi, woordvoerder van die polisie, het gesê die polisie het rotgif langs die bed gekry waar die kinders met komberse bedek was asof hulle slaap. Nadat Makena haarself aan die polisie oorgegee het, het sy erken dat sy rotgif in die kinders se kos ingemeng het en gesê sy het self ook van die kos geëet, maar dit oorleef.

Die saak is Maandag tot 6 Junie uitgestel sodat Makena ʼn regsverteenwoordiger kan kry. Sy staan tereg op twee aanklagte van moord.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.