Ma wat kroos glo vermoor ‘verstandelik onbevoeg’

Zinhle Maditla het eers haar hoof bedek, maar die landdros het gevra dat sy die stuk lap verwyder. Foto: ANA

Die vrou wat daarvan beskuldig word dat sy haar vier kinders in die woonbuurt Klarinet in Emalahleni, Mpumalanga, om die lewe gebring het, was moontlik verstandelik onbevoeg toe sy die moorde gepleeg het.

So het Zinhle Maditla se prokureur, Jabulani Maphete, Maandag in die Witbankse landdroshof beweer terwyl hy aansoek gedoen het dat die 24-jarige na ʼn psigiatriese instelling vir evaluering verwys word.

Maditla was Maandag in die hof teenwoordig waar eers verwag is dat sy aansoek om borgtog sou gedoen het.

“Ek het besluit om nie met die borgtogaansoek voort te gaan nie,” het Maphete, wat van Regshulp Suid-Afrika is, gesê, “en die rede vir dié aansoek is dat ek met die beskuldigde beraadslaag het en dit lyk nie asof sy in ʼn goeie geestestoestand verkeer nie.

Die aantygings teen haar is hoogs buitengewoon.

“Die aard van die misdade laat ʼn mens wonder of dit moontlik is om sulke dade te pleeg wanneer jy by jou volle verstand is. Die aantygings teen haar is hoogs buitengewoon. Ek glo ʼn mens het soveel deskundige kennis nodig as wat die wet jou toelaat.”

Maditla het haar op 30 Desember aan die polisie oorgegee kort nadat die ontbinde liggame van haar kroos in haar huurkamer in Klarinet gekry is. Sy staan tereg op vier aanklagte van moord met voorbedagte rade.

Die kinders was twee meisies (onderskeidelik 4 en 8 jaar) en twee seuns (onderskeidelik 7 jaar en 11 maande).

Maditla, wat Maandag skaam in die hof voorgekom het, het die saal binnegekom terwyl sy haar hoof en gesig met ʼn stuk lap bedek het.

Landdros Darleen Venter het haar gelas om die lap te verwyder en sy het so gemaak, maar steeds die regterkant van haar gesig met haar hand bedek terwyl sy in die beskuldigdebank gesit het om te keer dat die media haar afneem.

Die staatsaanklaer, Johan Harmse, het ingewillig tot die aansoek en Venter het dit gevolglik toegestaan.

Venter het gesê Maditla sal na ʼn instelling op Ermelo verwys word. Die saak is tot 14 Februarie uitgestel wanneer die psigiatriese verslag na verwagting voorgelê sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Tanya ·

Ja hoor sy het haar kinders dood gemaak vermoor en haar self probeer om die lewe te bring.Ek glo dit nie vir een oomblik nie.Sit haar in tronk om WEDKOPPIES wasr sy hoor

Dafer ·

Wat sy gedoen het is verkeerd!
Enigeen van ons kon dieselfde deurgegaan het! Kom mense ‘n bietjie meer deernis (undersdtanding), magtag.

Ondersteuning van Bo ·

Ek self het al telkemale donker gedagtes gehad gedurende die afgelope 2 jaar. My man was lank werkloos, my babas slaap nog steeds nie snags nie en na-geboortelike depressie is nie ‘n grap nie. Dank die Here dat Hy ingegryp het anders het ek ook daar gestaan.

PIPPIE LANGKOUS ·

Dafer, die vroumens het haar man in die bed gevang saam met ‘n ander vrou en toe besluit om uit weerwraak haar 4 pragtige kinders te vergiftig. Wate deernis moet ons he met haar? Sy het dit nie gedoen omdat sy swaarkry of so iets nie. Magtag!!! (Soos jy se)

Maljan ·

Maar nou nadat die las van haar skouers af is sal sy weer verstandelik bevoeg wees om aan te gaan met haar lewe? Sy was verstnselik bevoef om te vlug.

Stripes ·

Ek weet nie wat die eintlike omstandighede was nie maar ek was ook al in die verlede so woedend dat ek moord sou pleeg sonder om sleg te voel. Woede, magteloosheid, verdriet en hulpeloosheid glo ek kan mens tydelik waansinnig maak en jou dade laat pleeg wat jy nie omder normale omstandighede sou pleeg nie. Berou na die tyd glo ek kan ook na die tyd jou waansinnig maak. Ek sukkel om in te sien dat ‘n mens so koelbloedig kan wees om sulke dade vir die lekkerte te doen. Wees dankbaar dat jy nie in so ‘n situasie is of was nie, gaan op jou knieë en bid dat dit jou gespaar sal bly. Dit is jammer oor die slagoffers wat nie gevra het om daar te wees nie en nou aan die korste ent moet trek.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.