Ma wat teregstaan vir moord pleit dalk skuldig

Die ma van Ballito het Donderdag hier verskyn. (Foto: Tania Heyns)

Dit wil voorkom of die ma van Ballito wat daarvan beskuldig word dat sy haar vierjarige dogtertjie in ’n emmer vol water verdrink het, ’n pleitooreekoms met die staat wil aangaan.

Die 45-jarige vrou se prokureur het Donderdag in die hof in KwaDukuza gevra vir ʼn afskrif van die beweerde skuldbekenning wat die beskuldigde sou gemaak het.

Maroela Media het vroeër berig die vrou is verlede week in hegtenis geneem nadat sy na bewering haar kleuter in ’n emmer vol water by haar huis in Ballito aan die KwaZulu-Natalse Noordkus verdrink het.

Sy het Donderdagoggend in die KwaDukuza-landdroshof verskyn, waartydens haar regsverteenwoordiger, Alistair Janssens, versoek het dat die saak met ’n week uitgestel word sodat “pleitonderhandelinge” kan geskied.

Janssens het voorts versoek dat die staat ’n kopie van die beweerde bekentenis aan die verdediging verskaf.

Daar was vanoggend geen familielede in die hof toe die skraal ma vir enkele minute in die beskuldigdebank verskyn het nie. Sy het verwese voorgekom. Haar bruin hare het los oor haar maer skouers gehang terwyl sy deurgaans aan ’n baadjie in haar hande vasgeklou het.

Sy het nou en dan haar kop in ooreenstemming met opmerkings van landdros Blanche van Heerden geknik of grond toe gestaar voordat Van Heerden eindelik die saak tot 12 Mei uitgestel het.

Janssens het versoek dat sy kliënt in die Umhlali-polisieselle bly sodat hy in die komende week met sy kliënt en haar man kan beraadslaag. Volgens Janssens het hy nog net een keer met sy kliënt se eggenoot beraadslaag. Die vrou het glo ook ʼn tienjarige seun.

Luidens inligting was die vrou se verweer toe die polisie haar oor die voorval uitgevra het, dat haar kleuterdogtertjie ’n steurnis was.

“Die ma het aan polisielede vertel dat haar kind moeilik was en haar gepla het, daarom het sy besluit om die kind in ʼn emmer vol water te verdrink totdat sy ophou beweeg het,” het die polisie kort ná die voorval gesê.

Albei die dogtertjie se hande was glo met kleefband vasgebind. Sy is op die toneel dood verklaar.

Kommer oor saak

Janssens het vanoggend sy kommer uitgespreek oor inligting wat glo aan die media “gelek” word. Volgens hom is inligting rakende sy kliënt se saak wat nie eens aan die verdediging bekend is nie, die afgelope week in die media gepubliseer.

Van Heerden het benadruk dat dit kommerwekkend is en die staat versoek om ’n ondersoek na die moontlike bron van die inligting te gelas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

LD ·

Sies! Gaan vrot in die tronk! En voor mense my stenig…. Hierdie tipe stories is altyd moord! Dit was nie ‘n ongeluk soos hulle later beweer nie!

efjy ·

Watse pleitooreenkoms wil sy met die staat aangaan. Sy het reeds gebieg dat sy haar kind vermoor het. Sy het selfs ‘n motief verskaf.

Janine ·

“Janssens het vanoggend sy kommer uitgespreek oor inligting wat glo aan die media “gelek” word.”

DIS waaroor jy jou bekommer? Ek is meer bekommerd oor iemand wat so geirriteerd geraak het, dat sy haar 4 jarige KIND in ‘n emmer verdrink het!

Maar nou ja, soos ek al vele maal hier genoem het, julle doen ook maar net jul werk.

Swerwer ·

Hoe op aarde kan jy ‘n onskuldige kindjie vermoor/verdrink, dit is mos nie menslik nie.

Sarel ·

Tragedie en sy word klaar in die MEDIA verhoor.
Tragedie wanneer iemand ‘n mens daardie stadium bereik waar jy geestelik net knak…omdat sy moontlik hulp nodig gehad het en dit nie gekry het nie.
Tragedies speel daagliks in vandag se samelewing af en almal is blootgestel aan daardie Geestelike Grens.
Moet nooit dink dat Tragedie jou nie kan tref nie.

KatjieDeKat ·

Dan vat jy jou kind na iemand betroubaar, of na die polisiekantoor, of na jou naaste pastoor of predikant en se: “Ek kan nie meer nie, ek gaan haar vermoor, ek kan eenvoudig net nie meer nie” Jy vermoor nie jou kind nie! Daar is geen maar GEEN verskoning hiervoor nie!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.