Ma weet jaar ná ongeluk van baba se dood

Shanei Norris en Reanei (Foto: Facebook)

Shanei Norris, die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se babadogtertjie in Maart verlede jaar dood is toe hulle saam in ʼn motorongeluk betrokke was, weet nou ʼn jaar ná die ongeluk uiteindelik van haar kind se dood.

Tracey Norris, Shanei se suster, het Dinsdag aan Maroela Media gesê sy is verstom oor hoe Shanei se geheue oor die afgelope paar maande verbeter het. Soveel só, dat sy haar dogtertjie, Reanei, uit haar eie onthou het.

Dít volg nadat Maroela Media vroeër berig het dat Shanei se geheue ná die ongeluk so sleg was dat sy aanvanklik nie van haar een jaar oue baba se dood geweet het nie.

Hoewel Shanei al hoe meer kan onthou, het sy wel breinskade gedurende die ongeluk opgedoen en kan slegs sekere gebeure onthou. Sy het ook gevolglik die verstand van ʼn klein dogtertjie, verduidelik Tracey. “Sy is nie die Shanei wat ons voor die ongeluk geken het nie. Sy onthou vir Reanei en is hartseer en huil, maar sy probeer ook om nie daaraan te dink nie.

“Sy was nog altyd borrelend, maar is nou éérs borrelend,” vertel Tracey.

Shanei Norris staan in haar kamer in die versorgingsentrum. (Foto: Verskaf)

Shanei woon steeds in ʼn versorgingsentrum waar sy heeltydse behandeling ontvang aangesien sy weens haar breinbesering nie op haar eie kan woon nie. Hiér is Shanei omring deur vriende en maak elke dag vordering. “Sy loop al met ʼn loopraam. Dit gaan maar nog sukkel-sukkel, maar sy is darem nie meer in ʼn rolstoel nie.”

Tracey sê Shanei is al baie meer onafhanklik as vantevore en waar sy voorheen nie eens haar kamer kon kry nie, kan sy vandag haar weg in en om die sentrum vind. Sy het ook haarself geleer om uit die rolstoel op te staan en het op haar eie probeer loop.

“Ons eerste fokus ná die ongeluk was eers om Shanei weer te laat loop,” verduidelik Tracey. Shanei se breinbesering sal nou aandag geniet en sy sal binnekort ʼn breinspesialis en sielkundige spreek.

Tracey en haar broer, Mark Norris, neem Shanei ook gereeld vir suurstofbehandeling deur middel van ’n Ozone-masjien. Tracey meen dié behandeling help beslis met die gevolge van haar breinbesering. Sy verduidelik dat die masjien Shanei met suiwer suurstof behandel wat deur haar brein geabsorbeer word. Dit aktiveer rooibloedselle in haar brein.

Shanei wil graag huis toe gaan, maar in dié stadium is dit nog nie moontlik nie. Sy gaan wel intussen elke naweek na familie toe. “Daar is nog ʼn entjie om te vorder voor sy sal kan huis toe gaan.”

Tracey is nietemin verstom oor Shanei se vordering oor die afgelope jaar. “Was dit nie vir die versorgingsentrum Park Care in Johannesburg waarheen ek en my broer haar gestuur het nie, sou sy nie gewees het waar sy vandag is nie. Sy sou nie kon loop nie.

“Ons was verpletter toe die ongeluk gebeur het. Maar ek het positief gebly en gesê Shanei gaan weer loop. Jou fokus bepaal jou werklikheid,” sê Tracey.

Lees alle berigte oor Shanei Norris op Maroela Media hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

31 Kommentare

Tanya ·

Waar is haar man. Hulle praat van haar familie en nie van haar man nie.

Anoniem ·

Tanya sy het nie n man nie.
Sy en die pa is uit mekaar nog voor die ongeluk gebeur het

wilma ·

Ouer boer, wou jy nie dalk jou kommentaar onder die artikel van Corlea geplaas het nie? Indien jy dié artikel behoorlik gelees het, sou jy weet dat die dame ‘n jaar gelede in ‘n motorongeluk was en haar kindjie aan die dood afgestaan het en dat sy nou eers stelselmatig begin onthou. Indien jou kommentaar wel op hierdie artikel gerig is, is jy ‘n ongevoelige, hartelose skepsel. Mag soiets nooit met jou gebeur nie. En voordat ek weer aangevat word deur mede-kommentators, hierdie is MY opinie alhoewel elkeen wel geregtig is op sy/haar opinie.

GM ·

Hoe lelik dit ook al mag klink – ek sou wens dat my geheueverlies permanent was wat my dogtertjie aanbetref as ek in dié mamma se skoene was. Ek wil my nie eers indink waardeur sy moet gaan nie. Sterkte aan jou en jou familie, en so ook aan die pappa en sy familie.

Zettie ·

Die feit dat die mamma breinskade het dink ek is dalk ‘n bedekte seën. Dit is net my eie mening. Ek dink as die mamma nié breinskade gehad het nie en dan nou moes uitvind dat haar pragtige ou dogterjie ‘n jaar gelede dood is in die ongeluk, die trauma moontlik so erg sou wees dat haar toestand dalk drasties kon verander het……..baie sterkte aan die mamma en hou so aan om elke dag net sterker en sterker te word.

Marinda ·

My hart stukend vir Shanei oor die verlies van haar kind, maar ek is bly sy maak goeie vordering. Sterkte.

Karinda ·

Nee Zettie, ek weet regtig nie hoe jy nou redeneer nie. Dit is verskriklik hartseer dat sy haar dogtertjie aan die dood afgestaan het maar met so wonderlike ondersteunings netwerk wat sy duidelik het sou sy ‘n goeie lewe kon lei en weer kinders kon hê.

Thomas ·

Al die pseudo sielkundiges hier. Ek neig na die wat soos ek hartseer is oor ‘n kind wat aan die dood afgestaan is, ‘n ma wat nie regtig verstaan nie, of dalk effe, en êrens in die agtergrond ‘n pa/oupa en of ma/ouma wat moet sterk staan.

Valerie ·

Thomas ek stem 100% saam met jou..Die hartseer en gemis is baie groot in daai familie en die ondersteuning wat hulle haar gee is wonderlik…Sterte aan almal God se liefde en genade omvou julle en dankie dat julle n voorbeeld is van hoe n familie moet saam staan.

GM ·

Karinda, jy het heel duidelik nie kinders nie, want dan sou jy weet dat hul jou hele wêreld word. Net die gedagte dat jou lewe in ‘n oogwink só kan verander dat hulle nie meer daar is nie, is genoeg om mens mal te maak. Dis maklik om te sê: “Sy kon nog kinders gehad het”. Elke kind is anders, en geen kind kan ‘n ander se plek inneem nie. Vir my is die dood verkiesliker bo saamleef met die wete dat my kinders nie meer daar is nie. Ek dink baie ouers voel so.

Pinkie ·

Yip GM, stem 100% . Ek wonder soms hoe ek dit sou hanteer as ek my seuntjie aan die dood moet afstaan. Ek sal mal raak. Sal nie normaal kan funksioneer vir maande en jare nie. Ek sal verkies om voor my kind dood te gaan.

Susan ·

Ag jy weet nie waarvan jy praat nie, GM. My dogtertjie (7) is 5 jaar gelede oorlede agv komplikasies na ‘n rug operasie. En ek voel wragtig nie ek wil ook nou doodgaan nie. Dis baie seer en ek mis haar elke dag, maar ek het nog ‘n lewe om te leef en ek het geliefdes wat my staande hou. En ek het nog ‘n dogter wat dit nie verdien dat haar mamma nou op ‘n hopie gaan sit en krepeer nie. Om ‘n kind aan die dood af te staan, is ‘n onbeskryflike seer, maar dit is nie die einde van die wêreld nie. Mens kry wel krag van bo om aan te beweeg.

VanAfrika ·

Susan, dit was die einde van my wêreld. Daar was niks wat my kon voorberei toe die ginekoloog vir my sê dat hulle kry nie fetale hartklop en al wat ek gedoen het is wag vir my baba om te kom. Ek het n nog so te sê n week oor gehad voor baba sy opwagting sou maak. Hierdie was my laaste ondersoek en toe die nuus. My hele wêreld het in duie gestort. Die dag met sy begrafnis het ek sy klein liggaampie in my arms gehou en my hart is saam met hom in sy graffie in. Vir jare lank het ek net bestaan, ek het gelewe vir my ander twee seuns ja, maar my brein was heeltyd by daai graffie, ek was en is heeltyd by daardie graffie. Ek was en is nog soms soos n dwalende gees en die mense wat my ken het die verandering gesien. Dis net nou met hierdie later jare wat ek die son weer sien skyn. So moenie vir mense wat simpatie wys sê hulle weet nie waarvan hulle praat nie. Ja dalk het GM nie n kind aan die dood afgestaan so sy weet nie hoe dit voel nie, dit bou net haar vrees as sy haarself indink hoe dit voel om n kind te verloor. Sy het niks negatief daarby bedoel nie. Ek verstaan jou pyn en weet van jou seer, sy dink net sy weet en het net goed bedoel.

Theresa ·

Alle eer aan die Here. Dis awesome. Werk hard en jy sal ok wees. Sterkte vorentoe en alles wat nog voorlê. Jy sal weer bo uitkom.

Anna ·

Ongelooflike liefde en ondersteuning van n broer en suster, Mag die Here julle seen en Sy hand oor julle familie hou. Sterkte met die pad vorentoe.

GM ·

Susan, as jy my eerste kommentaar gelees het, dan sou jy gesien het dat ek gepraat het van as ek net een kind gehad het en ek in die mamma se skoene was. Nie as daar nog ‘n kind is wat jou nodig het nie, dan is dit anders. En dis MY opinie. My kinders is my als. En daar is baie ouers wat die dood verkiesliker sou vind as hul al hul kinders verloor, ek het nie gesê ALMAL voel so nie. ‘Verkiesliker’ beteken ook nie dat mens nou gaan staan en selfmoord pleeg nie. Jammer oor die verlies van jou kind, ek is bly jy het vrede gemaak daarmee, maar dit is regtig onnodig om sommer in te val met ‘ag jy weet nie waarvan jy praat nie’. Jy het jou opinies, soos ek myne het. En almal het nie so ‘n fantastiese ondersteuningsnetwerk soos wat jy het nie. So dalk moet jy nie so vinnig wees om ander te ‘judge’ nie nè?

Susan ·

Dis seker elke persoon se keuse hoe om so iets te hanteer. Jy kan soos Job maak en jouself gaan sit en bejammer en wens jy was dood. Of jy kan die krag aanvaar wat die Here jou gee om bo dit uit te styg. Dis jou keuse. Moet net nie agterna spyt voel dat jou geliefdes wat nog lewe, met ‘n halwe mens opgeskeep moet sit nie. Hulle verdien dit nie.

GM ·

En nog ‘n ding, Susan, dit sal vir my vreemd wees as daar nie oomblikke was wat jy wel gevoel het ‘dis die einde van die wêreld’ na die dood van jou kind nie.

GM ·

@Susan, as jy my eerste kommentaar gelees het, dan sou jy gesien het dat ek gepraat het van as ek net een kind gehad het en ek in die mamma se skoene was. Nie as daar nog ‘n kind is wat jou nodig het nie, dan is dit anders. En dis MY opinie. My kinders is my als. En daar is baie ouers wat die dood verkiesliker sou vind as hul al hul kinders verloor, ek het nie gesê ALMAL voel so nie. ‘Verkiesliker’ beteken ook nie dat mens nou gaan staan en selfmoord pleeg nie. Jammer oor die verlies van jou kind, ek is bly jy het vrede gemaak daarmee, maar dit is regtig onnodig om sommer in te val met ‘ag jy weet nie waarvan jy praat nie’. Jy het jou opinies, soos ek myne het. En almal het nie so ‘n fantastiese ondersteuningsnetwerk soos wat jy het nie. So dalk moet jy nie so vinnig wees om ander te ‘judge’ nie nè?

GM ·

Dankie VanAfrika, ek is bly dat daar mense is wat met insig lees. Jammer oor die verlies van jou baba. Dieselfde het met ‘n familielid van my gebeur. ‘n Week of twee voor die geboorte van haar baba, het die naelstring geknoop. Alhoewel sy daarna nog twee kinders gehad het, het haar kindjie se dood haar menswees verander. Voorspoed.

Gesiggie ·

Hoe hartseer… om te dink die Mamma moes deur soveel gaan, en het nooit die geleentheid gehad om haar kind te groet, my wense vir haar is dat sy van nou af net meer en meer sterker sal word, en dat sy omvou sal wees met die Liedfde van haar familie wie so baie lief is vir haar. Sterkte aan elkeen wat deel is van haar lewe. Ek glo dat geen Ma maak nie saak wat ooit haar kind sal kan vergeet.

Elize Coetser ·

Susan ek was 19 jaar terug in n groot motorongeluk ek het 3 kinders. Ek het beide my bene verloor en in rolstoel. Jou aanmerking oor haar mense wat haar nou moet versorg …..sjoe as jy lief is vir iemand gee jy nie om nie…..jy moet net hoop dat dit nooit met jou moet gebeur nie…dis iets wat woorde nie kan beskryf nie ek net dankbaar ek het nie iemand soos jy in my lewe nie.

Susan ·

Elize, ek het niks bedoel oor hierdie mamma wie se mense haar moet versorg nie. Ek praat oor GM en ander wat sê hulle wil nie meer lewe as hulle een van hul kinders sou verloor nie of dat hulle dan nie meer normaal sal kan funksioneer nie. Ek het bedoel dis nie reg teenoor hulle familie dat hulle so optree net omdat hulle ‘n kind aan die dood moes afstaan nie. Lees net weer mooi als wat ek geskryf het. Mens kry regtig krag van Bo en kan wel weer normaal funksioneer. Ek is jammer oor jou ongeluk en dat jy so seer gekry het. En ek is seker jy het ook krag ontvang om dit te kan hanteer en die lewe te geniet!

Susan ·

Elize, lees net mooi waaroor ek praat. Ek praat nie van die mamma wat seergekry het en wie se mense haar nou moet versorg nie. Ek praat van mense wat sê dat hulle nie meer wil lewe as hulle ‘n kind verloor het nie of wat sê dat hul menswees aangetas sal wees. Ek bedoel dat hulle geliefdes dit nie verdien dat hulle so swartgallig deur die lewe gaan nie. Jammer as ek die verkeerde indruk geskep het. Ek sal nooit sê iemand wat in ‘n ongeluk seergekry het, is nou ‘n las vir hul familie nie. Maar iemand wat net heeldag loop en sulk oor die lewe hul onregverdig behandel, gee my net ‘n pyn. En so fluit-fluit is my storie ook nou uit. Vreugdevolle aand vir almal ?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.