Ma weet maand ná botsing steeds nie van baba se dood

Shanei en Reaney (Foto: Verskaf)

Die 23-jarige ma van Vereeniging in Gauteng wie se een jaar oue babadogtertjie verlede maand in ʼn botsing in Drie Riviere dood is, is ná langer as ʼn maand nog in ʼn Gautengse staatshospitaal én boonop steeds onbewus van haar baba se dood.

Die familie van Shanei Norris, ʼn ontvangsdame by ʼn dokterspreekkamer, pleit nou om hulp van die publiek vir bydraes om Norris na ʼn private hospitaal in Vanderbijlpark oor te plaas aangesien haar familie meen haar toestand het sedert die botsing “byna glad nie verbeter nie”.

Norris se dogtertjie, Reaney, is op 23 Maart op slag dood toe sy en Norris in ʼn botsing met ʼn bakkie betrokke was. Die presiese gebeure rondom die ongeluk is volgens die familie steeds onduidelik.

Norris, wat ernstige beserings opgedoen het, was ná die botsing in die motor vasgekeer en is met behulp van meganiese toerusting uit die motorwrak bevry. Sy is saam met die bestuurder van die bakkie na die hospitaal gehaas waar sy sedertdien behandel word. Die toestand van die ander bestuurder is nie bekend nie.

Noelene van Blerk, ʼn familievriend, het Woensdag aan Maroela Media vertel die familie is stukkend oor Reaney se dood, maar probeer in dié stadium al hul aandag daarop fokus om genoeg geld in te samel sodat Norrisna ʼn private hospitaal oorgeplaas kan word.

Van Blerk sê Norris is by tye wakker, maar sy ly ná die botsing aan geheueverlies. Volgens haar was Norris al meer as twee keer in die teater aangesien sy haar regterbeen en regterarm erg gebreek het in die botsing. Haar milt is ook verwyder en sy is geopereer vir ʼn skeur in haar lewer wat inwendige bloeding veroorsaak het.

“Dit maak ʼn mens stukkend om haar so te sien. Die behandeling wat sy aanvanklik in die staatshospitaal gekry het, was aanvaarbaar, maar dinge het nou begin om drasties te versleg. Shanei is onlangs na ʼn gewone saal oorgeplaas terwyl sy glad nie self kan eet of bad nie; bowendien verleen die dokters geen hulp nie. Een van ons griewe is dat haar kos bloot voor haar neergesit word, maar daar is niemand wat haar help om dit te eet nie.

“Ons is raadop. Sy word nie gewas of gevoer nie en dokters het nog geen oefeninge voorgestel om haar spiere geoefen te hou nie. Soos dinge nou lyk, kan sy nie self ʼn lepel vashou nie en dis vir haar baie moeite om haar kop self regop te hou. Ons is bekommerd dat sy bloot net sal agteruitgaan sonder die regte sorg en behandeling.”

Sy sê Norris is “baie deurmekaar” en kan glad nie die ongeluk onthou nie. Volgens Van Blerk het Norris Reany nog nie een keer sedert die ongeluk onthou nie. “Sommige dae dink sy sy is nog in die hoërskool, en dan praat sy oor die kosblikke wat haar ma vir haar skool toe ingepak het. Ander dae praat sy van ʼn kamp of ʼn geleentheid wat drie maande terug gebeur het. Sy het nog nie een keer sedert die ongeluk na Reaney gevra nie. Dis asof sy glad nie kan onthou dat sy ʼn kind gehad het nie.”

Die ongelukstoneel in Drie Riviere (Foto: ER24)

Van Blerk sê die familie het besluit om Norris nié in die stadium verder te traumatiseer deur haar oor Reany te vra of haar oor die eenjarige se dood in te lig nie. “Ons as familie het besluit dit is God se manier om haar nou te beskerm,” sê sy. “Wanneer haar liggaam weer reg is om die skok te hanteer, sal God haar geheue herstel – en dan is ons bereid om die pad saam met haar te stap en daar te wees. Maar solank sy nog nie na Reany vra nie, wil ons nie graag daaroor praat nie.”

Die familie het intussen ʼn prokureur aangestel om ʼn eis by die padongeluksfonds (POF) in te dien. Van Blerk sê omdat dit baie lank sal neem vir dié eis om aan die familie uit te betaal, is daar besluit om ʼn fondsinsameling te begin sodat die familie solank ʼn deposito kan betaal om Norris privaat te hospitaliseer.

“Ons is desperaat om haar in ʼn private hospitaal te laat opneem voordat haar wonde septies raak. Die familie het reeds baie seer agter die rug met die afsterwe van Reany en nóg ʼn terugslag sal eenvoudig te erg wees. Ons weet God het ʼn plan en ons wéét dat sy sal kan herstel as sy versorg word; daarom vra ons, nie omdat ons wil nie, maar omdat ons doodeenvoudig geen ander keuse het nie.”

Die familie beoog om Norris na die Cormed- private hospitaal in Vanderbijlpark oor te plaas. Vir meer inligting of trust-besonderhede, besoek die Facebook-groep Mommy Shanei of stuur ʼn e-pos na [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

25 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hannelie

Wat ‘n pragtige kind. Die staatshospitale (eintlik verskeie hospitale) se diens raak deesdae al hoe meer pateties. Jy is eintlik te bang jy beland in die hospitaal, want kyk hoe “mooi” kyk die dokters en personeel na die pasiënte. Die PATETIES VERBY!!!! Hulle moet eintlik die Gautengse staatshospitaal se naam noem, sodat mense bewus kan wees. Soms voel mens die staatshospitale moet maar eerder toemaak.
Ek glo, bid en vertrou dat daar uitkoms vir hierdie pragtige jong meisie sal wees.

Amelia

Sy werk by n dokters spreekkamer??????? Eish kan hul nie dan hul werker help nie? Ek meen dai dokters vir wie sy werk, behoort te weet sy kry nie genoeg geld vir n medies nie. Ek wonder maar net.

Raad

Net my opinie…. dit is nie te sê sy het geheue verlies nie. Dit kan drukking op die brein of breinskade ook wees. Kry asb nog ‘n opinie. My broer was ook hier deur en was op die ou end breinskade.

Jacques

Gaan George toe , hulle staatshospitaal is die beste in die land .

Christine

Ons moet onthou dat daar nie van die dokters van staatshospitale verwag kan word om n pasiënt te ‘help’ met enige ander behoeftes anders as mediese behandeling en sorg nie. Die dokters het eenvoudig nie die tyd om toe te sien dat n pasiënt eet, bad, ens nie. My dogter is n dokter in n staatshospitaal en werk so hard om haar uiterste bes vir die pasiënte te doen, en om by alle pasiënte uit te kom, dat sy soms tuis op haar voete aan die slaap raak. Ek kan dieselfde van al haar doktersvriende in die staatshospitale sê. My… Lees meer »