Ma weet week ná ongeluk nie haar seun is dood

Salomi en Sakkie. Foto: Facebook.

Salomi Lubbe (29), ʼn paramedikus van Potchefstroom, weet ʼn week ná sy en haar driejarige seuntjie, Sakkie Buys, in ʼn ernstige motorongeluk betrokke was steeds nie dat haar seuntjie dood is nie.

Louise Smit, Lubbe se skoonsuster, het Donderdag aan Maroela Media gesê die ongeluk het verlede Donderdag omstreeks 18:00 plaasgevind toe Salomi en Sakkie die pad tussen Potchefstroom en Klerksdorp in haar Atos aangedurf het.

“Hulle was op pad na my toe die ongeluk plaasgevind het. Volgens die vragmotorbestuurder het die son hom verblind en hy het van agter af teen hulle vasgery,” het Smit gesê.

Sy sê sy was self op die ongelukstoneel en die vragmotorbestuurder het verskriklik gehuil.

Salomi se verloofde was volgens Smit op ʼn motorfiets agter hulle en het die voorval sien gebeur.

Smit het gesê Sakkie is uit die motor geslinger van waar hy agter sy ma in sy karstoeltjie gesit het. “Sy stoeltjie het in die middel van die pad gelê. Haar verloofde het gesien sy hang onderstebo in haar veiligheidsgordel en het dadelik vir Sakkie begin soek en mond-tot-mond-asemhaling op hom begin toepas.”

Sakkie is met sy aankoms by die Mediclinic in Potchefstroom dood verklaar. Hy het omvattende hoofbeserings opgedoen.

Sakkie Buys. Foto: Facebook.

Salomi is ook eers na die Mediclinic in Potch gehaas en daarna per ambulans na die Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas waar sy tans steeds in die trauma-hoësorgeenheid behandel word.

Sy het erge breinbloeding en -swelling opgedoen. Haar toestand is in dié stadium stabiel.

“Sy was gister vir die eerste keer só dat sy my herken het. Sy weet nie waar sy is nie en as ek vir haar sê sy is in die hospitaal, vra sy ‘hoekom?’. Sy vra nie uit haar eie vrae nie.”

Smit, ook ʼn paramedikus, het gesê Salomi vra nie na Sakkie nie. “Die ding is, wat weet sy wérklik? Die besluit om vir haar van Sakkie te sê sal deur die dokter geneem word. Ons wil hê almal moet by haar wees. Sy moenie daar alleen in die hospitaal lê en dit hoor nie.”

Smit sê die familie wil baie graag die begrafnis vir Sakkie, wat volgende maand vier jaar oud sou word, afhandel. “Maar dis nie regverdig vir ʼn mamma nie, ons wil dit liewer uitstel tot sy weet. Ek is self ʼn mamma – ek sou wou weet.”

Sy vertel haar broer, Salomi se man, is verlede jaar skielik aan ʼn hartaanval oorlede in die ouderdom van 41.

“My ouers vat dit baie swaar, verlede jaar hulle seun en nou hulle kleinseun …”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ander Annie ·

Dit is tragies. Ek is so jammed for due Mamma. Mag ons Hemelse Vader haar styf vashou in hierdie hartseer tyd en haar volume genees. Sterkte aan hierdie families. Innige simpatie met die kleinding se afsterwe.

Andrea ·

Hoe tragies! Baie sterkte en genade vir Salomi en familie.

. ·

Dis bitter hartseer.
Tog is die opskrif en beriggewing vir my effens gemik daarop om sensasie te vind uit die hartseer van ‘n mamma wat stukkend in die hospitaal lê.

As ek in soortgelyke omstandighede in die hospitaal moes wees en later moes hoor dat dit aan die hele wêreld uitbasuin is in die koerante, veral met so ‘n opskrif wat kapitaliseer op my verlies en tragiese omstandighede, sou dit my baie seergemaak het. Soms is empatie belangriker as hoofopskrifte wat aandag trek.

Theresa B ·

Dis so baie hartseer. Baie sterkte en vertroosting aan die familie en veral Salomi.

Sophia ·

My hart breek vir hierdie mamma! Mag God haar styf vashou in hierdie ongelooflike moeilike tyd, wat voorlê, en so ook vir al die familie.

Liza ·

AI DIS SO HARTSEER. EK BID GOD SE GENADE OOR JULLE ALMAL. RUS SAK SEUNA.

Leser ·

Ek skaam my vir myself omdat ek kla oor my probleme. Daar is altyd iemand wat erger swaar kry. Sterkte aan almal betrokke

Angel ·

Ek stem Leser, ek voel ook nou skaam oor die dinge wat ek oor kla. Sterkte aan almal, veral die mamma. :(

Trish ·

Dis so hartseer, en ek dink net laasweek of week voor dit het ek gelees van die ander mama en haar een jarige wat ook in n ongeluk was, baba is dood en mama weet ook nie van haar babatjie nie omdat sy nie baie kan onthou nie.

Heer wees asb saam die familie

Gesiggie ·

Soveel seer wat verwerk moet word… hierdie Mamma wat moet herstel, en dan moet hoor dat haar Liewe seuntjie nie meer daar is… hoe swaar moet dit nie wees , die Lewe is partykeer so onregverdig, maar ons sal nooit weet hoekom so iets moet gebeur Sakkie was nog so klein hy het nog n hele lewe voor hom gehad. My hart gaan uit na die Familie en ek Bid vir hierdie Ma dat sy gou sal herstel en dat God haar sal krag gee deur die swaar tyd

Johanna ·

O genade tog. My hart gaan uit na haar en die familie. Rus sag klein Sakkie.

Didi ·

Mense, dit breek my mamma hart… dis net te veel. Mag die Vader sy arms om hierdie engeltjie se ouers styf vas vou.

Elaine ·

Liewe Salomi,

Ek onthou van jou lank terug. Het gereeld jou fotos op facebook raak gelees en julle fotos het gestraal van blydskap.
Mag liewe Jesus jou so onbegryplik styf vashou wanneer jy die nuus hoor.
Jy is in ons gebede…

Sterkte xxx

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.