Maagvirus doen die ronde: Ken die risiko’s met Covid-19

(Foto: Pixabay)

Daar is ʼn maagvirus wat tans die ronde doen en mense is bekommerd dat baie van die simptome met dié van Covid-19 ooreenstem.

Dr. Morgan Mkhatshwa, operasionele hoof van Bonitas- mediese fonds, sê daar is belangrike simptome waarvolgens jy kan vasstel of jy dalk Covid-19 of ʼn gastro-intestinale infeksie (GI) het. Maar daar is ook simptome soos diarree en braking wat oorvleuel.

“Hoewel die tydperk tussen November en Mei gewoonlik gepaardgaan met meer gevalle van diarree en anemie, het dit eintlik vanjaar met 29% afgeneem. Die afname is vermoedelik te danke daaraan dat mense meer waaksaam is oor higiëne weens Covid-19. So, hulle was hul hande meer, dra maskers en saniteer.”

Die maagvirus wat die ronde doen, is wel ʼn bewys dat die virus ons nie heeltemal gelos het nie en dat ons op ons hoede moet wees. Daarom gee Mkhatshwa hierdie lys van simptome om te onderskei tussen ʼn maagvirus en die koronavirus:

Simptome van ʼn maagvirus:

  • Diarree
  • Maagkrampe
  • Naarheid
  • Braking
  • Koors
  • Dors
  • Pyn in gewrigte
  • Hoofpyn
  • Algemene ongesteldheid

Hoe lank duur ʼn maagvirus?

Mense ontwikkel gewoonlik ʼn maagvirus binne 24 tot 72 uur vandat hulle met die virus in aanraking gekom het. Die meeste gevalle word binne drie tot vier dae beter, maar dit is nie ongewoon om vir tot ʼn week sleg te voel nie.

Covid-19 of maagvirus?

Navorsing toon deurlopend dat sowat 10% van volwassenes met Covid-19 ook simptome van GI, soos naarheid, braking en diarree, ervaar. Maar dié mense het ook respiratoriese simptome soos ʼn droë hoes en probleme om asem te haal ervaar.

“Dit is nie altyd maklik om die verskil tussen die twee raak te sien nie. As jy respiratoriese simptome (veral borspyn) en ʼn verlies aan reuk en smaak ervaar, is dit redelik maklik. Maar ʼn maagvirus kan op sy eie ook voorkom, sonder Covid-19. ʼn Maagvirus sal sowat 72 uur duur, maar ʼn maagvirus gepaardgaande met Covid-19 kan baie langer aanhou.”

Mkhatshwa moedig mense aan om dadelik ʼn dokter te spreek of te bel as hulle dink hulle het ʼn maagvirus met Covid-19-simptome.

Behandel jou maagvirus:

  • Probeer om geen vaste kosse te eet voor jy beter voel nie.
  • Suig aan ysblokkies en neem klein slukkies water om ontwatering te voorkom.
  • Vermy sap of ander koeldranke met baie suiker of versoeter, want dit kan die diarree erger maak.
  • Begin stadig weer eet wanneer jy beter voel. Eet kosse wat maklik verteer soos roosterbrood en rys. Hou op eet as die naarheid terugkom.
  • Vermy suiwel, kafeïen, vetterige kos en suiker tot jy beter voel.
  • Neem slegs medikasie wat deur ʼn dokter voorgeskryf is. Oor-die-toonbank-medikasie kan in sekere gevalle die infeksie vererger.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Anel

Gedink mense gaan begin maagvirusse kry. En hoekom? Mense het so skoon gemaak en alles ontsmet. Liggame het nie meer met gewone kieme in aanraking gekom nie. Is nou al vir ‘n jaar die vermoë ontneem om teenliggaampies te vervaardig. Dit kom van probeer in vakuum lewe. Mense se liggame is afgetakel agv hongersnood en ondervinding. Alles die gevolg van afsondering agv die virus. GI is ook agv die virus en nie anders om nie.

Dirk Mostert

Wat Covid-19 so uniek maak, is dat dit alle simptome veroorsaak van alle bekende kwale wat ons al vir geslagte mee saamgeleef het.