Maak die inenting jou magneties?

May Parsons gee ‘n entstof van Pfizer-BioNtech aan Margaret Keenan (90). (Foto: Jacob King/AFP)

Daar is verskeie menings en teorieë rondom die Covid-19-entstowwe en newe-effekte. Sommige is geldige vrae, terwyl ander as samesweringsteorieë afgemaak word.

ʼn Video wat die afgelope week op sosiale media gedeel is, wys hoe ʼn selfoon aan ʼn vrou se arm “vasplak” op die plek waar sy onlangs die inenting gekry het. Die oorsprong van die video is nie duidelik nie, maar dit het opnuut teorieë oor die gevolge van die entstof aangevuur. Sommige voer aan die entstof is ʼn manier vir die superryk Bill Gates om beheer oor die wêreldbevolking uit te oefen, of dat jy skielik 5G-seine gaan kan opvang.

Leandri Beyers, ʼn kliniese sielkundige, het aan Maroela Media gesê dat wantroue en vrees, veral jeens farmakologiese maatskappye wat geld wil maak, en die regering wat politieke agendas dryf ʼn rol speel in die teorieë en persepsies wat mense oor Covid-19 en die entstof vorm.

“Wanneer jy voel dat jy nie ʼn vrye wil kan uitoefen nie, word ʼn mens bang. Jy probeer sin maak van die goed wat jou bang maak en jy wil iets of iemand blameer. Só word talle teorieë gevorm – party redelik, ander verregaande.”

Hoewel daar inderdaad nog vrae rondom Covid-19 bestaan, is daar wel ook logiese antwoorde op talle teorieë wat mense op hol jaag.

Maroela Media het gaan ondersoek instel na ʼn paar van die meer omstrede teorieë rondom die entstof en hoe dit kon ontstaan het.

Teorie 1: Covid-19-intentings maak ʼn mens magneties

Behalwe vir die video oor die selfoon wat aan ʼn vrou se arm vasgeplak het, het Alric Kriel, wat in die IT-bedryf is en in Pretoria-Oos woon, aan Maroela Media gesê dat ʼn R1- en R2-muntstuk aan sy skouer, waar die Pfizer-inenting toegedien is, vasgesit het. Hoewel hy nie vóór die inenting getoets het of sy skouer magneties is nie, het hy wel die ander skouer ook getoets, sonder sukses.

“My dokter het vir my gesê dat die inenting moontlik ʼn stof kan afskei wat daardie area meer sweterig maak, sodat muntstukke daaraan vasklou. Swaarder muntstukke soos ʼn R5-stuk of items soos ʼn selfoon het nie geplak nie,” sê hy.

Maroela Media se redaksie het self die teorie dat die inenting ʼn mens magneties sou maak op die proef gestel. ʼn Selfoon is op die arm van ʼn redaksielid wat pas ingeënt is, geplaas. Die selfoon het wel op die plek waar die inenting toegedien is vasgeplak. Die selfoon het egter ook vasgeplak aan die arm van ʼn lid wat nié ingeënt is nie. Toe die omhulsel van die selfoon verwyder is, het dit aan geen van die redaksielede se arms gekleef nie.

Prof. Gerard Tromp, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Bio-informatika (SASBi) en kenner op die gebied van molekulêre biologie en menslike genetika, verduidelik hoekom die inenting ʼn mens nie magneties kan maak nie.

“Om magneties te word is dit nodig om ’n sterk ferromagnetiese metaal te bevat. Die sterkste magnete bestaan uit neodimium. Dit is klein magnete wat in die algemeen gebruik word vir goed soos magnetiese handsaksluiting. ʼn Mens sal omtrent vier of vyf van dié magnete in jou arm benodig om iets soos ʼn selfoon aan jou te laat kleef.”

Hy sê magnete moet egter vergruis word in baie klein deeltjies om by ʼn entstof gevoeg te word en sal dan hul magnetiese eienskap verloor of baie verswak. Deeltjies klein genoeg om in te spuit sal waarskynlik ook versprei, omdat die inspuiting in weefsel toegedien word wat baie vloeistof bevat.

Teorie 2: Die inenting veroorsaak dat jy 5G herlei

5G-tegnologie is aansienlik vinniger as die internetsnelhede waaraan Suid-Afrikaners gewoond is.

Tromp verduidelik dat 5G net ʼn elektromagnetiese golf is. “Natuurlik is daar baie swak elektromagnetiese velde in weefsel, maar niks wat selfs ʼn baie kleiner en ligter item as ʼn selfoon op sy plek kan hou nie. Basies is elke atoom en molekule ʼn elektromagnetiese veld, maar dit is op baie, baie klein skaal.”

Hy sê om 5G-golwe te ontvang moet ʼn persoon allerhande elektromagnetiese stowwe op groot skaal in die regte volgorde rangskik. “Dis hoekom mens ʼn antenna nodig het vir enige toestel wat golwe opvang, soos selfone, radio en televisie. Dit is belangrik dat die lengte en rangskikking toepaslik is vir die golflengte.

“Dit is onmoontlik om so ’n rangskikking in dierlike en menslike weefsel reg te kry, dus is dit hoogs onwaarskynlik dat mense ooit 5G sal kan herlei.”

Teorie 3: ʼn Mikroskyfie word in jou ingeplant

Sommige mense glo dat die inenting ʼn mikroskyfie in jou lyf inplant waarmee ʼn individu gevolg en beheer kan word. Die bewering lui dat die Amerikaanse magnaat Bill Gates mense se beweging met hierdie mikroskyfie wil naspeur.

Prof. Marietjie Venter van die Universiteit van Pretoria se Departement Mediese Virologie, verduidelik dat die maatskappye wat inentings vervaardig alle bestanddele moet verklaar. Dit word deur die FDA in die VSA en Sahpra in Suid-Afrika, wat vir die veiligheid van nuwe medikasie verantwoordelik is, geverifieer.

Sy sê dit is ook maklik om te bepaal of daar wel ʼn mikroskyfie in jou ingeplant is deur ʼn veearts se mikroskyfleser te gebruik. “Bill Gates kan jou wel deur middel van jou selfoon en met Facebook volg, so as jy bekommerd is daaroor, raak eerder van hierdie toestelle ontslae.”

Hoe onderskei ʼn mens tussen feit en fiksie?

Debatte en onenigheid is nie vreemd wanneer dit by wetenskaplike en mediese navorsing kom nie. Inteendeel, dit word verwelkom, maar word aan streng prosesse onderwerp, soos portuur- en etiese beoordeling, veiligheidsrade en dubbelblindnavorsingsmetodes wat verseker dat vooroordeel aan die lig gebring word.

Daarom beveel Scientists Collective, ʼn groep van meer as 30 topwetenskaplikes en dokters, aan dat ʼn mens inligting wat op bewyse gegrond is, wetenskaplik uitgevoer is en veral aan portuurbeoordeling onderwerp is, maar kan glo. Wanneer selfs gerekende wetenskaplikes bewerings maak wat deur sy of haar portuur – dus ander gerekende wetenskaplikes en kundiges – bevraagteken of verwerp word, het daardie inligting die toets gedop, skryf dié groep. “Wetenskaplikes is vinnig om foute in mekaar se navorsing uit te wys, omdat hul eie reputasie en etiese verantwoordelikheid daarvan afhang.”

Die groep sê om vas te stel of die inligting wat jy lees die waarheid is, moet ʼn mens eerstens die bron nagaan en skepties wees oor enige inligting wat nie van ʼn geloofwaardige wetenskaplike bron soos universiteite of navorsingsliggame af kom nie. Vra jouself af wie die inligting publiseer en of hulle moontlik ʼn agenda het. “Daar is ook gevestigde organisasies wat spesifiek feite nagaan, soos Africa Check – gebruik dié diens om die waarheid van leuens te skei voordat jy inligting versprei.”

Wees ook versigtig om nie emosioneel opgesweep te word nie. Navorsing wat op bewyse gegrond is probeer gewoonlik nie om ʼn mens bang te maak nie, terwyl individue of liggame met agendas graag op ʼn mens se emosie speel.

“ʼn Enkele persoon of instansie wat baie inligting oor Covid-19 versprei wat nie in talle ander geloofwaardige bronne te vinde is nie, behoort jou op jou hoede te maak vir vals nuus.”

Wanneer jy oor ʼn samesweringsteorie wonder, vra jouself af hoeveel mense moet jok of die waarheid verdoesel vir dié teorie om waar te wees, en hoe realisties dit werklik is. Selfs as jy dink dis moontlik dat een regering ʼn valse pandemie vir politieke doeleindes kan versin, is dit regtig realisties dat regerings van regoor die wêreld, insluitend demokraties en ondemokraties, liberaal-kapitalisties en sosialisties-georiënteerd, Westers en nie-Westers, hoë inkomste en lae inkomste, almal saam ʼn valse pandemie sal bevorder? Kan dit werklik wees dat die meeste wetenskaplikes in Europa, Asië, Afrika en elders verkeerd is terwyl een mens of ʼn klein groep die waarheid in pag het?

“Om tot redelike gevolgtrekkings te kom is ons van die mediese wetenskaplikes afhanklik om die oorwig van getuienis vir ons beskikbaar te stel,” glo kliniese sielkundige Albert Jansen. “Die kruks van die saak is dat elke argument of teorie die toets van redelikheid behoort te slaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

88 Kommentare

jongste oudste gewildste
Werner

Dit gee jou bloedklonte en hoe bloeddruk.Dit het nou met drie van my vriende gebeur.Al hoekom dit nie met my gebeur het nie is omdat ek nie die spuit gevat het nie.Gebruik ivermektien en vitamines het in twee jaar nie eens n verkoue gehaad nie.

Peter Pan

Ek het in ‘n robot verander toe ek my 2de inspuiting gekry het! Hahahahaha

Chris dupreez

Dit is n klomp snert. Net ysterhoudende metale kan magneties wees. Dit klou seker aan sweterigheid of so iets vas.

Misky

Gelukkig kan ek nog vir myself dink, besluite neem en wie of wat ek glo

Piet

Ek hoop die slimjanne sal oor2 jaar agterkom dat dit beslis nie veilig was om inenting te vat nie!!!Vasbyt 2 jaar oor!!!!