Maak die inenting jou magneties?

May Parsons gee ‘n entstof van Pfizer-BioNtech aan Margaret Keenan (90). (Foto: Jacob King/AFP)

Daar is verskeie menings en teorieë rondom die Covid-19-entstowwe en newe-effekte. Sommige is geldige vrae, terwyl ander as samesweringsteorieë afgemaak word.

ʼn Video wat die afgelope week op sosiale media gedeel is, wys hoe ʼn selfoon aan ʼn vrou se arm “vasplak” op die plek waar sy onlangs die inenting gekry het. Die oorsprong van die video is nie duidelik nie, maar dit het opnuut teorieë oor die gevolge van die entstof aangevuur. Sommige voer aan die entstof is ʼn manier vir die superryk Bill Gates om beheer oor die wêreldbevolking uit te oefen, of dat jy skielik 5G-seine gaan kan opvang.

Leandri Beyers, ʼn kliniese sielkundige, het aan Maroela Media gesê dat wantroue en vrees, veral jeens farmakologiese maatskappye wat geld wil maak, en die regering wat politieke agendas dryf ʼn rol speel in die teorieë en persepsies wat mense oor Covid-19 en die entstof vorm.

“Wanneer jy voel dat jy nie ʼn vrye wil kan uitoefen nie, word ʼn mens bang. Jy probeer sin maak van die goed wat jou bang maak en jy wil iets of iemand blameer. Só word talle teorieë gevorm – party redelik, ander verregaande.”

Hoewel daar inderdaad nog vrae rondom Covid-19 bestaan, is daar wel ook logiese antwoorde op talle teorieë wat mense op hol jaag.

Maroela Media het gaan ondersoek instel na ʼn paar van die meer omstrede teorieë rondom die entstof en hoe dit kon ontstaan het.

Teorie 1: Covid-19-intentings maak ʼn mens magneties

Behalwe vir die video oor die selfoon wat aan ʼn vrou se arm vasgeplak het, het Alric Kriel, wat in die IT-bedryf is en in Pretoria-Oos woon, aan Maroela Media gesê dat ʼn R1- en R2-muntstuk aan sy skouer, waar die Pfizer-inenting toegedien is, vasgesit het. Hoewel hy nie vóór die inenting getoets het of sy skouer magneties is nie, het hy wel die ander skouer ook getoets, sonder sukses.

“My dokter het vir my gesê dat die inenting moontlik ʼn stof kan afskei wat daardie area meer sweterig maak, sodat muntstukke daaraan vasklou. Swaarder muntstukke soos ʼn R5-stuk of items soos ʼn selfoon het nie geplak nie,” sê hy.

Maroela Media se redaksie het self die teorie dat die inenting ʼn mens magneties sou maak op die proef gestel. ʼn Selfoon is op die arm van ʼn redaksielid wat pas ingeënt is, geplaas. Die selfoon het wel op die plek waar die inenting toegedien is vasgeplak. Die selfoon het egter ook vasgeplak aan die arm van ʼn lid wat nié ingeënt is nie. Toe die omhulsel van die selfoon verwyder is, het dit aan geen van die redaksielede se arms gekleef nie.

Prof. Gerard Tromp, president van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Bio-informatika (SASBi) en kenner op die gebied van molekulêre biologie en menslike genetika, verduidelik hoekom die inenting ʼn mens nie magneties kan maak nie.

“Om magneties te word is dit nodig om ’n sterk ferromagnetiese metaal te bevat. Die sterkste magnete bestaan uit neodimium. Dit is klein magnete wat in die algemeen gebruik word vir goed soos magnetiese handsaksluiting. ʼn Mens sal omtrent vier of vyf van dié magnete in jou arm benodig om iets soos ʼn selfoon aan jou te laat kleef.”

Hy sê magnete moet egter vergruis word in baie klein deeltjies om by ʼn entstof gevoeg te word en sal dan hul magnetiese eienskap verloor of baie verswak. Deeltjies klein genoeg om in te spuit sal waarskynlik ook versprei, omdat die inspuiting in weefsel toegedien word wat baie vloeistof bevat.

Teorie 2: Die inenting veroorsaak dat jy 5G herlei

5G-tegnologie is aansienlik vinniger as die internetsnelhede waaraan Suid-Afrikaners gewoond is.

Tromp verduidelik dat 5G net ʼn elektromagnetiese golf is. “Natuurlik is daar baie swak elektromagnetiese velde in weefsel, maar niks wat selfs ʼn baie kleiner en ligter item as ʼn selfoon op sy plek kan hou nie. Basies is elke atoom en molekule ʼn elektromagnetiese veld, maar dit is op baie, baie klein skaal.”

Hy sê om 5G-golwe te ontvang moet ʼn persoon allerhande elektromagnetiese stowwe op groot skaal in die regte volgorde rangskik. “Dis hoekom mens ʼn antenna nodig het vir enige toestel wat golwe opvang, soos selfone, radio en televisie. Dit is belangrik dat die lengte en rangskikking toepaslik is vir die golflengte.

“Dit is onmoontlik om so ’n rangskikking in dierlike en menslike weefsel reg te kry, dus is dit hoogs onwaarskynlik dat mense ooit 5G sal kan herlei.”

Teorie 3: ʼn Mikroskyfie word in jou ingeplant

Sommige mense glo dat die inenting ʼn mikroskyfie in jou lyf inplant waarmee ʼn individu gevolg en beheer kan word. Die bewering lui dat die Amerikaanse magnaat Bill Gates mense se beweging met hierdie mikroskyfie wil naspeur.

Prof. Marietjie Venter van die Universiteit van Pretoria se Departement Mediese Virologie, verduidelik dat die maatskappye wat inentings vervaardig alle bestanddele moet verklaar. Dit word deur die FDA in die VSA en Sahpra in Suid-Afrika, wat vir die veiligheid van nuwe medikasie verantwoordelik is, geverifieer.

Sy sê dit is ook maklik om te bepaal of daar wel ʼn mikroskyfie in jou ingeplant is deur ʼn veearts se mikroskyfleser te gebruik. “Bill Gates kan jou wel deur middel van jou selfoon en met Facebook volg, so as jy bekommerd is daaroor, raak eerder van hierdie toestelle ontslae.”

Hoe onderskei ʼn mens tussen feit en fiksie?

Debatte en onenigheid is nie vreemd wanneer dit by wetenskaplike en mediese navorsing kom nie. Inteendeel, dit word verwelkom, maar word aan streng prosesse onderwerp, soos portuur- en etiese beoordeling, veiligheidsrade en dubbelblindnavorsingsmetodes wat verseker dat vooroordeel aan die lig gebring word.

Daarom beveel Scientists Collective, ʼn groep van meer as 30 topwetenskaplikes en dokters, aan dat ʼn mens inligting wat op bewyse gegrond is, wetenskaplik uitgevoer is en veral aan portuurbeoordeling onderwerp is, maar kan glo. Wanneer selfs gerekende wetenskaplikes bewerings maak wat deur sy of haar portuur – dus ander gerekende wetenskaplikes en kundiges – bevraagteken of verwerp word, het daardie inligting die toets gedop, skryf dié groep. “Wetenskaplikes is vinnig om foute in mekaar se navorsing uit te wys, omdat hul eie reputasie en etiese verantwoordelikheid daarvan afhang.”

Die groep sê om vas te stel of die inligting wat jy lees die waarheid is, moet ʼn mens eerstens die bron nagaan en skepties wees oor enige inligting wat nie van ʼn geloofwaardige wetenskaplike bron soos universiteite of navorsingsliggame af kom nie. Vra jouself af wie die inligting publiseer en of hulle moontlik ʼn agenda het. “Daar is ook gevestigde organisasies wat spesifiek feite nagaan, soos Africa Check – gebruik dié diens om die waarheid van leuens te skei voordat jy inligting versprei.”

Wees ook versigtig om nie emosioneel opgesweep te word nie. Navorsing wat op bewyse gegrond is probeer gewoonlik nie om ʼn mens bang te maak nie, terwyl individue of liggame met agendas graag op ʼn mens se emosie speel.

“ʼn Enkele persoon of instansie wat baie inligting oor Covid-19 versprei wat nie in talle ander geloofwaardige bronne te vinde is nie, behoort jou op jou hoede te maak vir vals nuus.”

Wanneer jy oor ʼn samesweringsteorie wonder, vra jouself af hoeveel mense moet jok of die waarheid verdoesel vir dié teorie om waar te wees, en hoe realisties dit werklik is. Selfs as jy dink dis moontlik dat een regering ʼn valse pandemie vir politieke doeleindes kan versin, is dit regtig realisties dat regerings van regoor die wêreld, insluitend demokraties en ondemokraties, liberaal-kapitalisties en sosialisties-georiënteerd, Westers en nie-Westers, hoë inkomste en lae inkomste, almal saam ʼn valse pandemie sal bevorder? Kan dit werklik wees dat die meeste wetenskaplikes in Europa, Asië, Afrika en elders verkeerd is terwyl een mens of ʼn klein groep die waarheid in pag het?

“Om tot redelike gevolgtrekkings te kom is ons van die mediese wetenskaplikes afhanklik om die oorwig van getuienis vir ons beskikbaar te stel,” glo kliniese sielkundige Albert Jansen. “Die kruks van die saak is dat elke argument of teorie die toets van redelikheid behoort te slaag.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

88 Kommentare

Werner ·

Dit gee jou bloedklonte en hoe bloeddruk.Dit het nou met drie van my vriende gebeur.Al hoekom dit nie met my gebeur het nie is omdat ek nie die spuit gevat het nie.Gebruik ivermektien en vitamines het in twee jaar nie eens n verkoue gehaad nie.

Christina ·

My bloeddruk is laer, my broer wat ivermektien gebruik het, is oorlede en neef was erg siek met covid.

Inkpot ·

Almal weet altyd van “iemand” met wie dit gebeur het, maar daardie persone kom nooit te voorskyn nie. DIs ‘n klomp bog, want as dit waar was, sou daardie persone teruggegaan het dokters toe en dit sou aangeteken wees en nie verdoesel word nie. Dus, gaan feite na en hou op vals nuus versprei.

Werner ·

My een vriend is tans in die hospitaal waar hy behandel word vir sy bloedklonte.Dit is nie vals nuus nie.

Hardekwas ·

Laat jou vriend self hier rapporteer, met sy doktersverslag, dan glo ons jou.

Werner ·

Jou mening is nie vir my so belangrik dat ek gepla is of jy my glo of nie.

Vlooitjie ·

Hy voel dalk te sleg met sy bloedklonte in hospitaal om jou te entertain

piet ·

Wat is sy naam en watter hospitaal sodat ons die storie kan opvolg. As dit wel so is, moet die regte kanale gevolg word om dit te rapporteer sodat die bree publiek beskerm kan word.

Vlooitjie ·

As almal net SELF die moeite wil doen om wyer te lees as mainstream media ipv om te verwag dat jul gespoon feed word

Leeuwyfie ·

Inkpot jy is meer as welkom om savaers te besoek. Daar is tog mense wat dit opvat en neerpen. Moeilik om te doen wanneer jy teen die aanvaarde opinie beweeg.

Francois Le Cochon ·

Werner, navorsing het bewys dat ivermektien die covid virus doodmaak indien 300 maal die voorgeskrewe dosis gebruik word. Dws jy moet 300 tablette op een slag drink. Die nadeel egter is dat jy daarna nooit weer die son sal sien opkom nie agv demethyl-22,23-dihydroavermectin A1a oordosis. Kan ek ook net byvoeg, niemand het omtrent verkoue gehad nie. Dit is agv die covid regulasies wat nog meer doeltreffend is teen verkoue virusse. Als wetenskaplik.

Werner ·

Nog net jy wat dink daar is covid regulaties.Wanneer laas was jy in n dorp of stad.Mense dra nie meer hulle maskers nie en staan bo op mekaar in rye en restaurante

Hardekwas ·

Lyk my jy jy het n klomp siek vriende. Niemand wat ek ken het enige newe effekte gehad nie.

Inkpot ·

Niemand van my vriende of mense wat ek ken, het newe effekte gehad nie. So ook niemand van die dokters waarmee ons werk nie.

piet ·

Ivermektien tas jou longe aan en is fataal vir asma-lyers. Dit kan ook jou kop laat uithaak. Wees versigtig met die veedip. Die moontlike newe-effekte vir ivermektien is ook so lank soos die pad van die Kaap na Pretoria. Uiters gevaarlike goed, bly weg.

Werner ·

Jy het seker die mediese navorsing om dit te staaf.Nou hoekom raak jy sulke nonsens kwyt daai spuit jou nie goed gedoen nie

JohanNL ·

Ja en dis nog seksisties ook! Ekt begin bles word na ek dit gekry het en my vrou nie. Eks nou so spyt ekt dit geneem, my kapsel sal seker nooit weer herstel nie

Peter Pan ·

Ek het in ‘n robot verander toe ek my 2de inspuiting gekry het! Hahahahaha

Chris dupreez ·

Dit is n klomp snert. Net ysterhoudende metale kan magneties wees. Dit klou seker aan sweterigheid of so iets vas.

hondbyt ·

Net so, as jy daai boere tannie bicep met ‘n wetwipe afvee gly daai foon soos ‘n vet kind op ‘n superslide van daai arm af :)

Die tannie moet net bietjie stort…

Misky ·

Gelukkig kan ek nog vir myself dink, besluite neem en wie of wat ek glo

Piet ·

Ek hoop die slimjanne sal oor2 jaar agterkom dat dit beslis nie veilig was om inenting te vat nie!!!Vasbyt 2 jaar oor!!!!

Miets ·

Piet, oor 2 jaar sal ek jou laat weet dat dit veilig was. Hoop vir jou part dat daar 2 jaar vir jou oor is.

ES ·

Hoekom 2 jaar Piet? Hoekom gebeur daar nie onmiddelik iets nie? Het die entstof ‘n kalender?

Vlooitjie ·

Wel….. die volgende covid vlae word tot op die datum dan voorspel, hoekom is die anders?

Estelle ·

Piet, jy moet net hoop jy is nog oor 2 jaar met ons wat wel ingeent is ….

piet ·

Ek het ‘n vermoede dat jy die periode gereeld gaan aanpas met ‘n verdere paar jaar.

LIEZL ·

So waar kom jul hulp vandaan, my hulp kom van ons Vader wat Hemel en aarde geskape het. Rig julle oë op HOM en als sal in plek val. AMEN

OW ·

Ek stem saam met jou kommentaar maar alles kan ook nie net vergeestelik word nie.Die mens het ook verstand om navorsing,ontwikkeling,uitvinding,kreatiwiteit noem maar op ontvang om in hierdie wêreld mee te woeker.

Francois Le Cochon ·

Liezl, doodreg, maar common sense en logika moet ook gebruik word.

Anna-Marie ·

Well ek het gegaan vir die JJ spuit en ek is so disappionted … ek verloor altyd my foon en sou tog sooo gebaat het as my arm magneties geword het …haha
Maar so het elkeen sy eie meening ons is almal groot mense en kan besluit of ons wil of nie wil nie
Fool if you do and Fool if you don’t
Los mekaar uit en bekommer jou oor jou eie dinge

Fedup ·

I now see why we turned against each other after 2 years. And for what? Whether you choose to be vaccinated or not, it will always be your personal choice. No need to declare war on each other. As for those who can pick up wifi in timbatoo. Really, what happened to us? Did we loose our human compassion? Maybe I can channel energy from Mars.

Oom Kaspaas ·

My 5G en huis Wifi is nou uitstekend …. Al wat ek net nie lekker verstaan nie … hier is nog nie 5G in die Kalahari nie :)

Philip ·

Sulke snert maak mense wat die veiligheid van die entstof bevraagteken dom lyk. Kyk asseblief eerder na kanker en die entstof verbintenis as “magnetisme”. Mense kry kanker orals, my eie familie is erg geraak daardeur. My pa, my oom, my niggie, my skoonma, my skoonsuster…

Nico ·

Philip, hoop MM plaas hierdie een van my. Ek stem heelhartig saam jou. Hulle dink ons is dom.

Casper ·

Ek wil niemand se besluite beïnvloed rakende die entstof nie maar net die volgende;
1 Twee van my skoolvriende het nie die entstof gekry nie,hulle is binne ‘n week dood na hulle die virus opgedoen het.
2 My seun se vriend is op 32 dood aan die virus.Nie ingespuit nie.
3 Tans is my een vriend in Richardsbaai in die hospitaal na hy nie gespuit het nie en die virus opgedoen het.Die dokters het sy kinders laat kom.Dit is net ‘n kwessie van tyd.
4 Al het jy gespuit kan jy nog die virus opdoening maar jy gaan nie suurstof benodig of sterf nie.
5 Hierdie virus is ‘n realiteit en kyk maar hoeveel mense is al dood van die virus Ek sê maar net

Rooikopheks ·

Dankie vir die feite, dit is waar. Maar dis makliker vir party mense om eerder snert te glo, want hulle wil nie dink nie. Jy hoor gewoonlik van die vriend se pa se niggie se verloofde se tante se man wat dood gegaan het en hy was ingespuit. Stories waarmee mense hardloop, geen feite nie.

Lourens CFG ·

Ons weet die siekte is daar én dat dit party mense erger slaan as ander. Altwee my seuns én hul metgeselle het dit gehad.
My oudste met suikersiekte (lesing tot 27) en sy meisie het dit lig gehad. My jongste seun het 3 tree op ‘n slag gestap, dan moes hy rus en asem skep tot by die toilet, hy het gedink hy gaan dit nie maak nie. Sy vrou het net haar smaak en reuk verloor tot maande daarna.
Maar , met onse Vader se Genade, het hul almal ten volle herstel, en nie een van ons stel belang in die inspuiting (Let wel, NIE entstof) nie.
Daar is té veel onsekerhede i.v.m. die “jab” om kans te vat.
Ek hoop maar Maroela “modereer” nie my komentaar weg nie.

Peter Pan ·

Jip dis elkeen se besluit.. todat jy nerens meer heen kan gaan sonder die jab nie

Vettiemaragartos ·

Almal, insluitend die regerings vergeet gerieflikheidshalwe dat hierdie ‘n eksperiment is. Geen van die vaksines is al iewers in die wêreld goedgekeur nie. Ja daar is bewering gemaak dat die J & J deur die FDA goedgekeur is, maar dit was slegs ‘n bestandeel daarin. Mense moet leer om te lees.

Op die einde van die dag bly dit nogsteeds elke persoon se besluit.

Anoniem ·

Pfizer het volle fda goedkeuring, gaan kyk op hulle webwerf

Gerhard ·

As 5 biljoen mense al ingeent is is dit nie meer n eksperiment nie. Ek dink die wat teen inenting besluit is besig om die eksperiment te word. Om te kyk wat met mense gebeur wat eerder aanhou alternatiewe medisynes gebruik wat nooit ontwikkel is vir dit waarvoor hulle dit gebruik nie.

Werner ·

Jy sal nooit weet hoeveel van die vyf biljoen mense daarvan dood is nie want die data mag nie bekend gemaak word nie.

ES ·

Lyk vir my jy moet ook lees mnr – Pfizer is deur die FDA goedgekeur , net soos Liberale Koos bevestig het hier onder.

Nozi ·

Die jab het my beslis magneties gemaak. Ek sit nou deesdae meer teen die yskas vas as ooit tevore. Hahahaha!!!!!

Jan Seerot ·

Daar was jare gelede geglo dat die gebrek aan kennis was toe skryf aan die gebrek aan toegang tot inigting. Ek weet darem nie meer nie…is dit so moeilik om te gaan oplees op die internet wat magnetisme is?
Ek werk destyds by ‘n groot navorsingsinstituut in Pretoria. Die hoof van die Departement Geofisika sê toe eendag droogweg: “Common sense is the most uncommon of them all”.
Dit is duidelik dat die gebrek aan kennis doodgewoon luiheid (lees domheid) is.

marco ·

Aai ek het maar probeer om tannie se raad te volg maar selfs na 2 jabs is ek nie eers amper magneties nie. Dit sou so awesome gewees het. dalk kan ek nog n jab kry. lol

piet ·

Probeer ‘n kombinasie van ivermektien en ysterpille, maar nie as jy ‘n asmalyer is nie want dan gaan jou longe ook aanmekaar vassteek.

Andries ·

Daar is 5 of 6 inentings per botteltjie (vial) entstof. Waar gaan suster “X” van ons liewe land dit regkry om elke keer een van die mikroskyfies raak te suig met die naald in daardie klein botteltjie?
Asseblief sê vir my dat Bill Gates hulle persoonlik opgelei het…..

Andre ·

Ek wonder of hulle dit nie eerder in die naald hou nie. Selfs die spuit.

jeff ·

‘n Storie van ‘n storie met ‘n lank stert. In ander woorde, ‘n reuse hoop van stomende kak. Wragtig, glo jy sulke onsin?

Tersia ·

Plaas sê iemand my. Ek loop altyd en sleutels soek, ek kan dit net op my arm hang

Gerhard ·

Le koperkabels onder jou matte en haal jouself van die grid af.

Anoniem ·

Ek het NOG NOOIT met hoë bloedruk gesukkel nie. Op 10 Augustus het ek my eerste Pfizer gekry. Nou skielik, binne ń maand, is ek op KRONIESE medisyne vir hoë bloedruk en gedurige swelling aan my bene en voete … Ek het ook nou net ń R2 muntstuk orals op my liggaam getoets. Die ENIGSTE plek waar dit vassit, is op die inenting. Selfs nadat ek die kol met alkohol en spirits skoon en droog gemaak het, BLY die R2 NET DAAR KLOU.

Ek is veronderstel om op 5 Oktober vir die tweede shot te gaan, maar nou het ek UITERS ERG bedenkinge. Weet iemand wat sal die nagevolge wees indien ek NIE die tweede shot vat nie ?

piet ·

Geen nagevolge behalwe dat jy tans net sowat 30% beskerming het weens die een shot (van Pfizer). ‘n 2de shot boost jou beskerming op na 90%.

Anoniem ·

Dankie Piet, ek hoor wat jy sê.

Ek wil net noem vir die klomp wat so afduime gee vir die WAARHEID. Ek lieg NIE en as Maroela Media belangstel, kan ek ook MY video deel. Of nog beter, kom sien my dan kan julle dit PERSOONLIK verifieer. Ek kan ook my doktersverslag verskaf.

Anoniem ·

Koos. Nee – ek, my dogter en my man het reeds 100% Covid (Delta) gehad en het gelukkig nie baie erge effekte beleef nie. Dus niks halfpad nie …

Leeuwyfie ·

Ai Salomé, ek is so jammer jy gaan deur hierdie moeilike tyd. Gaan besoek gerus savaers punt co za om dit op te teken. Mense is nie ingelig van al die newe-effekte nie. Dit is skaars, maar dit is daar. Ek sou jou aanraai om 2 dokters te bespreek, een wat vir die inenting is en een teen. Dan bid jy daaroor en maak jou besluit. Hopelik is jou newe-effekte net korttermyn.

Anoniem ·

Baie dankie vir jou omgee en raad Leeuwyfie. Glo my, ek is ń uiters gelowige mens en weet, sonder Jesus se genade, sou dinge heelwat erger gewees het. Alles van die beste vir jou.

gpsa ·

Dins as mens in detail ingaan van mense wat oorlede is aan Covid sal dit veel erger wees as die storie van selfone wat vasplak of selfs mense wat siek word na die in enting. Covid moet nie ligtelik opgeneem word nie. Dink ook mense wat teen die in enting is het nog nie Covid gehad nie. Steeds bly dit elkeen se persoonlike keuse. Probleem is net hoe langer mense vat om dit te doen hoe langer gaan die virus aktief bly en meer variante vorm.

Melli ·

Wel ek makeer absoluut niks ni, het gister 2de spuit van phizer gehad!

VaalDonkie ·

Ja nee ek weet ook nie. My ma het maande gelede die J&J ene gekry en sy’s nog springlewendig. Ek is eerder gepla oor die feit dat om mense tydens ‘n pandemie in te ent met ‘n entstof wat NIE die virus doodmaak nie, net gaan veroorsaak dat die virus langer dodelik bly. Dis maar eintlik al waaroor ek bekommerd is. Ek is nie so erg gepla oor die inspuiting self nie (behalwe miskien as madam hom in my bloedstroom i.p.v. my spier inspuit en ek miokarditis kry en plaaskoop).

piet ·

Geen inenting self maak ‘n virus dood nie. Dit boost jou immuunstelsel sodat jou liggaam weet hoe om die virus te beveg as jy dit kry.

VaalDonkie ·

Maar Piet. Dis juis waarvan ek praat. Die entstof help nie rerig nie. Hy vat net so die ergste “edge” af. Maar hy keer nie dat jy Covid vang OF vir ander aanpaas soos wat die masels ens. entstowwe doen nie.

pompies ·

Wel een ding is viseker vandat Joe Biden sy derde spuit gekry het is sy verstandelike helderheid sommer 100% beter. Hy praat ook nie meer soveel nonsense nie

Lood ·

Net vir interessantheid – die eerste verpleegkundige wat die inspuiting gekry het is omtrent ‘n week gelede dood aan die virus.

Faf ·

Lood dan moet jy tog ook net die bron ook bysit, seker daarvan jy kan nie haar naam noem nie.

ES ·

Teorie 3 is die een wat my regtig laat wonder oor die toekoms van die mensdom – hoekom sal hulle ons met mikroskyfies inspuit? Ons hou letterlik “tracking devices” in ons hande vas in die vorm van slimfone wat als van ons weet.

Ai ja jai….

Leeuwyfie ·

Gaan kyk op Africa check? Dieselfde Africa check wat sê dat die plaasmoorde se statistieke vergroot is? Ek dink die artikel “fact checking the fact checkers” van politics web 30 Mei 2018 sit dit mooi uit een. Maar ander sins stem ek saam dat mens mooi ondersoek moet instel voor jy iets glo. Alhoewel Africa check nie die wyste plek is om te soek nie.

Nico ·

Maroela Media, daar is baie goeie materiaal van uiters bekwame medici, virioloë en bioloë wat wetenskaplik gefundeer is wat ook die rondte doen soos die een wat julle nou geplaas het.
Dit word nie geplaas nie.
Nou kom julle met so ‘n plasing sodat ons mense wat krities en objektief na aspekte kyk ook in hierdie “dom” kategorie geplaas kan word.
Volg julle ook maar die naratief van die Hoofstroom Media?
Ek hoop nie so nie. Daar is baie van ons wat teen die vaksien gekant is, maar nie onosel is nie

Leeuwyfie ·

Stem saam jou Nico. Gelukkig het MM alreeds ‘n paar artikels geplaas wat die ander kant bekyk. Toemaar, dis juis nou die dag op Carte Blanche gesê dat dit juis die meer intelligente mense is wat die ent bevraagteken. Byt vas, jy is nie alleen in jou strewe na ‘n ingeligte besluit nie.

Nico ·

Dit is baie waar Leeuwyfie. Dit is juis my objektiewe uitkyk wat maak dat ek “hulle” nie slaafs sal navolg nie. Daar is te veel slange in die gras !! Net bly daar is ook mense wat vir hulle self kan dink. Ons sal maar die goeie stryd stry.

KO ·

Ek lag meer vir die kommetaar as vir die berig. . . Julle almal doen my siel goed op die Vrydag :)

Andre ·

Ek stel nie belang in die inenting nie omdat:
Ek glo nie dit is nodig om gesonde mense in te ent teen iets wat nie so groot impak het op bevolkings nie
Ek twyfel in die eerste plek of die toets akkuraat genoeg is om ‘n werklike gevaar uit te lig, niemand kon nog met sekerheid aandui hoeveel valse positiewe resultate daar is nie.
Die regering het saam met hoogeplaastes geraai dat twee weke genoeg is om die kurwe te plat, dit was nie die regte oplossing nie.
Behandelings metodes is afgedruk op bevoegde medici en slegs die wat normale vroeë behandeling met beproefde middels gebruik het kon lewens red, dui op normale griep
Die media het blindelings advies van doktors wat nie in die praktyk staan nie of gewone navorsers of akademici en regeringsampenare gevolg en bevorder. Teenargumente deur kenners is afgemaak as nonsens en samesweringsteorieë.
Vrees in aangewakker deur veral die media en politici en eerste projeksies van hoeveel mense gaan sterfs is grootliks ver uit die kol.

Andre ·

….vervolg
So min as wat ek glo dat die hele kwessie onnodig opgeblaas is glo ek ook nie, selfs met videogrepe, die drie en baie meer vreeswekkende gevolge van die entstowwe nie.
Ek weet wel dat baie meer inenting nagevolge rapporteer is in verskeie data versamelaars deur regerings maar geen ondersoekende joernalis of groot mediahuis doen moeite om daarop te rapporteer nie. Dit veroorsaak diepe teleurstelling in regerings en versterk die eeue oue wantroue in nuusmedia soos nog nooit tevore. Die handelinge dryf mense tot die gekste moontlike gevolgtrekkings.
Al wat ek kan sê is; Hoekom sal iemand die teendeel wil bewys as daar niks uit te put is nie terwyl die eksperimentele middels wat onder die vaandel van nood en vrees afgedwing word, onwetting is met duidelike inperkinge en gevaar vir vryheid vir die mensdom. Volg die geldspoor, dalk vind ons die antwoord daar. Die leun het lang bene en hardloop in verskillende rigtings.

Andre ·

Sela
As jy reken ek het ‘n foil hoed op, ek kan dit enige tyd afhaal maar kan jy jouself laat “ontent” waneer die kaarthuis tuimel? Glo wat jy wil glo maar moenie my haat wat glo wat ek glo nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.