‘Maak dood die hond’, sê plaasaanvaller

Lothar Klingenberg en sy vrou, Amanda (Foto: Jörg Filter)

ʼn Boer van KwaZulu-Natal wat tydens ʼn plaasaanval in sy onderlyf geskiet is, is tot sy familie se verligting net ʼn dag later uit die hospitaal ontslaan en het geen ernstige beserings opgedoen nie.

Dit nadat gewapende rowers Lothar Klingenberg (57) en sy vrou, Amanda, Sondag op hul plaas naby Paulpietersburg oorval en gedreig het om hulle dood te skiet.

Hy is op ʼn kort afstand regdeur sy onderlyf – net bokant sy heup – met ʼn 9 mm-pistool geskiet. Volgens Jörg Filter, nasionale voorsitter van Oorgrense Veiligheid, het die koeël nie ʼn been of orgaan getref nie.

Lothar is Maandag reeds uit die hospitaal ontslaan en Filter het hom en sy vrou die middag gaan besoek.

Volgens Filter is Lothar en Amanda Sondag omstreeks 17:00 by hul aankoms op die plaas Morgenzon deur drie mans oorval toe hulle uit hul voertuig geklim het.

Volgens die egpaar se vertelling aan Filter het die mans klapmusse aangehad. Twee van hulle was met pistole gewapen, terwyl die derde een ʼn mes in sy besit gehad het.

“Een van die mans het ʼn pistool teen Lothar se kop gehou en vir hom gesê hy gaan hom doodmaak. Lothar was nie gewapen nie,” sê Filter.

“Die aanvallers het Lothar en Amanda aangerand en geld geëis.”

In ʼn stadium het Lothar na Amanda geroep om die mans te skiet, maar een van die aanvallers het gesê hy sal hulle doodskiet “soos in ʼn vorige aanval in Ladysmith”.

“Een van die aanvallers het daarna geskree: ‘Maak dood die hond’. Sy woorde was skaars koud toe die skoot klap en die koeël Lothar getref het.”

Lothar is in ʼn pakkamer naby die ingang van die huis toegemaak.

“Amanda het probeer tyd wen deur voor te gee dat sy bewusteloos is. Die aanvallers het haar enkel probeer breek om te sien of sy werklik bewusteloos is, maar het die aftog geblaas toe hulle geen reaksie van haar kant kry nie.”

Volgens Filter kon Amanda daarna haar private foon in die hande kry om hulp te ontbied. Die aanvallers het haar werksfoon gevat.

“Die egpaar se seun, Dillon Klingenberg, het op haar noodkreet gereageer en is na die plaas waar hy een van die rowers nog in die huis aangetref het. Dillon en die verdagte het hul wapens op mekaar gerig, maar die aanvaller het skynbaar besluit om spore te maak en het agter ʼn muur ingespring. Die muur het vir hom dekking gebied en Dillon kon nie ʼn skoot inkry nie.”

Die verdagtes het glo in die mielieland in gevlug en is steeds op vrye voet.

Die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel, sê Filter.

Maroela Media het navraag oor die voorval aan die polisie gerig, maar wag nog vir terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

JohanR ·

Daar is soeveel woede in die lyf van my. Dit is daar sedert my ouers aangeval is in 1996. Nie lekker om te sien daar in die hospitaal hoe jou ouers verniel is nie, maar hulle lewens is darem nie in gevaar nie. Nou die woede van my het nog nooit gepla solank ek alleen gelos is, maar eendag gaan iemand probeer om my sak of my foon te gryp, en dan gaan 26 jaar van woede op sy agter wereld uit geoefen word! Sterk mooi aan Lothar Klingenberg en Amanda Klingenberg, maar versterk daai plaas sodat die nooit weer gebeur nie.

Alma ·

Dit is so, dit vreet en vreet aan jou tot mens eendag net nie meer kan nie, maar ongelukkig word jy dan as die vreeslike rassis uitgebeeld.

Cherokee ·

Lothar het na Amanda geroep om die gemors te skiet, maar die berig sê nie sy was gewapen nie. Dit laat mens wonder of die plasenaars enige moeite doen om gewapend te wees. Dit is terrorisme oorlog.

oatskoekie ·

Berig noem slegs dat Lothar nie gewapen was nie. Daar staan nie of Amanda wel n wapen in haar handsak gehad het nie

LIEZL ·

Ek is op ‘n plaas en ons is goed gewapen, goeie sekuriteit, maar ‘n mens moet ook leef en kan nie heel dag en nag met jou pistool rondloop nie :( En ‘n mens maak ook nie so baie ‘detail’ bekend nie. In tye van so baie skok kan ek nie glo hulle het als so goed onthou nie

Althes ·

Sterkte aan die gesin in hierdie traumatiese tyd.
Die woede kook oor in ñ mens oor die booswigte.

Stephanus ·

Dank God dat julle oorleef het.
Die goddeloses kom mos weg met moord, en daarom gaan hulle vreesloos aan.

Harley Davidson ·

Weer en soos meeste van die gevalle is die aanvallers voorheen benaadeeldes en die onskuldige slagoffers huidige benaadeeldes, hoe verskil die geval met die Groblersdal geval en hoekom word dit anders gehanteer deur die media?

Kokerboom ·

So dankbaar egpaar leef!
Wil boere nie maar gehoor gee en nodige veiligheidsmaatreels tref?!!! Hoeveel mense moet nog onnodig sterf?! Moet asb NIE naief wees mense!!!

Papsak ·

Klomp wilde honde van anc boere moet hulle self begin beskerm skiet voor hy jou kan skiet gemors mask mens woedend mense sterf onnodig regtig staan op

Frank John ·

Die polisie kan daai rowers vang as hul werklik wil. Met ‘n paar goed opgeleide spoorsnyer honde kan hulle in ‘n jap trap gevang word. Maar ek hoor nie meer dat honde gebruik word nie. Dink die polisie mense vandag meer bang vir die honde.
Nog :n ding wat ek nie verstaan nie is hoekom boere nie hulself meer aanval gereed kry nie. Hulle behoort vuurwapen opleiding kry en die heel tyd aanvalle te verwag en gereed wees.

Anel ·

Daar is die afgelope 6 jaar nog nie ‘n enkele speurhond opgelei nie. Daar is nie meer mense wat weet hoe nie!

Marius ·

Ek wonder of die idioot besef dit is daai man wat sy brood en pap vervaardig wat hy elke dag vreet??
Ek vra maar net , want dit wys net vir my hoe stupit die goed is.
Baie sterkte aan die familie.

Pieter ·

En daai ding met die Hoed wil praat. Die groot rasiste in die beheer van S.A.

Anel ·

Hulle sal nooit gevang word nie. Hiekom sal daar nou moeite gedoen word? Waar is die hoedman dat hy nog nie ‘n dooie woord gesê het nie? My pa en ma, onderskeidelik 89 en 84, is ook verlede jaar in hul huis aangeval in ‘n gewapende roof, en vreeslik verniel, vroeg oggend en 2 weke later het em sms gekry dat saak onopgespoor afgesluit is. Dit nadat mooi afdrukke en DNS gekry is. Sulke sake is nie vetonderstel om gesluit te word nie. Dis hoekom ek sê dat daar ongelukkig niks van gaan kom nie. Hoeveel van hierdie sake word ooit regtig opgelos en verdagtes gevonnis? Sterkte aan die gesin.

Maritza ·

Hulle het geen vrees meer nie. En met die dat JuJu haat uitsprake maak motiveer hulle net meer

pieter ·

Die probleme in ons land moet voor die deur van die regering gele word , hulle doen niks om die misdade te prioritiseer nie , ek hoor nie enige uitsprake wat dit veroordeel nie .
Hoe vinniger hulle verwyder word hoe gouer sal dit beter gaan .

Jack ·

Sondae is aanvalsdae deur die moordenaars omdat hulle weet dat boere dan rustig is opbdie afdag en waaksaamheid nie eers bestaan nie. Wees paraat julle is die teikens van die terroriste.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.