Maak jou sakeonderneming só staatsbestand

dr-frans-cronje-afrisake-2018-06-05

Dr. Frans Cronjé, ʼn scenariobeplanner en die uitvoerende hoof van die SAIRV het nie enige doekies omgedraai oor die moeilike politieke waters waarin die plaaslike ekonomie hom tans bevind nie. Foto: Reint Dykema.

Entrepreneurs en klein sakeondernemings sal toenemend planne moet beraam om hul besighede teen staatsinmening bestand te maak.

Dr. Frans Cronjé, ʼn scenariobeplanner en die uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge (SAIRV), het Dinsdag op ʼn AfriSake-konferensie oor die tema in Pretoria nie enige doekies omgedraai oor die moeilike politieke waters waarin die plaaslike ekonomie hom tans bevind nie.

“Ek glo nie dinge gaan beter word met pres. Cyril Ramaphosa aan die stuur van sake nie. Die ANC se beleide is daarop gemik om die eiendomsregte van sakeondernemings te verminder op meer vlakke as net grond. Verder is daar agterbakse en onregverdige belastings wat gehef word wat ook ʼn struikelblok bied.”

Cronjé het ook gemaan dat entrepreneurs hulle ook nie moet laat mislei oor waar die DA teenoor die sakesektor staan nie.

“Daar is nog baie mense wat goeie werk binne dié party doen, maar die magsbalans in die party is besig om na links te verskuif.”

Hy het gesê as Mmusi Maimane, die DA-leier, sê wit bevoorregting moet spesiale aandag geniet – sakeleiers besef dit beteken hul welvaart is die oorsaak van swart armoede.

“Dit beteken die staat moet toetree om jou hierdie voorregte te ontsê. Die sosialistiese denkwyse wat tans in die hoofstroom- en sosiale media heers, bedreig ook klein sakeondernemings deur hulle te skets as hebsugtig en onderdrukkend teenoor werknemers.”

Hoe maak ʼn mens dan jou klein sakeonderneming in die lig van soveel uitdagings teen die staat bestand?

Cronjé het gesê sakeleiers moet versigtig wees vir vaste bates en beleggings.

“Beperk jou besigheid met die staat en wees versigtig vir groot firmas – hulle is gewoonlik polities beïnvloed en kan tot ʼn mate bekostig om staatsinmening te verreken. Maak ook seker jy het kliënte buite Suid-Afrika se grense.

“Wees aktief betrokke by regulatoriese prosesse en sluit aan by organisasies soos AfriSake en die Instituut wat agter die skerms die goeie stryd stry teen hierdie dogmatiese regulatoriese raamwerke van die staat.”

prof-willie-cronje-afrisake-2018-06-05

Prof. Willie Cronje, wat die Alstom-leerstoel vir skoonenergiestelseltegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand beklee, het sy gedagtes met konferensiegangers gedeel oor hoe om elektrisiteitvoorsiening staatsbestand te maak. Foto: Reint Dykema.

Cronjé het benadruk dat die Suid-Afrikaanse regering baie versigtig is vir hoe die buiteland die land sien.

“Mooi praatjies is nonsens met dié regering, jy moet die magsbalans aan jou kant kry deur jou man te staan.”

Hy het ook gesê die groot gewaag wat oor die “hongerte na grond” gemaak word, is net ʼn bohaai. Die SAIVR het telkens in meningspeilings bevind dat grondhervorming nie voor in die gedagtes van Suid-Afrikaners, selfs swart landsburgers, staan as dit by die verbetering van hulle lewensstandaarde kom nie.

“Daar is geen grootskaalse vraag na grond nie. Mense is in elke geval tans besig om te verskuif na stede, en weg van landelike grondgebiede, vir beter werksgeleenthede, behuising en kanse.”

Die internasionale ekonoom, prof. Philipp Bagus, het gesê ʼn kleiner staat, groter kompetisie en meer outonomie was in die verlede die rede vir talle kleiner Europese state se sukses op ekonomiese gebied.

“Sodra ʼn staat te groot word, raak hy uit voeling met die gewone man en vrou se behoeftes. Dit is ook moeiliker om so ʼn groot staat verantwoordelik te hou.”

Prof. Willie Cronje, wat die Alstom-leerstoel vir skoonenergiestelseltegnologie aan die Universiteit van die Witwatersrand beklee, het sy gedagtes met konferensiegangers gedeel oor hoe om elektrisiteitvoorsiening staatsbestand te maak.

“Ons moet dink hoe ons energie, en veral elektrisiteit, beter kan verbruik. Afrika het die leeueaandeel van die wêreld se sonkragpotensiaal. Hoe kan ons hiermee die pad vorentoe vir onsself makliker maak?”

Hy meen die nuwe ontwikkelings in alternatiewe tegnologie beteken Suid-Afrika en ander Afrikalande kan stelselmatige wegbeweeg van gesentraliseerde energievoorsiening soos Eskom, wat in elk geval reeds sukkel om in die land se energiebehoeftes op afgeleë gebiede te voorsien.

“Dit maak persoonlike kragopwekking vir huise, buurte en selfs dorpe ʼn besliste moontlikheid.”

Beide prof. Cronje en Bagus meen “kleiner is mooier” wat beteken die gewone man en vrou moet meer mag kry sodat hulle meer vir hulself, hul gesinne en gemeenskappe kan doen.

dawie-roodt-afrisake-2018-06-05

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, sê emigrasie is nie nodig as jou geld privaat en digitaal is nie, al wat jy kort is ʼn goeie internetverbinding. Foto: Reint Dykema.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group, het gepraat oor die potensiaal van private geld om sakeondernemings staatsbestand te maak. Roodt meen die nuwe, moderne ekonomie is digitaal.

“Die konsep van geografiese landgrense gaan vervaag soos wat ekonomieë en geld heeltemal digitaal word. Jy sal nie meer emigrasie hoef te oorweeg as jou geld privaat en digitaal is nie, al wat jy kort is ʼn internetverbinding.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van AfriSake, het gesê dié sakeregteorganisasie verteenwoordig tans die sakebelange van 12 000 lede.

“Die plan is om nog verder uit te brei sodat ons nie anders kan as om by die mededingingstafel te wees nie.

“Daar is probleme en dit het risiko’s, maar ons moet die strategieë volg om bestand te word, om te beding vir beter opsies en alternatiewe op die tafel te plaas sodat ons kan aanhou om sake in Suid-Afrika te doen.

“Die ekonomie is te belangrik om dit in die hande van die politici oor te laat,” het Le Roux gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Ou Besigheidspersoon Bosvark ·

Dankie aan AfriSake en die sprekers vir hierdie inligting. Die Internet, vervoertegnologie en die maklike verskuif van fondse het nuwe geleenthede vir kreatiewe entrepreneurs geopen. Kontrakte met die SA staat is riskant.
Besigheidsvolhoubaarheid gaan oor die inherente vermoë om volhoubaar produkte te lewer wat voldoen aan alle regsvereistes en die kontraktuele bepalinge aangegaan met die kliënt.

Derick ·

Die eerste stap is vir one EIE mense om te besef dat ons MEKAAR moet ondersteun. Almal gaan koop by die “China Mall” omrede hulle pryse (en kwaliteit) so laag is. Totdat ons nie mekaar se hande vat en van ons troontjies afklim nie, sal geen praatjie enige verandering teweeg bring nie.

Ben ·

Stem saam met Derick hierbo. Ons moet mekaar ondersteun. Ons doen geen besighheid met die Staats Besighede of Banke nie. Sukkel tans om betaling te onvang van groot maastakapye. Meeste Chinese produkte het geen ondersteening nie en kwaliteit is nie na wense nie.

Hennie ·

Ons spolitikuste is n reuse probleem! En soos gewoonlik, gaan ons sterker anderkant uitkom want ons wil! Ek is ‘n trotse wafrikaner! Ek stem VF+

Eish ·

Die mees realistiese en feitlik regverdigbare scenario oor die besigheidswêreld sedert 1994!
Dr. Frans Cronje verreken die impak van die veranderende politieke omgewing onverbeterlik soos ervaar deur klein en mediumgrootte ondernemings. Die kaalvuiswaarheid is lank reeds ons ongesproke ervaring. Die meerderheidsregering se verskuilde agenda kristaliseer tot volle wasdom in die aanbieding van dr. Cronje en dui weereens op die korrektheid en tydigheid van Afriforum se buitelandse veldtog. Die grondkwessie loop goed deur onder die waarheid en politici se propagandagedrewe hantering hiervan, se onderrok hang tot op die enkels.
Lanklaas so n skeut waarheid sien impakteer op ons situasie.
Die afgelope twee dekades se kankerbestuur en verrotting roep luid om n skapel.

Eish ·

Kan ons asb dr. Frans Cronje se volledige toespraak te sien kry?

Kliente buite SA grense ·

Baie goeie raad om kliente buite SA te kry, gebruik nuwe tegnologie, digitale bemarking en e-handel daarvoor.

Kleiner staat ·

‘n Kleiner staat is goed vir ekonomiese groei…sou selfbeskikking dan ‘n opsie vir groei wees?

Derick ·

Nie ‘n opsie nie – ‘n gegewe. Ek voel asof ek dit persoonlik kan waarborg.

Digitaal ·

Ja die toekoms en uitweg vir ons is om die digitale ekonomie aan te gryp. Ek hoop Akademia werk aan kursusse in digitale tegnologie en digitale besigheid.

Koop plaaslik ·

Ons moet by ons eie plaaslike ondernemings koop, ons eie sakemense ondersteun en die groot maatskappye systap. Dan vloei die geld in ons plaaslike ekonomie in plaas van om deur die globale superrykes en korrupte politici opgeslurp te word.

Bemagtig julself ·

Uitstekende artikel, dankie. Almal, bemagtig julleself met digitale kennis op gratis aanlyn kursusse op Coursera, Edx ens.

Leon ·

Jammer Dawie, maar mens gaan steeds ‘n paspoort nodig hê / visa / dokumente wat geldig is om na sekere lande toe te gaan, maak nie saak waar jy jou geld kan heenskuif nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.