Maak ’n verskil, een vrag op ’n slag

Lilian Bron-Davis gebruik konfyt om ‘n verskil in mense se lewens te maak. (Foto: Verskaf.)

Deur Yolanda Wessels

Lilian Bron-Davis (75), ’n inwoner en eiendomsagent van Noordhoek, Kaapstad het heeltemal ’n nuwe lig op barmhartigheid en ruilhandel gewerp.

Veral tydens inperking het sy haar inisiatiewe uitgebrei en maak daagliks ’n enorme verskil met haar projek waar sy die Kaap plat ry om kos te versprei in townships, Clanwilliam en Citrusdal.

In 2003 het Lilian die projek, Money for Jam, in Vishoek en Ocean View van stapel gestuur saam met haar man, Ben Davis. Hiermee poog sy om haweloses te help om hulself te help en meer selfonderhoudend te maak.

“Dit is bloot een mens wat uitreik na ander en mense help binne ons vermoëns wat tydens die inperking nie vir hulself kan sorg nie. Ons keer terug na die basiese waar daar geen politiek betrokke is nie, dit is bloot net om ’n helpende hand uit te steek na ons medemens.”

Deur dié projek het sy ander sake- en plaaseienaars ontmoet wat vrugte, groente en tee skenk vir diegene in nood.

Die konsep is gebore uit Ben se ouma se resep vir Seville Whisky-lemoenmarmelade. Sy ry oraloor om vrugte te kry waarmee ’n groep vroue in Houtbaai dan konfyt kook en blatjang maak om weer te verkoop. Daar is tans vier verskillende spanne wat die konfyt, marmelade en blatjang maak.

Max Heins is die raadslid wat ook omsien na Clanwilliam se sentrum vir haweloses en Jannie Nieuwoudt van die organiese vrugteplaas Jamaka maak graag bydraes aan die projek en sentrum. (Foto: Verskaf.)

Sy het dieselfde projek ook in die Oos-Kaap begin en is by verskeie ander projekte betrokke. Sy kry skenkings vir bottels en vrugte om die konfyt te kook, maar moet self die suiker, potte en elektrisiteit voorsien. Sy het een plaaslike en twee oorsese skenkers wat haar help met diesel en aankope van sommige produkte. Dit word verkoop, hulle ruil uit, skenk aan die armes so ver as die Oos-Kaap en selfs oorsee. In Desember kon ’n hulle, byvoorbeeld, dertig botteltjies konfyt maak ná ’n baie ruim donasie van ’n vrugteboer in die Paarl. Dit is verkoop in Noordhoek by kleinhandel-afsetpunte en die profyt is verdeel tussen die vroue wat die konfyt gemaak het vir kos vir Kersfees en Nuwejaar, skooluniforms asook busgeld om na die Oos-Kaap, waar hul huise is, te reis.

Met haar eerste besoek aan Clanwilliam het sy uie, botterskorsies, appels en mango’s by die sopkombuis afgelewer. Sedertdien is sy gereeld in die dorp met skenkings. Sy was juis op soek na mango’s vir blatjang toe sy deur ’n skenker na die Nieuwoudts van Jamaka Organic Farm and Resort in Clanwilliam verwys is en sodoende in die Cederberge beland het. Spoedig het Jamaka haar tuiste geword wanneer sy op haar reis was tussen die Kaap en Clanwilliam.

Jamaka is ook een van die ondernemings wat produkte skenk wat sy in die platteland versprei. Van die produkte wat sy uitdeel, sluit in veselperskes, gedroogte veselperskes, pampoen, lemoene en appels. Sy kry appels en pruime op Piketberg (die appels kom van die plaas Achtervlei in Piket-Bo-Berg), lemoene en tee op Citrusdal en gee weer vir die landbouprodusente daar van die mango’s wat die Nieuwoudts vir haar gee. Alles vind plaas op ’n ruilhandelmetode en geskied dus gratis.

Almal op Jamaka-vrugteplaas help om te skil. Die foto is voor die inperkingstyd geneem. (Foto: Verskaf.)

Een keer het sy op Jamaka ’n groot skenking pampoene gekry. Lilian, haar twee kollegas en al die plaasmense het daar en dan ingespring om die pampoene te skil en in blokkies te sny. Sy het ook mango’s en appels gekry wat sy na die sopkombuis op Clanwilliam geneem het. Op haar roete doen sy by verskeie plase aan waar sy produkte kry om Kaap toe te neem en met die terugkomslag tel sy weer produkte op wat sy Clanwilliam neem. Sy gee elke keer iets wat sy by ’n vorige skenker ontvang het aan die nuwe skenker en sodoende bring sy ook die landbouprodusent in kontak met mekaar en hul produkte.

Sy sê die mense van Jamaka het reeds honderde mense in nood van die Kaap tot Clanwilliam gehelp vandat sy hulle leer ken het. Met behulp van twee plaaslike inwoners word mense geïdentifiseer wat werklik in nood is en die produkte word dan aan hulle uitgedeel. Dit is vir haar baie belangrik om seker te maak die produkte gaan na mense wat regtig niks het nie – alle skenkings moet na mense gaan wat dit regtig benodig.

Sy het ’n reispermit as noodsaaklike diensverskaffer, dra haar masker en ontsmet haar motor ook gereeld ná aflewerings. Met elke finansiële transaksie maak sy haar motor vol diesel en dit voorsien ook in ander uitgawes, soos akkommodasie, kos, data en lugtyd sodat sy weekliks honderde gesinne kan voed en ’n verskil in hul lewens maak.

Met byvoorbeeld elke R1 000 wat sy ontvang, kan sy na Clanwilliam reis (nadat sy eers by drie groenteplase in Noordhoek aangedoen het) en ’n totaal van ongeveer 400 kg groente vervoer. Met die terugtog neem sy weer dieselfde gewig sitrus, botterskorsie, pampoen en aartappels saam. Lilian, Vivian Mjongile en Mexin Madonci het tydens die inperking die platform gekry om meer dikwels uit te reik as gevolg van erge nood. Nodeloos om te sê dat die nood wat Covid-19 veroorsaak, lei tot erge hongersnood in gemeenskappe, gekombineerd met haglike lewens- en werksomstandighede en mediese tekortkominge.

Money For Jam is intussen herdoop na Money For Jam – Shelter From The Storm, hul belangrikste projek. Lilian en haar man, Ben, leer mense hoe om deur konfytkook en musiek hul lewens te verbeter

Bill, die 33-jarige perd is ‘n geliefde inwoner van Jamaka. (Foto: Verskaf.)

Jamaka is ’n geliefde plek vir Lillian. Almal op die plaas, van Jannie en Katrin Nieuwoudt, hul seuns wat betrokke is, die werksmense, vrugteplukkers en stoorpakkers tot die kantoorpersoneel is ’n gedugte, hardwerkende, harmonieuse span met ’n groot liefde vir hul diere. Een van die geliefde inwoners is Bill, ’n 33-jarige perd. Hy loer elke dag by die kantoor in vir ontbyt en in die middae kom soek hy koekies en melk. Hier is geen persoonlike-, sosiale- of werksgrense nie en ieder en elk dra by en trek voordeel.

“Die Nieuwoudts het hul oorvloed met liefde geskenk vir ons voedingsprogram in hierdie ongelooflike uitdagende tye. Tesame met ander plase in die Kaap, het hulle duisende mense in nood help voed, van Clanwilliam tot in Kaapstad.

“Ons is toegewy om die aantal plakkershutte in Afrika te verminder en volhoubare, goed geboude laekostebehuising te ontwerp en voor te lê aan die regering vir advies en befondsing.”

  • Lesers wat Lilian se projek Money for Jam – Shelter from the Storm wil ondersteun kan haar skakel by 082 377 3725 of ‘n e-pos stuur aan [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Susan ·

Ai maak mens se hart seer en gelukkig dat mense so uitreik waar di behoefte en nood groot is. Danki aan di boere wat bereid is om vrugte te skenk om al di lekker blatjang en marmelades te kan maak. Dis skokkend om di nood so onder ons mense te sien. My hart breek oor dit maar ek bid dat Onse Vader ons sal hp in di tyd wat ons nou is

Mallie ·

Dis snaaks. Sy is wit en dan reik sy uit na ander wat nie het. Sal die EFF en al hulle kaders dit doen of is dit weereens net die wit mense wat dit doen. Mr C jy sal moet begin hand aan eie boesem slaan en iets doen om die land te help red.

Gemaskerde Sopbeen ·

Twyfel of hulle dit selfs aan hulle eie mense doen

Eish ·

Wel gedaan! Dit is beter om iemand te help om iets te bereik as om net kos uit te deel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.