Maak seker jou huis is waterveilig, sê NSRI

(Argieffoto)

Die plekke waar kleuters in die grootste watergevaar is, is in en om die huis. Kinders kan verdrink in slegs ʼn paar sentimeter water en daarom skep enigiets van ʼn swembad in die agterplaas tot baddens en emmers in die huis ʼn veiligheidsrisiko.

Volgens Statistieke Suid-Afrika is verdrinking die vyfde grootste oorsaak van onopsetlike sterftes in die land met sowat 350 kinders wat jaarliks verdrink.

Op 15 Mei word Internasionale Waterveiligheidsdag gevier en vanjaar skep die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) bewustheid oor dié voortdurende kwessie in die land deur daarop te fokus om die jeug op te voed oor waterveiligheid.

Die NSRI is ʼn liefdadigheidsorganisasie wat lewens red in Suid-Afrikaanse waters – aan die kus en in die binneland en hulle reddingsvrywilligers is alle ure van elke dag beskikbaar.

Die organisasie besoek skole regoor die land om kinders omtrent waterveiligheid in te lig. Die NSRI se waterveiligheidsinstrukteurs het al meer al 3 miljoen kinders geleer hoe om watergevare te vermy en wat om te doen in ʼn noodgeval.

Die lesse word gewoonlik tussen skoollesse aangebied by skole wat swembaddens het. Tydens die inperking is lesse ook virtueel aangebied.

“Die meeste verdrinkings van kinders jonger as vyf jaar oud is by of naby die huis. Spesiale aandag moet aan wasbakke, baddens, damme, riviere en swembaddens gegee word,” sê Andrew Ingram, verdrinkingsvoorkomingbestuurder by die NSRI.

“Klein kinders behoort nie naby aan hierdie gevare te kan kom sonder ʼn verantwoordelike volwassene se toesig nie. Ouer kinders moet ook gereeld herinner word aan die gevare wat water inhou.”

Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) stel vier maniere voor waarop verdrinkings voorkom kan word:

  1. Bring versperrings aan wat toegang tot water beheer,
  2. Bied veilige plekke weg van die water vir voorskoolse kinders, met bekwame kindersorg,
  3. Leer jong skoolleerders waterveiligheid- en vaardighede en
  4. Lei bystanders op in redding en resussitasie.

“Dit is belangrik dat ouers en versorgers oor noodhulpkennis beskik, dat hulle plaaslike noodnommers op hulle selfone stoor en dat hulle seker maak familielede en kinders se oppassers doen dieselfde,” het Ingram bygevoeg.

Besoek die webwerf om ʼn skenking aan die NSRI te maak.

In ʼn noodgeval skakel 112 van ʼn landlyn of selfoon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Bushy ·

Jare gelede het ek n gratis eerstehulp kursus gereel. Was adverteer in plaaslike koerant en op radio oosrand vir meer as twee weke. Kursus was op n saterdag by n plaaslike skool. Daar was sewe paramedics van verskeie eerstehulp organisasies wat die kursus gratis kom aanbied het. Hoe eronies, sewe mense het opgedaag, een vir elke paramedic. Nie eers een onderwyser nie. Mense is baie laks as dit kom by iets leer om ander in nood te kan help. My bloed kook as n kind verdrink en mense ken nie eerstehulp of n kind verstik by n skool en personeel is onbevoeg om te weet wat om te doen. Mense glo daar is mos paramedics maar besef nie hoe kritiek daai eerste minute is nie. Elke onderwyser moet verplig word om gevorderde eerstehulp vaardig te wees, elke polisieman, verkeersman ens. Ons kan nie net op paramedics staatmaak nie, hulle het reeds hulle hande vol en kan nie betyds oral wees nie. Tyd is kritiek. Deur my werksloopbaan het ek ook gesien hoe laks kollegas is om opgelei te wil word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.