Maak só as jy ʼn transitoroof sien

‘n Skermskoot uit die video van die voorval naby MultiChoice se hoofkantoor in Randburg, Johannesburg (Maart 2018)

Die veiligheidsmaatskappy SBV, wat ook kontant-in-transito-dienste verskaf, het ʼn paar wenke verskaf oor wat jy kan doen indien jy ʼn transitorooftog sien.

Maroela Media het vroeër berig ʼn man is dood ná ʼn wilde skietgeveg naby MultiChoice se hoofkantoor in Randburg, Johannesburg. Minstens vyf persone het in drie motors op die toneel aangekom en op ʼn geldwa toegeslaan. ʼn Skietgeveg het tussen die rowers en geldwagte uitgebreek en een van die verdagtes is gewond.

SBV het gesê Suid-Afrikaners was ontsteld oor verskeie selfoonvideo’s van die voorval.

“Teenstrydig met verskeie bewerings op die video’s, was SBV Cash Services nie betrokke by die betrokke rooftog nie. Dit is egter ʼn toneel waaraan kontantdiensmaatskappye baie gewoond is. Transitorooftogte word vinnig een van die grootste gevare vir die Suid-Afrikaanse publiek,” het Mark Barrett, groepshoof van SBV Services, gesê. “Die video wys die totale minagting van lewens – nie net vir die werknemers nie, maar ook onskuldige omstanders. Almal in die omgewing van die aanval is in gevaar.”

Hy het gesê alhoewel die video’s vreesaanjaend is, is dit ʼn goeie voorbeeld van hoe burgerlike joernalistiek en ooggetuies kan help om die omvang van geweld tydens transitorooftogte aan die lig te bring en wetstoepassers te help om die oortreders uit te ken.

Hy waarsku egter dat dit belangrik is dat jy nooit jou eie lewe in gevaar moet stel nie.

As jy in die middel van ʼn transitorooftog beland, moet jy die volgende doen:

  1. Beweeg so vinnig as moontlik na ʼn plek van veiligheid
  2. Stel die owerhede so vinnig as moontlik in kennis (bel die polisie by 10111)
  3. Neem alles waar: Watter klere dra die oortreders? Neem kennis van die kleur en maak van die voertuig; Kan jy die nommerplaat sien (of gedeeltelik sien)?
  4. Let op tekens van skok wat jy moontlik eers ná die aanval kan beleef: let op ʼn klam vel, angs, angsaanvalle, vlak asemhaling. Kry berading as jy dit nodig het.

“Transitorowers is ʼn gevaar vir Suid-Afrika. Ons doen ʼn beroep op die publiek om ons en die owerhede te help met enige inligting wat met dié misdade te doen het. Hierdie misdadigers is omring deur familie en vriende wat weet wat hulle doen – jy kan ʼn lewe red as jy die inligting bekend maak. Of dit nou net ʼn vroegtydige waarskuwing is of inligting oor ʼn rooftog wat reeds plaasgevind het, dit is nou die tyd om iets te sê,” het Barrett bygevoeg.

As jy enige inligting oor ʼn transitorooftog het, kan jy SBV se Early Warning Robbery Hotline kontak by 083 408 7029.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Cherokee ·

Ek het menige kere in hierdie forums gesê dat transito rooftogte in die kiem gesmoor kan word deur ‘n sisteem te ontwikkel wat die geldnote vlek en onbruikbaar maak indien die trommels of selfs die voertuig oopgeforseer word. Dit sal die geld onbruikbaar maak maar geen skade vir die eienaars daarvan nie omdat die nommers bekend sal wees en dit herdruk kan word. Dit sal so eenvoudig wees om die trommels te laai met kleurstof wat uitloop indien dit nie op ‘n voorgeskrewe manier oopgemaak word nie. Daar kan ‘n sisteem wees wat sê watter note is vernietig sodat nuwes gedruk kan word.

LM ·

Cherokee en jy het al vir so maatskappy gewerk ne. so tussen my en jou daar is kleurstof in trommels . so jy is toe nou nie so slim met jou patent nie hoor. Dit is al jareeeeeeeeeeeeee in gebruik maar dit keer nog nie die rowers om iemand te vermoor vir hul gierigheid nie. En mooi geskiet ouens

Piet ·

Mense wat baie met kontant werk sal jou ook vertel dat baie van die note wat hulle ontvang pink op die rante is. Dis omdat die kleurstof nie die note in die middel so erg bevlek het nie, dan kom dit weer in omloop of dit nou bevlek is of nie. Ek het die note al tevore gesien. Hoewel die skurk met n hengse gemors sit nadat die kleurstof ontplof het is dit eintlik steeds nie n groot afskrik midel nie. Dis mos nie gif nie.

Leahim ·

Julle het niks te vrees nie die kwazulu natal polisie blyk goed opgelei te wees en as ek na die afgelope tyd se berigte kyk kan hulle skiet dit is die klomp in limpopo en gauteng waar die kommer is want ons het nog mense in blou uniforms maar jy kan hulle nie polisie noem nie.

Cherokee ·

Dan Piet, is die kleurstof waardeloos en hulle mos hul tyd daarmee. Dit behoort ‘n sisteem te wees wat die note vernietig. Teen die tempo waarmee transito-rooftogte uitgevoer word, en as dit na ‘n tyd slegs pienk om die kante is, mors hulle bloot hul tyd. Ooglopend is dit waardeloos.

Matrys ·

Dit is vir my hartseer dat sulke goed bedoelde advies altyd so passief is, asof die publiek nie ‘n keuse het anders as om hulpelose slagoffers te wees nie. Nog ‘n opsie is natuurlik om die rowers self aan te vat – mits jy weet wat jy doen en nie onnodig onskuldige mense in gevaar gaan stel nie. Dit is nogal opmerklik hoe swak baie rowers se dissipline,toerusting, hantering en taktieke is – in die video laat net 3 skote, waarvan hoogstens 2 getref het, dadelik 4 rowers op die vlug slaan. Al wat dit vat is ‘n bietjie weerstand.

Sparkplug ·

Dit gaan net oor die geld en maak nie saak wie moet seerkry of doodgeskiet word nie, hulle soek net die geld. Al kleur jy die geld, gaan hulle nog steeds daai transito lede doodskiet…en enige iemand wat in hul pad staan. Maak jy die geld onbruikbaar dan roof hul net more nog n trok.

Basson ·

Ek praat onder korreksie, maar ek verstaan dat SAPS Taakmag ens ook kontakbaar via 112 is?

MAROUS ·

Dis die polisie se plig om misdaad voorkoming te doen. As misdaad staistiek verg dat daar twee polisiebemptes vir elke landsburger aangestel word en hulle die strate dag en nag moet patrolleer dan moet dit gedoen word. Hierdie patetiese regering verwag privaat sekuriteits maatskappye en die publiek moet die gemors uit sorteer.

ai ·

Hettie…dan sal so persoon dalk nie eers ook weet iets gaan aan nie. Gewoonlik is dowe mense baie meer paraat as wat jy dink. Hoe kom hul nadersins reg dink jy? Hul kan steeds sms of as hul die noodnommers op hul foon het skakel en net as iemand optel se hul is doof en kan net alles weergee wat hul sien/gesien het.

LB S ·

“Omring deur vriende en familie wat weet wat hulle doen, jy kan ‘n lewe red deur dit te rapporteer”….. Nie MY familie nie, dis verseker.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.