Maak só as jy ʼn transitoroof sien

‘n Skermskoot uit die video van die voorval naby MultiChoice se hoofkantoor in Randburg, Johannesburg (Maart 2018)

Die veiligheidsmaatskappy SBV, wat ook kontant-in-transito-dienste verskaf, het ʼn paar wenke verskaf oor wat jy kan doen indien jy ʼn transitorooftog sien.

Maroela Media het vroeër berig ʼn man is dood ná ʼn wilde skietgeveg naby MultiChoice se hoofkantoor in Randburg, Johannesburg. Minstens vyf persone het in drie motors op die toneel aangekom en op ʼn geldwa toegeslaan. ʼn Skietgeveg het tussen die rowers en geldwagte uitgebreek en een van die verdagtes is gewond.

SBV het gesê Suid-Afrikaners was ontsteld oor verskeie selfoonvideo’s van die voorval.

“Teenstrydig met verskeie bewerings op die video’s, was SBV Cash Services nie betrokke by die betrokke rooftog nie. Dit is egter ʼn toneel waaraan kontantdiensmaatskappye baie gewoond is. Transitorooftogte word vinnig een van die grootste gevare vir die Suid-Afrikaanse publiek,” het Mark Barrett, groepshoof van SBV Services, gesê. “Die video wys die totale minagting van lewens – nie net vir die werknemers nie, maar ook onskuldige omstanders. Almal in die omgewing van die aanval is in gevaar.”

Hy het gesê alhoewel die video’s vreesaanjaend is, is dit ʼn goeie voorbeeld van hoe burgerlike joernalistiek en ooggetuies kan help om die omvang van geweld tydens transitorooftogte aan die lig te bring en wetstoepassers te help om die oortreders uit te ken.

Hy waarsku egter dat dit belangrik is dat jy nooit jou eie lewe in gevaar moet stel nie.

As jy in die middel van ʼn transitorooftog beland, moet jy die volgende doen:

  1. Beweeg so vinnig as moontlik na ʼn plek van veiligheid
  2. Stel die owerhede so vinnig as moontlik in kennis (bel die polisie by 10111)
  3. Neem alles waar: Watter klere dra die oortreders? Neem kennis van die kleur en maak van die voertuig; Kan jy die nommerplaat sien (of gedeeltelik sien)?
  4. Let op tekens van skok wat jy moontlik eers ná die aanval kan beleef: let op ʼn klam vel, angs, angsaanvalle, vlak asemhaling. Kry berading as jy dit nodig het.

“Transitorowers is ʼn gevaar vir Suid-Afrika. Ons doen ʼn beroep op die publiek om ons en die owerhede te help met enige inligting wat met dié misdade te doen het. Hierdie misdadigers is omring deur familie en vriende wat weet wat hulle doen – jy kan ʼn lewe red as jy die inligting bekend maak. Of dit nou net ʼn vroegtydige waarskuwing is of inligting oor ʼn rooftog wat reeds plaasgevind het, dit is nou die tyd om iets te sê,” het Barrett bygevoeg.

As jy enige inligting oor ʼn transitorooftog het, kan jy SBV se Early Warning Robbery Hotline kontak by 083 408 7029.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

13 Kommentare

jongste oudste gewildste
Grappie

Bel 10111? Soos die Engelsman sou sê: But why?

Cherokee

Ek het menige kere in hierdie forums gesê dat transito rooftogte in die kiem gesmoor kan word deur ‘n sisteem te ontwikkel wat die geldnote vlek en onbruikbaar maak indien die trommels of selfs die voertuig oopgeforseer word. Dit sal die geld onbruikbaar maak maar geen skade vir die eienaars daarvan nie omdat die nommers bekend sal wees en dit herdruk kan word. Dit sal so eenvoudig wees om die trommels te laai met kleurstof wat uitloop indien dit nie op ‘n voorgeskrewe manier oopgemaak word nie. Daar kan ‘n sisteem wees wat sê watter note is vernietig sodat nuwes… Lees meer »

Matrys

Dit is vir my hartseer dat sulke goed bedoelde advies altyd so passief is, asof die publiek nie ‘n keuse het anders as om hulpelose slagoffers te wees nie. Nog ‘n opsie is natuurlik om die rowers self aan te vat – mits jy weet wat jy doen en nie onnodig onskuldige mense in gevaar gaan stel nie. Dit is nogal opmerklik hoe swak baie rowers se dissipline,toerusting, hantering en taktieke is – in die video laat net 3 skote, waarvan hoogstens 2 getref het, dadelik 4 rowers op die vlug slaan. Al wat dit vat is ‘n bietjie weerstand.

Sparkplug

Dit gaan net oor die geld en maak nie saak wie moet seerkry of doodgeskiet word nie, hulle soek net die geld. Al kleur jy die geld, gaan hulle nog steeds daai transito lede doodskiet…en enige iemand wat in hul pad staan. Maak jy die geld onbruikbaar dan roof hul net more nog n trok.

Basson

Ek praat onder korreksie, maar ek verstaan dat SAPS Taakmag ens ook kontakbaar via 112 is?