‘Maak waterveiligheid deel van leerplan’ – NSRI

(Argieffoto)

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het ʼn beroep op die departement van basiese onderwys gedoen om swemlesse, waterveiligheid en noodhulpkursusse deel van die leerplan te maak. Dié versoek volg nadat die Verenigde Nasies (VN) sy resolusie oor verdrinkingsvoorkoming bekendgemaak het.

“Skole speel ʼn deurslaggewende rol in die voorkoming van verdrinkings en kan deur middel van waterveiligheidslesse talle tragedies voorkom,” het Jill Fortuin, direkteur van verdrinkingsvoorkoming by die NSRI, gesê.

Volgens die NSRI is daar jaarliks ongeveer 1 500 noodlottige verdrinkings in Suid-Afrika, van wie 450 kinders is. Ongeveer ʼn derde van alle noodlottige verdrinkings is onder kinders jonger as 14 jaar oud.

Daar word beraam dat meer as een kind elke dag in Suid-Afrika verdrink.

Die VN se resolusie, wat op 28 April onderteken is, erken dat verdrinkings ʼn internasionale kwessie is wat met behulp van laekoste-ingrypings voorkom kan word. Die VN meen dat lande wêreldwyd voorkomingsprogramme moet ontwikkel en wetgewing oor waterveiligheid instel en toepas.

“Die wêreld se hoogste verdrinkingsyfers is in Afrika, terwyl die meeste noodlottige verdrinkings in Asië plaasvind. Verdrinkings is die vernaamste oorsaak van kindersterftes wêreldwyd en een van die tien oorsake van kindersterftes vir ouderdomsgroepe tussen vyf en 14 jaar oud,” lui die resolusie.

Noodlottige verdrinkings in hierdie ouderdomsgroepe is glo hoër in landelike gebiede weens die groot aantal watergebiede in en om landelike gemeenskappe.

“Duisende kinders moet mere en riviere oorsteek net om elke dag by die skool uit te kom,” het Fortuin gesê.

“Die ongekende aantal verdrinkingsvoorvalle in ons land is genoeg rede dat die regering ʼn nasionale opvoedingsprogram vir waterveiligheid van stapel moet stuur. Hierdie kwessie moet dringend aandag geniet.”

Fortuin sê hoewel die verantwoordelikheid by ouers en toesighouers lê om kinders se veiligheid rondom water te verseker, is swemlesse en dies meer nie altyd toeganklik vir Suid-Afrikaners nie.

“Die VN se resolusie moedig regerings aan om ʼn eenvoudige stap te doen om verdrinkings te voorkom, en dit is om ʼn voorkomingsbeleid in skole te hê.

“Geen ouer hoef ʼn kind te verloor nie, veral nie weens iets wat heeltemal voorkombaar is nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Eiervrug

En wat dan??. Dan gebeur iets met 1 van die 34 kinders wat op ‘n slag in die swembad is, en dan wil Lesufi weer die onderwyser fire ?? Leer hulle liewer van padreëls en hoe om ‘n motor te bestuur in gr 11……

Anel

In Nederland mag geen kind op ‘n skooluitstappie gaan as hy/sy nie ‘n sekere swemkursus geslaag het nie. Ek weet in Frankryk jare terug, net na die verdrinking van omtrent honderd kinders op die Lemanmeer, is alle kinders in std 4 of nou graad 6 gedwig om vir ‘n jaar lank swemlesse te neem. Die skool het ons gevat. En die swembaddens is onder dak. Dit was aan die einde van die jare 60, begin 70. Weet nie of dit nog so is nie. So, met die wonderlike weer wst ons land het en al die swembaddens, glo ek kinders… Lees meer »

Stephan

Die regering (en veral Lesufi) faal die land gruwelik. In 26 jaar is die onderwysvlak negatief aangepas, geen erkenning vir kultuur purisme, christenskap is afgewys…in plaas daarvan speel die ANC woer-woer politiek.
Nou wil hulle kinders leer swem…OMW!

Ja wat

Reg soos die ou dae het ons op laerskool leer swem die wat nie swembad gehad het by huis.

Gerhard

Ouers het die keuse om hul kinders waterveiligheid te leer vir babas van 6 (dink ek) maande af. Die kursus leer hulle om op hul rug te draai en die kant vas te gryp totdat iemand (soos n ouer wat by die braaier staan en kuier eerder as die kinders oppas soos hy/sy gese het hy sal doen) by hulle kan uitkom. Die NSRI se voortel is briljant. Of die onderwys departement dit moet uitvoer wonder ek self oor (Ons ouers wil mos maar altyd die probleem iemand anders sin maak ). Maar dit kry klaar meer reaksie as wat… Lees meer »