Maanhaarjakkalsies toe nie opgespoor

Maanhaarjakkalsies Foto: Funny Wildlife, Tumblr

Maanhaarjakkalsies Foto: Funny Wildlife, Tumblr

Die kleintjies van ʼn maanhaarjakkalswyfie wat Vrydagaand op die N10, ongeveer 30 km buite Cradock in die Oos-Kaap doodgery is, is nooit opgespoor nie en die vermoede bestaan dat hulle gevrek het.

Penny Morkel, dierekliniekbestuurder by die FreeMe-rehabilitasiesentrum, het Maandag aan Maroela Media gesê die presiese plek waar die ma doodgery is kon nooit opgespoor word nie en daar kon dus nie behoorlik in die veld langs die pad na die kleintjies gesoek word nie.

“Daar is ʼn paar informele nedersettings in die omgewing waar die dier doodgery is. Die vermoede bestaan dat iemand dalk die dier se karkas opgetel het om dalk vir moetie te verkoop, want toe daar die volgende dag in daglig na die karkas gesoek is, was daar geen teken daarvan nie,” het Morkel gesê.

Morkel het gesê daar was selfs ʼn beampte van die Cradock-polisie wat uit sy pad gegaan het om na die karkas van die dier te soek nadat die organisasie Saterdag ʼn beroep op mense gedoen het om daarvoor uit te kyk sodat die kleintjies opgespoor kan word.

“Hy het selfs etlike kilometer ver op en af gery om vir enige bloed op die padoppervlak te soek, maar hy kon niks sien nie. Die kleintjies sal nie lank sonder hul ma se melk oorleef nie en ons vermoed nou maar dat die natuur sy gang gegaan het.”

Maroela Media het vroeër berig ʼn motoris het die maanhaarjakkalswyfie raakgery. Hy het daarna stilgehou en gesien die dier is dood en dat sy kleintjies gehad het. Die man het sy vrou in Krugersdorp gebel wat op haar beurt met FreeMe in verbinding getree het. “In daardie stadium was dit sowat ʼn uur en half nadat die wyfie raakgery is, die man moes noodgedwonge verder ry en kon ongelukkig nie vir ons GPS-koördinate verskaf waar die ongeluk plaasgevind het nie, en omdat dit donker was kon hy ook nie enige landmerke uitken nie,” het Morkel vroeër gesê. Lees meer hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

CHRISTA ·

Dit is so bitter jammer!! Ons diere word juis so uitgemoor dat daar een van die dae nie meer veel sal oorbly nie.

Eliza-beth ·

Christa ja en veral jakkalse. Dan maar sekeres die aanmerking o maar het jy al gesien wat doen ‘n jakkals aan ‘n skaap. Wel as die mens net nie altyd wil oorvat waar die arme goed moet jag en leef dan sal dit nie gebeur nie. Ons roei hul kos (hase ens) ook mos uit en wonder dan hoekom hulle skape vang. Ek sê hoevele kere elke ding het sy plek in die natuur, roei een spesie uit en ‘n ander vat oor en dan is daar wanbalans. Maar leer die mens?? NEE!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.