Maatreëls aangekondig om bek-en-klouseer in KZN te stuit

ʼn Uitbreking van bek-en-klouseer is teen die einde van Mei reeds in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in die provinsie bevestig. (Argieffoto: pixabay)

Die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, het die distriksmunisipaliteite van King Cetshwayo, Umkhanyakude en Zoeloeland in KwaZulu-Natal tot sogenaamde siektebestuursgebiede verklaar in ʼn poging om die verspreiding van bek-en-klouseer te stuit.

Die beweging van hoefdiere, hul produkte en genetiese materiaal in en uit dié gebied word verbied, tensy ʼn permit daarvoor spesifiek uitgereik word.

ʼn Uitbreking van bek-en-klouseer is teen die einde van Mei reeds in die Umkhanyakude-distriksmunisipaliteit in die provinsie bevestig.

Tot dusver is 12 plekke geïdentifiseer en onder kwarantyn geplaas. Verskeie daarvan is opgespoor deur kliniese en nasporingsondersoeke. Dit sluit ʼn uitbreking by ʼn kommersiële voerkraal in.

Die departement sê die plekke is onder voorlopige kwarantyn geplaas en opvolgondersoeke word gedoen om te bepaal of die siekte verder versprei het.

“Teen 25 Junie is 13 229 monsters van 390 plekke versamel. Hiervan is 8 616 monsters reeds getoets,” sê Didiza.

Toetse op die res van die monsters word intussen by die navorsingsfasiliteit van die Landbounavorsingsraad by Onderstepoort, buite Pretoria, voortgesit.

Toetse om oorsprong van die oorspronklike uitbreking te bepaal, word steeds gedoen.

Die departement het ook ʼn omvattende opvolgondersoek van stapel gestuur om die omvang van die uitbreking vas te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.