‘Maats’ poog glo om gestremde Pta-seun te verdrink

Argieffoto

ʼn Ondersoek is van stapel gestuur nadat ʼn 15-jarige verstandelik gestremde seun van Eersterust in Pretoria Saterdagmiddag glo deur “maats” aangerand en hy byna in ʼn spruit verdrink het.

Desiree Fisher, van die vereniging vir besorgde ouers in Eersterust, het Maandag aan Maroela Media gesê die seun was glo op pad om vir sy pa te gaan kuier toe die voorval in Highlandspark plaasgevind het.

Fisher het gesê volgens ʼn minderjarige ooggetuie het die kinders die seun se broek afgetrek en hom met ʼn stuk van ʼn tuinslang op sy boude geslaan, waarna hulle sy hande vasgebind en hom in ʼn spruit probeer verdink het. Die seun wat die voorval sien gebeur het, het die 15-jarige uit die water gered.

Die vereniging het aanvanklik van die voorval gehoor toe ʼn plasing op sosiale media gemaak is dat die seun na bewering deur die ander verkrag is.

“ʼn Pastoor het dit dadelik opgevolg en is na die seun se huis, waarna hulle na die polisiestasie is. Die gemeenskap was kwaad want die polisie het aanvanklik gesê hulle gaan nie ʼn verkragtingsaak oopmaak nie en die kind moet Maandag ʼn maatskaplike werker gaan sien. Ek was ook daar en is ontstoke omdat die polisie die kind nie dadelik vir mediese behandeling geneem het nie. Wat met hom gebeur het, is afgryslik. ʼn Mens kon sien hy was getraumatiseerd, in pyn en het krapmerke aan sy lyf gehad,” het Fisher gesê.

Sy het gesê aangesien die seun verstandelik gestremd is, is dit moeilik om hom te verstaan. “Hy het gesê dat sy broek afgetrek is en dat hulle ʼn stok in sy mond gedruk het.” Sy weergawe van die voorval is wisselvallig.

Die seun is later na ʼn mediese sentrum geneem waar vasgestel is dat hy nié verkrag is nie. Na wat verneem word, is die seun in die sorg van sy ma geplaas.

Sers. Sam Shibambo, woordvoerder van die Eersterust-polisie, het bevestig dat die polisie na die klagte omgesien het.

“Die polisie is bewus van die gerugte wat op sosiale media geplaas is dat die seun glo deur vier ander verkrag is en dat die polisie geweier het om ʼn verkragtingsaak oop te maak,” het Shibambo gesê. “Hoewel die sosiale mediaplasings daarop dui dat die polisie nie hul werk gedoen het nie, het die polisie wel die saak hanteer.”

Shibambo het gesê beamptes van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (FCS) is ingeroep, waarna die seun na die Thuthuzela-sentrum geneem is. Dit is daar waar daar vasgestel is dat hy nie verkrag is nie.

“Verdere ondersoek het vasgestel die seun het met sy nefies en vriende gespeel. Die seuns het mekaar seergemaak terwyl hulle gespeel het aangesien sommige van die ander ook krapmerke en kneusplekke opgedoen het.”

Shibambo het gesê geen van die seuns se ouers het enige aanklagte van aanranding aanhangig gemaak nie. Die departement van maatskaplike ontwikkeling word nou by die ondersoek betrek en van die kinders sien reeds maatskaplike werkers.

“Die polisie sal voortgaan om die regte van vroue en kinders te beskerm en seker te maak dat almal veilig voel,” het Shibambo gesê

Fisher het gesê die vereniging sal die situasie fyn dophou om seker te maak die voorval word behoorlik ondersoek en dat die seun veilig is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lukas van Zyl ·

Wat loop verkeerd in n kind se brein om so iets te wil doen?

Pippy Langkous ·

Let wel dat die pastoor of vereniging nie daarvan te hore sou kom as die plasing nie op facebook gesit is nie. Dit is waar almal begin spring het om te help. Jy lees dan selfs die polisie het geweier om ‘n saak oop te maak en gese hy moet eers die volgende dag vir hulp gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.