Maatskaplike werker vra korrektiewe toesig vir modelbaas

Dawie de Villiers tydens ‘n vorige verskyning in die hof. Foto: ANA

ʼn Maatskaplike werker, wat in die voorvonnisverhoorverrigtinge getuig van Dawie de Villiers, die hoof van ʼn modelagentskap in Kempton Park wat vroeër skuldig bevind is op aanklag van verkragting, het aan die Johannesburgse hooggeregshof gesê die slagoffers het nie berading ontvang nie – “ʼn teken dat hulle nie enige trauma beleef het nie”.

“Ek was nogal verras, ek wonder nog steeds waarom hulle nie bygestaan is nie,” het Katherina Walmerans tydens kruisverhoor gesê.

De Villiers, stigterslid van Modelling South Africa, is in Februarie verlede jaar skuldig bevind op aanklag van verkragting, seksuele aanranding, bedrog, dat hy kinders aan pornografie blootgestel het en toegang gehad het tot kinderpornografie.

Walmerans het gesê De Villiers het tronkstraf beleef en dis waarom hy, na haar mening, nie weer ʼn oortreding sal begaan nie en as hy ʼn pedofiel was, sou hy die misdade al vroeër in sy lewe gepleeg het en hy sou nie kon stop nie.

Sy het aan die hof gesê sy stel al die afgelope 21 jaar voorvonnisverslae saam.

Sy het met De Villiers, sy regsverteenwoordiger, sy kollegas, familielede, pastoor en die Teddy Bear Clinic gekonsulteer. Ná ʼn episode op Carte Blanche wat op M-Net uitgesaai is, het sy eksvrou hom verhoed om verder met hul 17-jarige seun te kommunikeer. Sy eksvrou het ook gesê hy bied nie enige finansiële ondersteuning vir haar seun nie.

Walmerans het bygevoeg De Villiers versorg sy ander drie kinders en verdien R45 000 per maand uit die modelagentskap.

“Die beskuldigde [De Villiers] is in goeie gesondheid en volg ʼn gesonde leefstyl,” het Walmerans uit haar verslag voorgelees. “Hy ly aan stres as gevolg van die verhoor en elke lid van sy familie probeer die beste van die situasie maak.”

Sy het gesê hy is ʼn toegewyde pa en die ouers van die modelle vertrou hom, maar daar is nie enige verskoning vir sy gedrag nie. “Geen verdere klagtes is tot dusver aanhangig gemaak nie.”

Walmerans het gesê vonnisse moet as ʼn waarskuwing vir die publiek dien. “Omstandighede in Suid-Afrikaanse tronke is onmenslik,” het sy gesê. “Dis onmoontlik om iemand in die tronk te leer om ʼn doeltreffende persoon vir die samelewing te wees.” Sy sê betogings en oorvol tronke is nie behoorlik vir rehabilitasie nie.

Sy het gesê De Villiers is ʼn geskikte kandidaat vir korrektiewe toesig en moet onder huisarres geplaas word, aangesien dit sy rehabilitasie sal bevorder.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Sarel Strydom ·

Wat se soort Maatskaplike werker is dit wat getuig vir ‘n verkragter?

Schalk van der Merwe ·

Sy is seker kinderloos. Die feit dat hulle nie berading ontvang het nie dui op die treurigheid van die maatskaplike werkers en die sisteem/ouers, of moet kinders nou self besluit of ‘n ervaring traumaties genoeg is om te kwalifiseer vir berading.
Sy moet haar studiegeld loop terug vra.

Jack Klok ·

Maatskaplike werkers, prokureurs, advokate, mediese deskundiges, ondersoek beamptes ens ens, almal wat vir ‘n beskuldige in ‘n hof getuig, is huursoldate.

Ek kook ·

Ek kook behoorlik, sy is nie n maatskaplike werker se ou skoene werd nie, in die lewe hy is rehabiliteerbaar. In jou studie en beroep sou jy sien hul is onrehabilteerbaar. Jy is so siek soos hy Katherina en sowaar al wat mens so teen jou grein laat gaan is geld. Regtig Katherina as hy loskom en net 1 kind aanraak sal ek alles in my vermoee doen om jou voor die hof te daag asook mense regte kommisie. Jou beroep is om die swakere te beskerm en jy gaan beskerm die wolf. Hoe kan jy sy dade regverdig en ergste van alles, hy werk nogsteeds met modelle, elke haar staan regoo op kop!

Magda ·

Dit gaan my verstand te bowe dat die maatskaplike werkster sê die kinders het nie trauma beleef nie, omdat geeneen van hulle berading ontvang het nie. Geeneen van ons weet wat hierdie kinders se huislike of finansiële omstandighede is nie.

Andre ·

Huisarres vir hierdie tipe van misdade? Goeie genugtig, net wanneer mens dink jy het al alles gehoor word jy weereens stomgeslaan van verbasing. Sluit hom toe vir 50 jaar, hy is baie, baie siek.

Blondie ·

Korrektiewe toesig se dinges! Hy moet uit die samelewing verwyder word. Sluit toe & gooi die sleutel weg! Pedofiele rehabiliteer nie!

Elvira ·

Deesdae is daar meer simpatie vir die misdadiger as die slagoffers. Ek skud maar net weereens my kop.

Marietjie ·

Annelie ek stem met alles saam wat jy hier sê maar ek moet jou net gou reghelp. Verkragting is nie die dade van `n dier nie. Diere verkrag nie. Ek wens mense wil ophou om mense se walglike dade met die dade van `n dier vergelyk, ons mense kan my diere gaan leer regtig.

Dis Ek....Hanna ·

Kom ek help haar gou reg aangesien sy absoluut geen deuglike opleiding gehad het nie…..Ek was vir 16 jaar van my lewe elke dag gemolesteer deur die man wat veronderstel was om ‘n pa te wees. Dit het my jare geneem om daaroor te begin praat. Ek was nou nog nie vir berading nie….Want ek wil nie deur dieselfde ding gaan in my geestesoog nie….Dit beteken nie ek het nie trauma nie…..Dis nie ‘n algemene gesprek wat jy voer nie….Jy maak oop waar dit diep seer is…..Geen mens wat deur so iets is gaan sommer net daaroor praat asof dit ‘n gesprek is om ‘n braaivleis vuur nie…..DIT….sou sy geweet het as sy enigsins geweet het wat sy doen…….

Naomi ·

Nee regtig, mev maatskaplike werkster, jy he GEEN IDEE waarvan jy praat nie…bid elke dag dat so iets jou nie oorkom nie…of dalk sal jy dan miskien verstaan

Anti de Villiers ·

Genugtig! die dag as Walmarans OF haar kinders verkrag word, sal ons weer gesels …

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.