Maatskaplike werkers: Staking opgeskort

Die National Education Health and Allied Workers’ Union (Nehawu) het Donderdag gesê hy het ʼn ooreenkoms met die departement van maatskaplike ontwikkeling aangegaan wat ʼn einde beteken vir die vyf week lange staking van maatskaplike werkers.

Nehawu het gesê die ooreenkoms is Woensdag onderteken ná uitgerekte, moeilike maraton-onderhandelingsessies.

Nehawu-lede wat werksaam is by die departement van maatskaplike ontwikkeling, het onder andere geëis dat assistent-gemeenskapsontwikkelingspraktisyns op die “korrekte salarisvlak” geplaas moet word en ʼn toelaag ingestel moet word vir werk op afgeleë gebiede.

Volgens die vakbond moet onderhandelings in die bedingingsraad nog afgehandel word wat betref die besonderhede van die landelike toelaag en ʼn hersiening van die beroepspesifieke dispensasie.

“Indien hierdie sake opgelos word, sal die staking permanent afgelas word,” het Nehawu bygevoeg. “Werkers wat skofte werk sal na verwagting Vrydag terugkeer en ander werknemers sal Dinsdag terugkeer.”

Nehawu het gesê die ooreenkoms is ʼn oorwinning vir werkers, aangesien die departement in beginsel ingestem het om die beroepspesifieke dispensasie te hersien, asook al die salarisvlakke van maatskaplike werkers.

Die departement het onderneem om ʼn gedetailleerde aanbod voor of op 31 Julie aan die bedingingsraad te verskaf.

Die landelike toelaag sal terugwerkend betaalbaar wees vanaf 1 April.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.