Maatskappy aangekla ná chemiese storting tydens oproer

Giftige stowwe het in die see beland nadat die aanleg tydens die oproer aan die brand gesteek is. (Foto: Carol Booth/Facebook)

Die reuse- chemiese storting wat tydens die sogenaamde Zuma-onluste by ʼn aanleg van United Phosphorus Limited (UPL) in Cornubia in KwaZulu-Natal plaasgevind het, het ʼn ernstige omgewingsramp tot gevolg gehad.

Dit blyk nou dat UPL moontlik aanspreeklik gehou sal word.

Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake, het Sondag ’n verslag rakende die storting bekendgemaak waarin daar bevind word dat UPL geen omgewingspermitte gehad het om sake in die gebied te doen nie.

Dié verslag is opgestel deur ’n veelparty-ondersoekspan wat saamgestel is om die storting te ondersoek en het bevind dat UPL nie oor die nodige omgewingsmagtiging beskik het voordat hy drie maande voor die voorval in Cornubia begin sake dryf het nie.

Dié magtiging moes van die KwaZulu-Natalse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewingsake verkry geword het.

Die maatskappy is intussen strafregtelik aangekla.

Luidens die verslag het UPL ook nie ʼn kritieke risiko-assessering of beplanningstoestemming van die Ethekwini- metropolitaanse munisipaliteit ingevolge die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid (OHSA) en die relevante munisipale verordeninge verkry nie.

“Indien UPL hierdie proses gevolg het, sou hy na alle waarskynlikheid as ʼn groot gevaarinstelling gedefinieer gewees het, met inagneming van die aansienlike hoeveelhede en aard van die chemikalieë wat op hierdie spesifieke plek gestoor is,” sê Creecy.

Die minister sê ’n onafhanklike span ondersoekers het reeds met ʼn strafregtelike ondersoek begin. Bewyse waaronder monsterneming van onder meer sand, water, vis en plante, sal gedurende die ondersoek ingevorder word om die maatskappy se strafregtelike aanspreeklikheid te bepaal ten opsigte van die skade wat aan die omgewing aangerig is.

‘Omgewingsramp’

“Dit kan ʼn paar jaar neem om van hierdie voorval te herstel,” het Creecy gesê oor die ernstige omgewingsramp wat in Julie afgespeel het.

Maroela Media het vroeër berig groot hoeveelhede onkruiddoders, swamdoders en plaagdoders het in Julie vanjaar in die see beland toe oproermakers onder meer die UPL-aanleg in Durban aan die brand gesteek het.

Die storting het sedertdien tot die vrekte van duisende visse en ander seediere langs die kus van Umdloti en Umhlanga gelei.

Luidens die verslag word ʼn hele ekosisteem, nie net in die omgewing van die UPL nie, maar ook etlike kilometers noord van die monding van die uMhlanga -riviermond, ernstig geraak deur die chemiese storting.

Die plaaslike munisipaliteit het intussen strande in die omgewing as voorsorgmaatreël gesluit en die publiek gewaarsku om nie te hengel of van die dooie seelewe op te tel nie.

Die strande bly vir eers gesluit, sê Creecy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Madz ·

Ek verstaan 100% dat die spesifieke maatskappy moet verantwoording doen vir sy sogenaamde “onwettige” praktyke…. but let’s be honest…. Die PRIMêRE rede vir die storting is as gevolg die oproer-makers van Zuma wat nie die breinkrag het om hulself beskaafd te laat geld nie. En ek sien wraggies nog GEEN kommissie van ondersoek wat die klomp narre ondersoek nie! Ons doen wragtig deesdae alles in hierdie land van agter af vorentoe! REGTIG!!??

Johann ·

Die Zuma opstande is moontlik gemaak deur die trae optrede van SAPS en die weermag

Owlie ·

WOW wonderlik die skuldige plunderaars en hul aanhitsers word nie aanspreeklik gehou nie mmmmm en wat van die KwaZulu-Natalse departement van ekonomiese ontwikkeling, toerisme en omgewing, Gedondheids department, Munisipaliteit – daar is nie n manier dat so n masiewe gebou besigheid kan doen en nie een van die goedkeurende instansies het daarvan geweet nie. ALMAL – die plunderaars wat op nuus media gesien is, hul aanhitsers wat bekend gemaak is asook die wat nie bekend gemaak is nie, die persone wat die rede tot plundery is, die stigters/eienaars/finansiers van die maatskappy/besigheid asook die goedkeurende departemente hoort almal saam verantwoordelik gehou te word.

henndrik ·

Ek wonder, kan mens met daardie minusipale raad besigheid doen of is hulle heeltemal te korrup

Andre ·

Seker ook reg so. Maar wat word aan die brandstigters gedoen, modereerder?

Pieter ·

En die bewys dat die maatskappy heel moontlik wel aansoek gedoen het maar weens die gesloer en nalatigheid van die owerhede, het in die brand in die slag gebly.
Feit bly dat die owerhede iemand soek om verantwoordelik te hou, en hulle gaan nie na die voters kyk nie.

Willem ·

Waar is die vervolging van die aanstigters van daardie geweldsdige plundertog? Daar is hope beeldmateriaal – hoeveel van die brandstigters en plunderaars is al voor die hof gebring? Dit lyk my die kroonwild kan maak soos hulle wil. Hul slagoffers word gearresteer en aangekla.

Kokerboom ·

Hoe het Metro dit toegelaat deur onbewustheid te pleit? Twak. Metro het NIE sy werk gedoen deur toe te slaan op besigheid sonder permit bedryf veral as dit ‘n gevaar vir mense/omgewing inhou. Tree Metro kaders ook aan

Johann ·

As jy n huis bou het jy goedgekeurde planne nodig en kan jy eers intrek as jy ‘n okupasie sertifikaat het Definitief is daar soortgelyke regulasies by n fabriek Dit laat n mens wonder hoeveel soortgelyke fabrieke is daar nog En of buitelandse maatskappye anders behandel word

Coenie ·

Alhoewel die maatskappy direk verantwoordelik is, is die minister en haar departement net so verantwoordelik. Die maatskappy bedryf nie sake van gister af nie, en die tipe ondernemings moet gereeld verslae na die relevante departement stuur. Waar was die inspekteurs wat gereelde inspeksies moes doen? Hoekom is hulle toegelaat om so lank sonder n omgewingspermit sake te bedryf? Die departement is onbevoeg, of het daar iets onder die tafel gebeur?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.