Maatskappy vervolg oor ‘giftige’ stortingsterrein

Foto: Facebook

Foto: Facebook

EnviroServ, die afvalverwyderingsmaatskappy wat daarvan beskuldig word dat sy Shongweni-stortingsterrein buite Durban “giftige gasse” afgee, gaan strafregtelik vervolg word.

“Ons het besluit om die maatskappy te vervolg en ons tref nou reëlings vir die beskuldigdes om in die hof te verskyn,” het adv. Moipone Noko, direkteur van openbare vervolging, Maandag aan African News Agency bevestig.

Die departement van omgewingsake het in September verlede jaar ʼn aanklag van oortreding van die Wet op Nasionale Luggehalte ingedien. Die saak is na ʼn provinsiale taakspan vir verdere ondersoek verwys.

Dean Thompson, uitvoerende hoof van die EnviroServ-groep, het Maandag in reaksie op die nuus gesê die maatskappy het nog nie die klagstaat gesien nie. “Sou die kwessie opduik, sal ons dit op gepaste wyse hanteer,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die stortingsterrein was die bron van baie ontevredenheid onder inwoners van Hillcrest, Shongweni, Dassenhoek en die omliggende gebiede. Volgens die inwoners gee die terrein giftige gasse af wat asma, brongitis, longontsteking, ekseem, neusbloeding en ander siektes veroorsaak. Kinders in die gebied word glo veral geraak.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

In Januarie het ongeveer 2 000 inwoners deelgeneem aan ʼn optog deur die strate van Hillcrest om te eis dat die terrein gesluit word en EnviroServ aanspreeklik gehou word.

Die terrein is gelisensieer om gevaarlike afval te ontvang, maar mag sedert September verlede jaar nie meer Tipe 1 (baie gevaarlike) afval ontvang nie, as deel van ʼn nakomingskennisgewing. Vroeër vandeesmaand het die departement van omgewingsake ʼn kennisgewing aan EnviroServ gestuur oor hul voorneme om die lisensie vir die terrein op te skort. EnviroServ staan die sluiting teen.

Die maatskappy het aanvanklik maande lank ontken dat die terrein die skadelike gasse in die lug veroorsaak, maar het later erken dat dit “bydra” daartoe. Die maatskappy het egter volgehou ander ondernemings in die gebied moet ondersoek word en ontken hy is verantwoordelik vir die gesondheidsprobleme van inwoners in die gebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Chris ·

Uiteindelik iemand wat tekens van lewe toon om iets daad werklik aan die saak te doen. Dit was Sondag gedurende die dag erg. In die aande so van 10uur (22h00) is dit die ergste. Hopelik sal dit aangespreek word en nie met ‘n omkoopgeskenk besleg word nie.

marous ·

Wat van die stadsrade wat rou riool in ons waterbronne pomp ??? waarom word hulle nie srafregtelik vervolg nie?

Lynette Schultz ·

Ek SIDDER om te dink hoeveel toksiese afval word in SA gestort, ook in die see, en nie net deur plaaslike maatskappye nie. Derde wêreld lande is die ashoop vir ‘eerste wêreld lande’. Kyk Greenpeace se youtube video, ‘The story of stuff’

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.