Maatskappy wag op uitslag van ondersoek ná brug val

Foto: Netcare 911

Foto: Netcare 911

Die konstruksiemaatskappy wat aan die voetgangerbrug gewerk het wat Woensdag op die M1-snelweg in Johannesburg ineengestort het, wag tans op die uitslag van verskeie ondersoeke wat na aanleiding van die ongeluk gedoen word.

Minstens twee mense is dood en talle ander beseer toe die brug bo-op voertuie wat op die snelweg gery het, geval het. Parks Tau, burgemeester van Johannesburg, het intussen gesê dat ʼn derde persoon gesterf het, maar daar bestaan onsekerheid of dit wel die geval is.

Henry Laas, uitvoerende hoof van Murray & Roberts, het Donderdag gesê die ondersoeke sal probeer om die oorsaak van die ineenstorting van die brug se ondersteuningstruktuur te bepaal. “In hierdie stadium kan ons nie kommentaar lewer oor hoe lank die ondersoeke sal duur en wanneer dit afgehandel sal wees nie. Ons doen weereens ʼn beroep op die publiek om vir die uitslag te wag. Ons is net so besorg soos almal om te verstaan wat gebeur het en beloof om die inligting bekend te maak sodra die ondersoeke afgehandel is.”

Die snelweg is omstreeks 15:00 Donderdagmiddag heropen. Laas het sy dankbaarheid uitgespreek aan almal wat deur die nag gewerk het om noodoperasies en opruimingswerk af te handel. “Ons bedank ook die publiek vir hul deernis en begrip in hierdie ongelooflike moeilike en tragiese tyd,” het hy gesê.

“Ons het deur die loop van die dag met die families van die oorledenes in verbinding getree. Ons het ook met ʼn aantal beseerdes gepraat en sal verseker dat hulle, en alle partye wat hierdeur geraak is, die nodige sorg ontvang en dat hul herstel gemonitor word. Oor die komende tydperk sal ons ten nouste met ʼn span onafhanklike beradings- en traumapraktisyns saamwerk om te verseker dat mense die nodige ondersteuning ontvang.”

Murray & Roberts sal sy eie ondersoek na die voorval doen, terwyl die departement van arbeid, die stad Johannesburg, die polisie en ander partye ook ondersoeke van stapel gestuur het. Die ondersoeke sal ontledings en navorsing deur tegniese, ingenieurs-, wetlike en forensiese kenners insluit.

Lees alle vorige berigte oor die voorval op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.