Maatskappye maak al meer self plan met kragonderbrekings

(Grafiek: pixabay)

Verskeie groot maatskappye werk klaarblyklik aan gebeurlikheidsplanne indien die ergste gebeur en die kragnetwerk ineenstort, terwyl sakeondernemings toenemend self inspring om die ligte aan te hou.

Luidens berigte is FNB en die hospitaalgroep Mediclinic van dié instellings wat planne gereed het indien die netwerk sou vou.

Lee-Ann van Zyl van FNB sê by navraag hieroor die bank hersien gereeld sy gebeurlikheidsplanne om ongerief vir kliënte te beperk wanneer beurtkrag ingestel of kragonderbrekings ondervind word. Verskeie van FNB se sentrums het rugsteunkrag en die bank werk nou saam met verhuurders om ontwrigtings te beperk.

“Ons moedig ons kliënte ook aan om die FNB-app, aanlyn en selfoonbankdienste te gebruik om toegang tot die meeste van ons dienste te kry,” sê Van Zyl.

Mediclinic Suid-Afrika het net soos FNB nie aangedui of hy voorberei vir ʼn algehele netwerkineenstorting nie, maar die hospitaalgroep sê hy het wél omvattende gebeurlikheidsplanne vir verskillende vlakke van beurtkrag. Die planne sluit onder meer die versekering in dat toerusting by sy fasiliteite gesteun word deur beskikbare personeel. Daar is ook planne om seker te maak dat diesel ten alle tye vir kragopwekkers beskikbaar is.

“Om kragonderbrekings teen te werk het die meeste Mediclinic-hospitale die nodige infrastruktuur om pasiënte se veiligheid te verseker en die fasiliteite in staat te stel om tydens beurtkrag soos gewoonlik met sake voort te gaan,” sê Mediclinic Suid-Afrika.

Hierdie infrastruktuur sluit in minstens twee kragopwekkers wat aan ʼn nie-noodsaaklike opwekker gekoppel kan word om te verseker krag is steeds beskikbaar sou die hoofkragopwekker tydens ʼn onderbreking die gees gee.

In die onwaarskynlike geval dat dit gebeur, is noodsaaklike onderdele op die perseel beskikbaar om dadelik herstelwerk te doen.

“ʼn Netwerk van spesialis-kragopwekkermaatskappye is op bystand om landwyd te help indien herstelwerk nie deur die spanne op die perseel gedoen kan word nie.”

Mediclinic sê ook mobiele en huureenhede is op kort kennisgewing vir hospitale beskikbaar indien herstelwerk nie binne ʼn redelike tyd afgehandel kan word nie.

Reusekoste vir ekonomie

(Argieffoto: Maroela Media)

Fase 6-beurtkrag is Donderdag ingestel weens onderbrekings by verskeie kragsentrales, en sodat Eskom sy noodopwekkingsreserwes kan bespaar. Eskom hou in hierdie stadium sy oorblywende brandstofvoorraad vir uiterste noodgevalle en tans geld fase 5-beurtkrag tot verdere kennisgewing.

In ʼn poging om druk op die netwerk te verminder is die afskakeling van die Koeberg-kernkragsentrale se eenheid 1 vroeër tydelik vertraag. Die eenheid kan naastenby 900 MW lewer – oftewel byna een fase van beurtkrag – maar het minder krag gelewer terwyl daar op die afskakeling voorberei is.

“Eskom het in ʼn stadium verlede week tegnies fase 7-beurtkrag toegepas wat verdeel is tussen grootskaalse onderbrekings en ladingsvermindering vir swaar nywerheidsgebruikers,” het ekonome van die Buro vir Ekonomiese Navorsing (BER) vandeesweek gesê.

Suid-Afrikaners het vanjaar al meer as 150 dae van beurtkrag agter die rug en Eskom waarsku dat beurtkrag nog geruime tyd gaan voortduur.

Die Koeberg-kernkragsentrale buite Kaapstad. (Argieffoto: Dr. Neil Overy/Science Librnoy Science/AFP)

“Eskom het opnuut benadruk dat die beurtkragsituasie oor die volgende ses tot 12 maande uiters uitdagend gaan wees en pleit steeds by die regering vir geld om diesel te koop,” sê die BER-ekonome.

“Hoewel ons ʼn mate van simpatie vir die nasionale tesourie het dat hy nie die geld daarvoor het nie omdat daar nie in die begrotingsproses daarvoor aansoek gedoen is nie, is dit nie moeilik om aan te voer dat die situasie sedertdien ingrypend verander het nie.

“Daarbenewens kom die besluit om nie die geld te gee nie teen ʼn enorme koste vir die ekonomie – veel meer as die naastenby R19 miljard waarvoor Eskom vra.”

Meer geld vir diesel gaan nie die beurtkragkrisis nie oplos nie, maar dit kan beteken dat meer verwoestende, hoër fases daarvan vermy word, sê die BER.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het vroeër gesê betroubare inligting van bronne binne Eskom dui daarop dat die waarskynlikheid van fase 7- of 8-beurtkrag klein is. Die waarskynlikheid van ʼn ganse ineenstorting van die kragnetwerk oor Desember is ook byna nul.

  • ʼn Berig wat as sogenaamde bewys gedeel word dat ʼn algehele netwerkineenstorting op hande is, is Dinsdag opnuut op sosialemediaplatforms rondgestuur. Solidariteit het die artikel, “Twee weke sonder Eskom, wat nou gemaak”, egter reeds in 2015 saamgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Miskien is dit ‘n goeie ding Miskien moet die wiele heeltemal afval sodat ons van voor kan begin en met die foute van die verlede vars in ons geheue’n beter toekoms kan maak waar ons vry is van dom leiers wat onosele besluite maak wat hulle nie affekteer nie

Republikein in die Wes Kaap ·

Dis ‘n feit Johan. Die geld is op, die beste breinkrag is landuit, opleiding is substandaard en nuwe werksoekers is allergies vir werk.

Ziggy ·

Harley Davidson, het jy enige idee wat sal gebeur as Eskom se krag voorsiening totaal sou afgaan? Wat laasjaar in KZN gebeur het sal na ‘n kinder partytjie lyk. Geen krag beteken geen diens van enige aard. Geen water, rioolering wat ophou werk, winkels sal toemaak want hulle sal net vir beperkte tyd op kragopwekkers kan werk want petrol stasies sal later nie meer kan voorsien nie. Dit sal maande neem om die netwerk weer aan die gang te kry.. Miskien moet ons almal eerder hoop dat daar ‘n oplossing verkry word vir die kragbrobleme. Moet vir geen oomblik dink om totaal sonder krag te wees gaan avontuurlistig of romanties wees nie.

capie ·

Die ANC het moes nou ‘n storie waar hulle gaan byeenkom. Gaan beurtkrag daar toegepas word of word hulle te belangrik geag daarvoor.

Pietertjie ·

Eintlik moes hulle vyftien jaar gelede al die skrif aan die muur gesien het. Dan was eskom teen hierdie tyd in sy peetjie, en dalk reeds in privaat-besit. Maar, dis seker nooit te laat “om ‘n boom te plant” nie.

Alida ·

Hulle is 15 jaar (en dalk langer) gelede gewaarsku oor wat gedoen moet word en wat in die toekoms gaan gebeur as dit nie gedoen word nie, maar niemand is so doof soos die een wat nie wil hoor nie. En buitendien was daar ander agendas soos korrupsie wat hoogty gevier het.

Johanncb ·

Dit help nie veel dat ons nou kla nie. Sedert 2008, toe beurtkrag begin het, is wynig of niks gedoen om die probleem aan te spreek nie! Mnr CR sit nou met die grootste uitdaging van sy loopbaan – om 60 miljoen mense van ondergang te red!

Blikkies ·

Hulle het simpatie met die Tesourie, ‘n Groot Staats Departement waar ons almal ook ‘n geldjie in belê. Maar vir my alleen wat vir 150 dae of te wel 5 maande se elektrisiteit moet betaal, al het ek nie daarvan gekry nie? Dit is ‘n groter skande.

Anel ·

As alma wat krag gebruik betaal sal ons wat daarvoor betaal nie in so ‘n gemors wees nie. Maar nee, alles is mos gratis vir sekeres. Kyk bietjie wat gaan op die oomblik in Venezuela aan!!!!

Antie Sarie ·

Die banke gaan fantasties floreer as hulle plan maak met krag, maar 90% van hul kliente verloor hulle werk. Kliente word aangemoedig om hul apps te gebruik? Sonder krag, wqaar gaan hulle hul selfone laai. Privaat hospitale gaan nutteloos wees wanneer mense nie meer hul mediese fonds premies kan bekostig nie. Sal ek voortgaan? Of gaan jul dit weg spoel. O ja. Die toilette gaan nie werk nie.

Antie Sarie ·

Twintig sokkervelde kry sonpanele. KLein sake sektor is op hulself aangewese. Die balgod wen

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.