Mabuza bekommerd oor grondgrype

Adjunkpres. David Mabuza (11 September 2019) (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Adjpres. David Mabuza het gesê daar is geen ruimte vir chaos en anargie wanneer dit kom by grondhervorming nie.

Mabuza het op ’n vraag van die VF Plus in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gesê die regering is bekommerd oor berigte van sporadiese grondgrype in plekke reg oor die land, insluitend in Noordwes.

“Die aanhitsing van geweld en wetteloosheid is ʼn antitese van waarvoor ons as ʼn grondwetlike staat staan. As regering veroordeel ons enige aanhitsing tot wetteloosheid, spesifiek grondgrype, aangesien dit die wette en die Grondwet van ons land oortree.”

Mabuza het ʼn beroep op landsburgers gedoen om selfbeheersing uit te oefen en om die regering toe te laat om die nodige beleid en grondwetlike hervormings deur te voer. Volgens Mabuza het die regering wetgewende maatreëls ingestel om onbeplande en wanordelike besetting van grond te ontmoedig.

“Ter ontmoediging van aanhitsing tot geweld en grondgrype is dit van kritieke belang vir munisipaliteite om bepalings in te stel om prosesse vir die hantering van kwessies rakende toegang tot en gebruik van grond in gebiede onder hul jurisdiksie te reguleer.

“Waar blatante oortredings en aanhitsing van geweld en grondgrype voorkom, sal die wet sy gang neem. U kan verseker wees van die vermoë van ons strafregstelsel om nakoming af te dwing, in ooreenstemming met ons verbintenis tot die oppergesag van die reg,” het Mabuza gesê.

Fanie du Toit, VF Plus-LP in die NRP wat die vraag aan Mabuza gevra het, het gesê Mabuza se antwoord het bevestig dat daar toenemend meer grondgrype plaasvind as wat aanvaarbaar is.

“Adjpres. Mabuza het gesê die vraag van die VF Plus oor die aangeleentheid het opnuut die regering se aandag op die kwessie van grondgrype gevestig. Hy het bevestig dat daar grond in Noordwes geïdentifiseer is vir die ontwikkeling van behuising vir grondgrypers.”

Du Toit het gesê die VF Plus sal voortgaan om druk op die regering te plaas om te keer dat grondgrypery in Suid-Afrika in ʼn Zimbabwe-situasie ontaard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Herpiet ·

As siestog. Ons heuning om die mond probeer smeer.
Jy kan nie my huis vat sonder anargie nie. Hoe dink die mense?

Louis ·

Waarom moet die regering eers op hulle verantwoordelikheid gewys word. Het hulle dan geen integriteit wat deel MOET wees van iemand in leiersposisies is nie? Hulle is te besig om verskonings te formuleer as om oplossing te vind vir die toestand waarin SA is. Bestaan daar ‘n woord in hulle woordeskat soos “PATETIES”!!! Wys julle swaardmag en arresteer die oortreders van die vlugtelinge af in Kaapatad tot die swendelaars in die parlement. “Swart of wit”

Werner ·

En hulle gaan nou vir hom luister hy is nie verniet bekommerd nie hy weet hulle het nie die vermoe om dit te keer nie

Wensditwasbeter ·

Maar liewe ANC, hou jul jul nou dom? Wat anders het jul gedink gaan gebeur?

DieKriek ·

En hoe kom die boodskap by “landsburgers” uit? Dié wat gryp, woon in die bosse. Malema gaan soontoe maar Mabuza nie.

Anoniem ·

Nee Louis die Regering het geen integriteit nie, daardie woord bestaan nie in hulle woordeskat nie, hoekom anders wil hulle mense se grondgryp en hulle pensioene in ‘n bankrot instansie soos ESKOM bele.

Nell ·

Ag ou leë vat hou toe jou kraan… As julle dan so bekommerd is oor grondgrype en die geweld en anargie wat dit tot gevolg het, hoekom nie vir Malema en sy gespuis ‘n slag ernstig aan die strot gryp nie?

Dries ·

Maar julle moedig voortdurend anargie en chaos aan, en tree nie op teen diegene wat verder opsweep nie?

Termiet ·

Floyd Shivambu het juis die naweek weer mense aangehits om grond te beset. Nou wat word daaromtrent gedoen?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.