Mabuza sê Eskom-leier is onskuldig bevind

David Mabuza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Adj.pres. David Mabuza het Donderdag gesê bewerings dat Eskom se bedryfshoof, Jan Oberholzer, korrup of oneties opgetree het, is as ongegrond bevind.

Die adjunkpresident het parlementslede se vrae mondeling beantwoord tydens ʼn sitting van die Nasionale Raad van Provinsies.

Dit is Mabuza, wat baie sukkel met sy gesondheid, se eerste openbare verskyning in maande. Hy het nie gesond gelyk nie – hy lyk tans jare ouer as sy ware ouderdom en worstel ook met ʼn aaklige roggelhoes.

Voorts het hy nie baie skerp en paraat voorgekom nie. Oor die algemeen was sy antwoorde op die parlementêre vrae vaag, gemeenplasig en vol versekering dat die toekoms blink is, maar grootliks sonder feite of nuwe inligting.

Die enkele uitsondering was ʼn vraag deur die EFF oor Eskom en Oberholzer. Dit is nou al maande dat die EFF baie spesifieke en gedetailleerde bewerings oor ongerymdhede teen Oberholzer maak. Die party het selfs al ʼn strafregtelike saak by die polisie aanhangig gemaak.

Die EFF wou dus by Mabuza weet hoekom Oberholzer nie geskors is hangende ʼn ondersoek nie. Voorts het die EFF reguit gevra of hy in sy pos behou word omdat hy wit is.

Volgens Mabuza is ʼn amptelike ondersoek gedoen na die bewerings oor Oberholzer, en die bevinding was dat die bewerings teen hom ongegrond was. Die adjunkpresident het onderneem dat die hele verslag oor Oberholzer eersdaags in die parlement ter tafel gelê sal word vir openbare publikasie.

Mabuza het ook gesê die regering is daartoe verbind om korrupsie te bekamp, asook om elkeen wat korrupsie pleeg aggressief te laat vervolg. Voorts is ras volgens hom geen rede om enigiemand in ʼn pos te behou óf daaruit te verwyder nie.

Met betrekking tot die geldelike ondersteuning van ontluikende boere, bestaansboere en grondverdeling het Mabuza gevra vir steun uit die private sektor, want die regering se geldsituasie is benard.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

7 Kommentare

jongste oudste gewildste
Persheks

Daar kom die rassisme kaart al WEER! #Tsek EFF tsek!

Ja, sonder ons blankes en boere is die land beslis benard

nell

Ai tog as dit nie vir die dekselse Corona met haar laaang vingers was nie, was daar nou geen te kort of krisis van enige aard nie en was Suid Afrika lalla-land. Wat het van al die ”ponde” geword wat die privaatsektor so ruimskoots bygedra het?

Alex

As n wit mens n opmerking maak teen n korrupte politike persson, is die n rassis. As EFF n opmerking maak teen n wit mens, word dit nie as rassisties gesien nie.

Scalla

Hoop hul neem kennis van die gans wat nog al die jare die goue eier le.

Stofdonkie

Ras is geen rede om iemand uit pos te verwyder of aan te hou nie? Nou hoekom sit die rade van sauk, Telkom, sapo, sal en transnet se direkteure nog almla in hulle poste terwyl al die soe’s feitlik bankrot is?