Mabuza kou klippe in parlementêre vuurdoop

Pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza (Foto: GCIS)

Die nuwe adjunkpresident, David Mabuza, het vanmiddag ‘n politieke vuurdoop soos min gehad – en hy het klippe gekou.

Een parlementslid is uitgejaag en verskeie ander is buite die orde verklaar nadat hulle Mabuza se geskiedenis as premier van Mpumalanga in teenstelling met sy vroom uitgewerkte antwoorde op vrae van parlementslede probeer stel het.

Dit was Mabuza se parlementêre debuut – hy was tevore ‘n lid van Mpumalanga se provinsiale wetgewer, en nog nooit ‘n parlementslid nie.

Sy eerste groot uitdaging het gekom van die IVP-LP Liezl van der Merwe, wat gevra het hoe dit moontlik kan wees dat die regering ten gunste van vroueregte kan wees as hulle die departement van vrouesake aan minister Bathabile Dlamini toevertrou. Mabuza het reguit in die politieke slagyster getrap deur uit te wys dat dit pres. Cyril Ramaphosa is wat die kabinet saamstel, nie hy nie.

Op ‘n opvolgvraag deur Terri Stander, DA-LP, oor hoe die regering ernstig opgeneem kan word oor vroueregte terwyl mnr. Mduduzi Manana, die voormalige adjunkminister van hoër onderwys, wat skuldig bevind is daaraan dat hy ‘n vrou verlede jaar aangerand het, steeds ‘n ANC-LP is, het Mabuza gesê enige mense se gedrag kan “gekorrigeer” word. Oor vroueregte het Mabuza aangevoer: “Vroue is net soos ons. Hulle is mense.”

Toe het die DA-hoofsweep, John Steenhuisen, reguit vir Mabuza se keel gemik deur te vra wat hy gaan doen oor die ondersoeke na politieke moorde in die land – spesifiek drie politieke moorde in Mpumalanga, die provinsie waarvan hy premier was.

Uit die ANC-banke is punte van orde dadelik gestel dat Steenhuisen Mabuza se integriteit ondermyn deur bewerings oor hom te maak – stellings wat Steenhuisen ontken het.

Maar toe kom die skerpste veroordeling, uit die mond van die Agang-LP Andries Tlouamma. Hy het reguit aan Mabuza gesê dat hy nie ‘n sterk genoeg voorbeeld van morele leierskap in Mpumalanga was om nou as adjunkpresident aan die hoof van die morele herlewingsveldtog te staan nie.

Uit die stoel het die adjunkspeaker van die Nasionale Vergadering, Lechesa Tsenoli, probeer om Tlouamma te kry om sy stelling terug te trek, maar Tlouamma het geweier en is uit die vergadering gejaag.

Nog was dit het einde niet vir Mabuza, want hy het hom vasgeloop teen stewige kritiek van die IVP-LP’s Narend Singh en Mkhuleko Hlengwa sowel as die DA-LP Sandy Kalyan oor die regering hom blykbaar deur China laat voorskryf wanneer besoeke deur die Dalai Lama aan Suid-Afrika verbied word.

Mabuza het dit ontken, en gevra wat Kalyan se belang by die hele kwessie is. “My belang is die handhawing van menseregte. Dis al,” het Kalyan geantwoord, en Mabuza het net vir ‘n oomblik gelyk of hy na die ietwat makliker vaarwater van Mpumalanga se wetgewer verlang.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Manie Strydom ·

Ek sien hulle gaan aan met die piesang republiek gewoonte om n konfooi van twintig plus karre en motorfietse wat die motoriste van die pad af druk te gebruik ,dit kon verwag word van zuma met sy swak onderwys opleiding wat is cr se verskoning?

Janneman ·

Karma het n snaakse manier om jou in die agterent te byt wanneer jy dit die minste verwag….vra maar vir zuma, hlaudi en kie.

Ons wag nou gibaba, dlamini, mokonyame, shaun the sheep, zuma gespeentes en die ander gekaaptes om gebyt te word!

Man, is die wiel rond of wat?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.