Mabuza-lyfwag onthou vir dekades se polisiediens

Ao. Thomas Shongwe (Foto: SAPS)

Die lyfwag van adjunkpres. David Mabuza wat Sondag in ʼn motorongeluk by Middelburg in Mpumalanga dood is, is geïdentifiseer as ao. Thomas Shongwe.

Die 56-jarige Shongwe is op die toneel dood verklaar toe een van die voertuie van Mabuza se konvooi op pad van Mpumalanga na Gauteng omgeslaan het.

Twee ander insittendes wat in dieselfde voertuig as Shongwe was, was ʼn 50-jarige polisiekaptein wat steeds in ʼn kritieke toestand in die hospitaal is en ʼn 44-jarige adjudantoffisier wat intussen ontslaan is.

Al drie is lede van die presidensiële beskermingseenheid.

Maroela Media het vroeër berig die voertuig wat omgeslaan het se band het gebars. Die motor waarin Mabuza gery het, is nie deur die voorval geraak nie. ’n Saak van strafbare manslag word ondersoek.

(Foto: Yusuf Abramjee/Twitter)

Volgens kol. Athlenda Mathe, polisiewoordvoerder, is Shongwe gebore en getoë in Mbombela, Mpumalanga. Hy het 31 jaar se ononderbroke diens in die polisie gehad nadat hy in 1991 as studentekonstabel by die diens aangesluit het.

Vir die duur van sy diens was Shongwe verbonde aan die afdeling van beskerming en sekuriteitsdienste (PSS) waar hy as ʼn BBP-beskermer gedien het.

Van 1994 tot 2018 was hy verantwoordelik vir die lewering van beskermingsdienste aan die kantoor van die premier in Mpumalanga.

Shongwe is in 2018 na die presidensiële beskermingsdienste oorgeplaas, waar hy as beskermer vir die huidige adjunkpresident gedien het.

Genl. Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, sê ʼn ondersoek is aan die gang om die oorsaak van die ongeluk vas te stel.

“Die dood van die lid is nie net ʼn groot verlies vir die polisiediens nie, maar ook die breër gemeenskap,” sê Masemola. “Ons betuig ons meegevoel aan die lid se familie en geliefdes en wens ook die beseerde lede ʼn spoedige herstel toe.”

Shongwe is deur sy bevelvoerders beskryf as ʼn “stil, stiptelike, toegewyde en gedissiplineerde polisielid” wat sy land met oorgawe gedien het.

Shongwe word oorleef deur sy vrou en drie kinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Sonneblomkind ·

Innige meegevoel. Hy het Protect en Serve. Simpatie met die Familie

Robert ·

Moderne motors kan gewoonlik ‘n band wat bars goed hanteer, mits mens 120 of minder ry. Die klas bestuurders moet ook gevorderde bestuur kwalifikasies besit. Iemand het nie die by die protokol gehou nie.

Anton ·

Wanneer laas het jy in ‘n kar gery wat se band gebars het?

Francois ·

Jammer vir die verlies maar hulle jaag soos varke asof die pad slegs aan hulle behoort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.