Mabuza: ‘Lyk ek soos ʼn misdadiger?’

Adj.pres. David Mabuza. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Adjunkpres. David Mabuza het Donderdag LP’s beskuldig dat hulle ʼn “sluipmoord op sy karakter” uitvoer en het ontken dat hy by enige oortredings betrokke is.

Dít kom ná ʼn exposé in die New York Times vroeër in Augustus oor aantygings van korrupsie teen hom.

“Daar is al aantygings van korrupsie, van moord – allerhande soorte aantygings – teen my gemaak en hier is ek, ek is steeds hier. Ek wag vir iemand om ʼn saak aanhangig te gaan maak en te sê jy het een, twee of drie [sake aanhangig gemaak]. As jy wegbeweeg van aantygings na iets wat op feite gegrond is, dan kan ek jou aanvat, bedoelende ek kan dan hof toe gaan en sê wie het wat gesê,” het Mabuza tydens sy maandelikse vraag-en-antwoord-sessie in die Nasionale Vergadering gesê.

“Ek weet nie of ek soos ʼn misdadiger lyk nie. Lyk ek soos ʼn misdadiger?”

Molapi Plouamma, Agang-SA LP, het toe ingetree en vir LP’s gesê: “Ek wil die adjunkpresident help – hy lyk soos ʼn verdagte.”

Daar is toe bevind Plouamma was buite orde en Belinda Bozzoli van die DA is uit die vergadering verskoon nadat sy na Mabuza as “korrup” verwys het en nie haar opmerking wou terugtrek nie.

Die New York Times-artikel het onder meer beweer dat daar volgens regeringsrekords en beamptes “in Mabuza se party” miljoene dollar wat vir onderrig bestem was in ʼn “maalkolk van verdagte besteding, swak openbare konstruksie en onbeskaamde korrupsie om sy politiese ambisies te dryf” verdwyn het.

Mabuza het nie die aantygings spesifiek aangespreek nie, maar is keer op keer gepols om te antwoord oor of hy een van die eerstes gaan wees wat na vore gaan tree as pres. Cyril Ramaphosa se plan om regeringsamptenare aan leefstyloudits te onderwerp in werking tree.

“Ek is beskikbaar – die feit dat ek nog hier staan – ek sal myself in enige stadium aan enige vereiste van die regering onderwerp,” het Mabuza in antwoord op dié vrae gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johaan Swart ·

Ek weet van ontelbare misdadigers wat nie soos misdadigers lyk nie.

Hanna Hoekom ·

Jy wil weet of jy soos n misdadiger lyk? JA! En jy klink ook soos een.

PJC ·

In hierdie land kan ń mens maar grootbek wees want jy weet dat die kanse dat jy behoorlik ondersoek gaan word maar skraal is. Dit is net ons gewone mense wat gevaar loop om vir enige nietigheid toegesluit te word.

Johan H. ·

As jy in die anc kabinet is. Ja dan lyk jy nie soos een nie maar 10 teen 1 is jy een. Jys nog net nie uitgevang nie! Gee tyd!!!

Colleen ·

Hy vra lyk hy soos ‘n misdadiger???? Mag ek eerlik antwoord????

carelk ·

JA! En soos ‘n paar ander goed ook, wat mens nie hier mag noem nie!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.