Mabuza maak die lewe vir Ramaphosa moeilik

Pres. Cyril Ramaphosa en adjunkpres. David Mabuza (Foto: GCIS)

Pres. Cyril Ramaphosa is besig om op die harde manier te leer hoe Bisantyns-geslepe die binnepolitiek van die ANC is – jy sien tans net lemme flits en die een met die hef in die hand is adjunkpresident David Mabuza.

Mabuza het dit nog altyd duidelik gemaak dat hy ANC-leier en president wil word – dit is sy doelwit en op die oog af sy enigste dryfveer. Hy het dit reeds voor die ANC-leiersverkiesing van 2017 in Nasrec duidelik gemaak dat hy die ANC-leier sou ondersteun wat vir die ANC die beste kans skep om die 2019-verkiesing te wen. Hy het ook aan joernaliste gesê hy gee nie om wie ANC-leier word nie, solank hy die onderleier word.

In albei hierdie doelwitte het Mabuza geslaag – Ramaphosa het die ANC van ‘n verkiesingsramp gered en Mabuza is ANC-onderleier, wat hom in ‘n puik posisie plaas om kragtens ANC-tradisie Ramaphosa se opvolger as president te wees. Dit het hy reggekry deur beheer uit te oefen oor sowat 300 stemme uit Mpumalanga by die Nasrec-konferensie, want daardie stemme was die verskil tussen wen en verloor vir Ramaphosa, wat met ‘n meerderheid van slegs 179 stemme uit ‘n totaal van sowat 4 500 verkies is.

Nou is die vraag hoe lank Mabuza gaan wag voor hy die derde fase van sy plan in werking stel – om president te probeer word. Vandeesweek se aanduidings is dat hy vinniger wil toeslaan, nie stadiger nie.

Op die oog af was Mabuza se versoek om nie as parlementslid ingehuldig te word nie, ‘n onverwags edele handeling om die president nie in die skande te steek of onder druk te plaas terwyl hy vir misdrywe ondersoek word deur die ANC se integriteitskommissie nie. Hy wil sy naam skoon kry, het hy aangevoer. Maar toe, teen Vrydag, begin hy die integriteitskommissie dreig dat hulle nou die ondersoek teen hom moet afhandel, en gou ook. Die integriteitskommissie het hom nie laat afdreig nie, maar het wel Vrydagaand onderhoude ter opklaring gedoen met Mabuza en die minister van minerale hulpbronne, Gwede Mantashe, wat as nasionale voorsitter die derde posisie in die ANC-hiërargie vul en (anders as Mabuza) een van Ramaphosa se getroue volgelinge en vertrouelinge is.

Nou wil dit voorkom asof Mabuza nogmaals sy deuntjie verander het. Hy wil nou luidens mediaberigte en ander terugvoer glo glad nie meer as parlementslid of adjunkpresident dien nie, maar eerder vir die ANC in die ANC-hoofkwartier, Luthuli-huis, gaan werk.

As daardie berigte en gerugte waar is, en as Mabuza se driepuntplan soos hierbo verduidelik steeds van krag is (toegegee, dis ‘n paar groot asse), sou ‘n posisie in Luthuli-huis hom in die perfekte posisie plaas om Ramaphosa by die volgende geleentheid uit te daag, want die organisasie, stigting en oudit van die takke wat afgevaardigdes na die nasionale algemene raad van die ANC in Julie volgende jaar gaan stuur, word uit Luthuli-huis gedoen.

Daardie nasionale algemene raad, wat bestek moet opneem van ANC-beleidsuitvoering sedert die Nasrec-konferensie, kan Ramaphosa se triomf of sy swanesang word.

Soos hulle deesdae so lief is om in die ANC te sê: Hou hierdie spasie dop!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Mabuza is duidelik besig met n kaartspel – wat nogal herinner aan “Poker”. Lyk of hy tans met een OVS Ace in sy hand sit! Ontplooiing na Ntuli huis kan sy hand beslis sterK. Saam met me. Mokonyane, wat gaan help om die plooie by Ntuli-huis uit te stryk, kry hy nog een by. Met me Duarte ook daar, sal sy/hul hand redelik sterk staan. Miskien moet pres CR vir mnr Mantashe soontoe “pos” om daar as “Dealer” te gaan optree sodat die kaarte beter versprei kan word na n goeie skommeling. Mnr Mantashe behoort, met sy geduld, ook daarvan te hou om die “patience” kaartspel te speel! l (never a dull moment in the a and sea!?

John ·

Die ANC sit duidelik opgeskeep met ‘n hele spul boelies… dit sluit antie-tannies in. Die huidige OB + Mabusa + Gordhan + Ace + dr Zuma (hoekom die eks van behou as sy so selfstandig is?) + antie-kougom-Sassa + al die ander wat glo dat hulle so onmisbaar is, kan maar gaan. Hoe gouer CR die bosluise afgooi, hoe gouer sal die skindernuus opdroog.

Pietman ·

Dink nie Cyril gaan met gevoude hande sit nie – dalk ‘n Zondo kommissie van ondersoek na Mabuza se rekord in Mpumalanga?

Onnie ·

Mabuza is n Klein Zuma. Hy verraai ons lag-lag. Pasop SA, hier kom moeilikheid. Hy sal soos Zuma sekermaak dat die grondwet hom teen vervolging beskerm, en van sy korrupte dade sal daar niks kom nie. Zuma lag alweer vir ons.

Anoniem ·

Ja President Ramaphosa, nou sal Jy Jou party-genote se ware lojaliteit ERVAAR ! (elkeen baklei net vir sy eie pond vleis)

Hansie Slim ·

Met Ace en Mabuza in Luthuli-huis wat die kataar slaan, kan hulle CR herroep?
Dan is daar groot probleme!!!

Adam ·

Mabuza is ‘n Zuma “Mini-me”, net meer intelligent en nog meer geslepe. President Ramaphosa se posisie is nie sterk genoeg in die hoogste echelons nie en dit is in sy eie en SA se belang dat hy vir eens en vir altyd ‘n paar borshare groei en van die Zuma meelopers ontslae raak.

Saint ·

Hansie Slim,
CR sal baie slim moet wees in die volgende twee jaar, anders dreig “mosies van wantroue” en kort daarna “herroeping”.
Dit het nou gevestigde praktyk geword – eers met Mbeki en daarna met JZ.

ANC beteken = jy kan nie skuldig wees nie. Ek moet jou beskerm “because you are my brother”!!!!

Elsie Riekert ·

Baie politici vergeet dat ‘n leier gesag van God kry. Hulle moet voor Hom verantwoording doen. Uiteindelik sal elke knie voor Hom moet buig en almal sal moet erken dat Hy God is. Dan is al die rugstekery op ‘n end. Ons moet bid dat verstandige besluite geneem word. Nou is die besluit voorop i.v.m. wie visepresident word. Want as CR uit die weg geruim word…….ek sidder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.