Mabuza maan Eskom oor instandhouding

Argieffoto (Foto: baptisteh, Pixabay)

Adjunkpresident David Mabuza het vanmiddag in die parlement gesê Eskom is deur die regering opdrag gegee om spesifiek versigtig om te sien na sy kragstasies, want swak instandhouding is een van die redes waarom die kragvoorsiener tans in so ‘n penarie is.

Mabuza het tydens vraetyd in die Nasionale Raad van Provinsies eers die Springbokke gehuldig om hul sukses, hul rol in versoening en die feit dat hulle ons herinner het dat ons die reënboognasie is voordat hy ‘n lang uiteensetting gegee het van die land se energie-uitdagings, en beklemtoon het dat dit vooruitsigte op ekonomiese groei lamlê.

Eskom is egter nou sleutelaanwysers en -doelwitte gegee om uit die put te kom, waarvan die beter beskerming en instandhouding van bates ‘n belangrike onderdeel is. Dit sluit nie net die instandhouding van kragstasies in nie, maar ook van die verspreidingsnetwerk, het Mabuza benadruk.

Die afdwing van ooreengekome standaarde en die terugkeer daarna waar dit ten gronde gegaan het, is ‘n verdere noodsaaklikheid, want die gevolge daarvan om dit nie te doen nie, is beurtkrag, aldus Mabuza.

Hy het uitgewys dat ongewilde keuses nodig is as Eskom weer volhoubaar wil wees. Dit sluit in strenger afdwinging van prestasievereistes van kragstasies, maar veral oorkoepelende strenger bestuur, waarvan die sleutel volgens die adjunkpresident te vinde is in die minister van openbare ondernemings, Pravin Gordhan, se nuutste omdraaiplan vir ekonomiese groei.

Mabuza het gesê hy is bewus daarvan dat die Gordhan-plan tans deur die publiek, groot sakereuse en vakbonde nagegaan word, en hy het daardie rolspelers gevra om dit te steun.

Voorts het hy Suid-Afrikaners gevra om die geintegreerde hulpbronneplan (IRP) na te gaan en aan te pas by die rol wat hernieubare energie soos son, wind en hidro-krag gaan speel om energie meer volhoubaar aan te wend.

Mabuza het nogmaals geen twyfel gelaat dat die regering nou wil oorslaan na ʼn kultuur van betaling vir regeringsdienste gelewer nie.

“Die kultuur van nie-betaling moet op sy herrie gegee word. Die tyd vir teenstand teen betaling is verby. Die gepeuter met kragnetwerke om onwettige verbindings daar te stel, is ook iets van die verlede. Munisipaliteite moet optree teen diegene wat die wet oortree. Die nuwe distrikstelsel sal daarmee help,” het Mabuza aangevoer.

Die EFF het gevra dat maatskappye wat buitensporige pryse vra vir steenkool vasgetrap word, maar was minder in hul skik toe Mabuza uitwys dat daardie maatskappye beweer hulle gaan werkers moet afdank as hulle op kleiner skaal vergoed gaan word.

Jaco Londt, DA-LP, wou weet of die regering oop kaarte speel oor die omvang van korrupsie binne Eskom. Mabuza het gesê dit is waarvoor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping daargestel is – om al die feite aan die lig te bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Feite ·

Die ANC het die rand laat val vir die ANC en nou spartel die ANC om die rand op te tel vir die ANC. Wees gewaarsku dat hierdie n rewolusionere proses is wat homself in die toekoms sal herhaal totdat die ANC volle politieke mag en ekonomiese beheer het!

Die verlore skaap ·

Gelukkig kan die res van die wereld nou duidelik sien wat hulle uitverkose regering aangevang het…..Junk Status agv korrusie.

Maans ·

Julle as die anc het niks instand gehou vir die laaste vyf en twintig jaar. Dit is nie net Eskom wat uitmekaar val nie maar omtrent alles in die land. Lyk my al wat nie uitmekaar val is die karre wat die kaders so gereeld kan koop

KrokodilBotha ·

Mooi so mabuza. Ons kannie wag vir die nuutste welvaart nie. Die rugby tokkolos bring alweer n reenboog.

KO ·

Na 25 jaar besef Eskom hy moet instandhouding doen op toerusting, asb.

Peet ·

Groot deel van hagelikke toestand van Eskom infrastruktuur is die honderde persone in Eskom in en om hulle hoofkantoor “werk” teen astranomiese salarisse. Terwyl op die platteland faal infrastruktuur teen spoed van lig.
Enigste oplossing is drastiese snoeiwerk en ‘n letterlikke weermag wat ontwettige aansluitings vernietig. Dan mr Ramaposa kan die land werklik euforia geniet – van ‘n lewenslange diens en belastingbetaler.Die lg griep se ontevredenheid en aggresie raak krities.

Gert@Midstream Centurion ·

Die regering het opdrag gegee. Wat ‘n belaglike aankondiging. Die regering is verantwoordelik vir alle infrastruktuur instandhouding ten einde die landsburgers volgens grondwet te dien. Uit en klaar. Die verwydering van knap en toegeruste persone is deur regstellende bestuur tot in die grond gedryf. By verskillende geleenthede is ondersteuning ter verbetering van iutsette aangebied. Wat het fout gegaan? Gevolge is meer negatief as voordelig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.