Mabuza moet vertel oor Russiese reis

Adj.pres. David Mabuza. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Die poppe kan vanmiddag dans in die parlement se Nasionale Raad van Provinsies wanneer adj.pres. David Mabuza moet verduidelik of hy tydens sy onlangse besoek aan Moskou ʼn moontlike kernkragooreenkoms met Rusland bespreek het.

Me. Bronwynne Engelbrecht (DA, Gauteng) sal aan Mabuza vra wat bespreek is met pres. Wladimir Poetin en die Russiese regering ten opsigte van ʼn kernooreenkoms, of enige huidige en/of toekomstige ooreenkomste met betrekking tot kernkrag aangegaan is, en indien wel, wat die besonderhede is.

In ʼn minder uitdagende vraag aan Mabuza wil mnr. SJ Mohai (ANC, Vrystaat) weet of daar enige planne is om die regering se gemeenskapswerkprojek as veiligheidsnet vir arm mense uit te brei.

Mnr. MM Chabaku (EFF, Vrystaat) gaan krap in die byenes van baantjies vir boeties met die regering se uitgebreide openbarewerkeprogram met ʼn vraag oor watter stappe gedoen gaan word om die program billiker te maak.

Me. ZV Ncitha (ANC, Oos-Kaap) sal vra oor vordering met grondhervorming, ʼn kwessie wat verder gevoer sal word deur die vraag van mev. Cathy Labuschagne (DA, Wes-Kaap) oor die ANC-regering se standpunt om individuele eiendomsreg aan inwoners van gemeenskaplike gebiede te gee.

Die laaste vraag van die dag behoort aan dr. HE Mateme (ANC, Limpopo) en handel oor planne vir plaaslike werkskepping voortspruitend uit die vierde nywerheidsrewolusie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.