Mabuza ‘onbevoeg, onbetroubaar’ om entstofprogram te bestuur

Adj.pres. David Mabuza. (Foto: Jairus Mmutle/GCIS)

Die DA sê hy glo nie adj.pres. David Mabuza, wat pas aangestel is om die land se interministeriële taakspan oor die inwerkingstelling van Suid-Afrika se Covid-19-entstofprogram te lei, is “bevoeg” of “betroubaar” genoeg hiervoor nie.

Die kabinet het Dinsdag die daarstelling van die entstofkomitee oor inenting goedgekeur om te help met “vinnige besluitneming van alle betrokke departemente wat bydra tot die gladde inwerkingstelling van die entstofprogram”.

Mabuza is die voorsitter van die komitee wat weekliks sal vergader om verslae oor die program te ontvang en in te gryp by enige probleme wat tydens die inwerkingstelling kan opduik.

Pres. Cyril Ramaphosa sal as die voorsitter van die eerste vergadering optree.

Lede van die komitee sluit in verskeie ministers, onder wie dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, Tito Mboweni, minister van finansies, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, en Bheki Cele, minister van polisie.

Die kabinet sê die inentingsprogram is die sleutelingryping om die uitwerking van die Covid-19-pandemie op openbare gesondheid en die ekonomie teen te werk.

Siviwe Gwarube, die DA se woordvoerder oor gesondheid, sê egter Mabuza het ʼn lang lys bestuursmislukkings agter sy naam.

“As premier van Mpumalanga het Mabuza die provinsie soos sy eie koninkryk bestuur waar korrupsie, politieke geweld en die algehele ineenstorting van die staat ʼn blywende nalatenskap in die provinsie is. Hy dien tans as voorsitter van die politieke taakspan oor Eskom, ʼn posisie waarin hy klaaglik misluk het. Suid-Afrika is nie eens naby energiesekerheid sedert Mabuza aan boord gekom het nie; inteendeeldeel, ons is verder in duisternis gedompel,” sê Gwarube.

“Mabuza was in wese ʼn afwesige adjunkpresident sedert die uitbreking van die Covid-19-krisis. Terwyl Suid-Afrikaners na die regering gekyk het om leierskap te wys, het Mabuza die afgelope tien maande weggekruip.”

Gwarube sê dit is dus ondenkbaar dat Ramaphosa een van die belangrikste take in Suid-Afrika se demokratiese bestel in die hande los “van ʼn man wat glo nie net korrup is nie, maar duidelik onbevoeg is om toesig oor ʼn program van dié omvang te hou”.

Die DA sê die besluit om Mabuza aan te stel bewys die land se entstofprogram gaan nie meer daaroor om lewens te red nie, maar oor politieke alliansies binne die ANC.

Sy sê dit kan gesien word in die feit dat Ramaphosa die aankondiging op die ANC se Progressiewe Sakeforum gedoen het, eerder as op ʼn gepaste regeringskanaal in sy hoedanigheid as staatshoof.

“Die Suid-Afrikaanse regering het self erken hy het Suid-Afrikaners in die steek gelaat deur die geknoei met die entstofproses. Die aanstelling van David Mabuza is net nog ʼn voorbeeld van hoe hierdie regering nie die gesondheid en veiligheid van sy mense prioritiseer nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

19 Kommentare

Pieter ·

Wys my wie in die ANC is bevoeg die hele lot is een groot grap.

Baardman ·

Ek skud net my kop, die mees onbevoegde ministers dien op die komitee. Wat is die doel van oppisisiepartye as hulle nie deel kan wees van sulke komitees nie?

Alet ·

Hierdie komitee moet ons bang maak. Kyk na die name daar. Dis die persone wat die land regeer. Nie die anc of die regering nie.

Connie ·

Ag asb kry tog bevoegte mense om die taak te doen. Die wat gekies is, is duidelik on bevoeg, kyk net na die besluite wat hulle maak. Asb waar is die ander partye hoekom is hulle nie ook betrokke nie. Hoekom moet alles altyd net anc wees, om vir ons verder te bewys hoe onbevoeg hulle is.

Genis ·

Ou Cyril was as deputy president net so onbevoeg…kyk waar is die maat vandag… kom ons wees eerlik daar is nie een ANC Kader wat iets beteken nie…

Ou bees ·

Hulle vee hulle af aan die DA of enige ander want soos hulle wil so wil hulle want hulle kan en is almal ewe verdag met alles

Bertus ·

Gebruik die SANW om entstof na verspredingspunte te vervoer. Die SANW is landwyd gestasioneer. Kort net beplanning en bestuur.

Jacobus ·

Shame die ou het nog nie geleentheid gehad om sy hand in die “jam pot” te kry nie. Spel ‘n ramp. Kry tog professionele bevoegdes wat weet wat om te doen. Die ding het nou ‘n onwelriekende magspeletjie geword.

Rosie ·

Nee dankie ek hou verby ek soek nie die vaccine nie. Hulle almal mag maar heel eerste ingeent word.

PH ·

” Bevoegdheid ” bestaan nie in die ANC se woordeskat nie. As jy in die ANC is kan jy enige job doen.

Androclus ·

Jy moet ‘n kriminele rekord dan kwalifiseer jy as lid vir die ANC.

Robbie ·

Nog ‘n onvermydelike ramp wag op ons. Alles wat dié mense aanraak, verander in ‘n gemors.

Natasha ·

Die komitee is ‘n grap! Niemand gaan ooit daai entstof sien nie nes die 566 biljoen!

JohanR ·

Ok ouens nou hoe kan ons groot geld vir ons self maak uit hierdie entstof? Is nou ons kans om weer by die trog te vreet!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.